Oligargie
- Frans Minnaar

- Jan 14
- 9 min read
Daar is ʼn Engelse spreekwoord wat sê: ‘Power corrupts, and absolute power corrupts absolutely.’
Soms kan die Rooinekke baie slim wees. Hierdie is een van daardie gevalle, want hierdie spreekwoord is een van die geldigste wat ek nog ooit teëgekom het; dit het my betrokkenheid by, my belewenis van, die Suid-Afrikaanse geskiedenis -in-wording my geleer.
Het u al ooit gehoor van ʼn staatsvorm bekend as ʼn oligargie? Demokrasie, totalitarisme, kommunisme, sosialisme, kapitalisme is bekende begrippe waarmee enige terloopse politieke waarnemer bekend is, maar oligargie is minder algemeen. Vroeër jare, in Victoriaanse tye en vroeër was dit veel meer algemeen beoefen (alhoewel ek nie weet of hulle dit op daardie tydstip noodwendig as sulks geterminologiseer het nie).
Die begrip ‘oligargie’ staan egter sentraal tot hierdie Kommentaar, daarom ag ek dit die moeite werd om dit vlugtig te verduidelik en te definieer.
ʼn Oligargie is ʼn staatsvorm waar ʼn klein groepie regerende elite die staatsgesag monopoliseer. Intern, binne die konteks van hierdie groepie regerende elite, mag daar selfs demokratiese prosesse beoefen word, maar die grootste gros, die meerderheid, van diegene waaroor regeer word, is uitgesluit; nie slegs van die geleentheid om ernstig mee te ding om staatsgesag nie, maar ook van enige betekenisvolle deelname aan potensiële demokratiese prosesse binne die kring van die regerende elite. Die Griekse stadstate van eeue terug was dikwels goeie voorbeelde van oligargieë; ʼn klein groepie regerende elite het die mag uitgeoefen, namens alle burgers; en daar was ‘vlakke’ van burgerskap.
Suid-Afrika gedurende die apartheidsjare was ʼn byna perfekte voorbeeld van ʼn oligargie; daar kan geen twyfel bestaan dat daar werklike en betekenisvolle demokrasie binne die geledere van die regerende elite was nie. Indien die Natte die meerderheid verteenwoordigers in die Parlement moes verloor, sou hulle vrywillig mag oorgegee het; daar was nooit enige aanduiding dat dit nie die geval was nie, en daar is by my geen twyfel dat dit die geval sou gewees het nie. Dit is presies wat byvoorbeeld in 1948 gebeur het, toe die Sappe vrywillig die mag aan die Natte oorhandig het omdat laasgenoemde die meerderheid Parlementslede verkies verkry het gedurende die algemene verkiesing van daardie betrokke jaar.
Die vlakke van burgerskap was immers duidelik: Heel bo-aan was Blanke mans, gevolg deur Blanke vrouens, dan Kleurlinge en Indiërs en dan Swart mense. Hierdie hiërargie was vasgelê in wetgewing, soos die Bevolkingsregistrasiewet en wetgewing gemik op werksreservering.
Maar, u sien, die kontekstuele belangrike punt hier is dat slegs die regerende elite (Blanke Suid-Afrikaners) toegang gehad het tot daardie demokratiese prosesse; die meerderheid van die bevolking (Swart Suid-Afrikaners) was uitgesluit van die demokratiese prosesse. Nadat die politieke demokraties prosesse binne die konteks van die regerende groepering afgehandel was, het die ‘wenner’, vanuit hoofde van sy monopolisering van die regerende groepie, dan almal (ook die groter geheel) (die totale land) regeer. Dit is ʼn oligargie.
In ʼn oligargie word ekonomiese (en die meeste van die beskikbare maatskaplike) ontwikkelings-geleenthede dan ook deur die regerende elite gemonopoliseer (ook, weereens, presies wat in die voor-1994 Suid-Afrika gebeur het).
In ʼn artikel op die webwerf van Newterk24 getiteld ‘Kongresse was klugspel’ (Tabane, 2015) lees ek ʼn interessante ontleding van die kongresse van die SAKP en Cosatu wat in Julie 2015 plaasgevind het. Daar is een sin in die betrokke artikel wat vir my die wesenlike van hierdie Kommentaar vasvang, naamlik: ‘… (H)ul (die SAKP en Cosuta se) tradisionele aartsvyande (is) nie meer groot geld en die heersersklas is soos van ouds nie. Deesdae is dit die regbank en die media.’
Die skrywer maak die baie insiggewende waarneming dat, op beide kongresse, die tradisionele aanvalle op die ‘heerserklas’ gestaak het; dat hierdie leiers hulle nie meer deur die afgevaardigdes se wense laat lei nie, maar voorskriftelik is aan die afgevaardigdes, en dat die vroeëre kommer oor die lot van die werkersklas nie geopenbaar was nie. Die skrywer voer dan aan dat die waarskynlike rede hiervoor die feit is dat hierdie organisasies ʼn besondere noue verbintenis met die regerende party het, en dat dit vir die loopbane van die vakbondleiers (en dié van die ANC) belangrik is om die ANC tevrede te hou. Sou die SAKP byvoorbeeld voortaan op sy eie verkiesings beveg, sal dit waarskynlik die einde beteken van Blade Nzimande, Senzeni Zokwana en Jeremy Cronin se insluiting in die Kabinet.
Suid-Afrika het weereens in ʼn oligargie beland; die werklike uitoefening van staatsgesag, die betekenisvolle demokratiese prosesse, en toegang tot rykdomskeppende geleenthede is vasgevang in ʼn klein groepie regerende elite. Dislojaliteit teenoor die leierskorps in die interne kring van hierdie groep beteken armoede en marginaliserende uitsluiting. Die enigste manier hoe mag in hierdie land verskuif kan word, is indien dit binne die konteks van hierdie groepie regerende elite sou gebeur.
Dit is ʼn probleem met bevrydingsorganisasies, hulle is geneig om in oligargieë te verval. Dit het gebeur in meeste van Afrika se state na kolonialisasie. Iets van Robert Mugabe se oortuiging dat (in sy geval ZANU PF) die reg het om vir ewig te regeer, op grond van hulle rol (en opofferings) gedurende die bevrydingsoorloë het diep neerslag gevind in hierdie voormalige bevrydingsbewegings.
Wat is die oligargiese hiërargie vandag in Suid-Afrika? Die stamverband van die (Swart) leier van die ANC, gevolg deur Swart mense, Kleurlinge, Indiërs, Swart mense van buite die land en dan Blanke Suid-Afrikaners. Hierdie ‘vlakke van burgerskap’ word geïmpliseer deur wetgewing soos Gelyke Indiensneming en Swart Ekonomiese Bemagtiging.
Geen oligargie is egter streng argaïes in die toepassing van die hiërargiese vlakke van burgerskap nie. Alhoewel ʼn mens geneig is om op simplistiese wyse na die ‘Swart’ regerende elite te verwys, is die (tipies aan ʼn oligargie) nie heeltemal so eenvoudig nie. Byvoorbeeld, die Guptas is van Indiër afkoms, maar is ongetwyfeld deel van die ‘regerende elite.’ Dit gaan nie werklik oor ras nie, alhoewel Suid-Afrika se model van oligargie onmiskenbare rasse elemente bevat. Dit gaan oor ʼn regerende elite wat staatsmag gebruik om geleenthede tot selfverryking en ontwikkeling intern (binne ʼn geslote kring) te monopoliseer.
Die een groot verskil tussen hierdie scenario en dié van die apartheidsregering, is dat hierdie groepie regerende elite (van die ANC) tans werklik en met reg nog daarop kan aanspraak maak dat hulle legitiem deur die meerderheid van die stemgeregtigde landsburgers verkies was (is). Daaroor is daar geen twyfel nie.
Of hulle hulle egter sal laat uitstem; wel, daaroor is daar geen duidelikheid nie – ons sal maar moet wag en sien. Persoonlik twyfel ek; ek dink die ANC (die regerende elite) het hulself sielkundig (en selfs, tot ʼn mate, logistiek) reeds begin voorberei op die ‘Zimbabwe oplossing’ (waar Robert Mugabe net doodeenvoudig geweier het om die verkiesingsuitslae te eerbiedig, die dag toe hy met ʼn nederlaag by die stembus gekonfronteer was, en daarna verkiesings brutaal en ongrondwetlik gemanipuleer het).
Die Ou Suid-Afrika was ʼn kolonialistiese oligargie; die Nuwe Suid-Afrika is ʼn demokratiese oligargie (wel, tot dusver, in elk geval – dit kan dalk binnekort ʼn despotiese oligargie word [hemele behoed ons!]).
Jy sien, dit is onmoontlik (let wel, ek sê nie moeilik nie – ek sê onmoontlik) om die interne werkinge van ʼn oligargie om te draai wanneer dit eers gevestig geraak het (‘Power corrupts, and absolute power corrupts absolutely’).
Die apartheid- oligargie was nie intern korrup nie; daar is geen betekenisvolle bewyse dat daar noemenswaardige korrupsie was in die geledere van die oligargiese regerende groep nie – ten spyte van die propagandistiese beweringe wat vandag so gemaklik in dié verband gemaak word. Maar, natuurlik, die onmenslike optrede van die oligargiese bestel per se was die ergste vorm van korrupsie.
Nietemin, die pogings om hierdie oligargie om te draai en intern te transformeer was ʼn mislukking (dink maar net aan die 1983 Grondwet, wat gelei het tot die Driekamer Parlement, die 1990 onderhandelinge – wat uiteindelik uitgeloop het op die vernietiging van die oligargiese bestel as sulks). Die rede daarvoor was dat die gevestigde belange in ʼn oligargie bedreig word deur die transformasie daarvan; uiteindelik impliseer die beëindiging van die oligargie ook die einde van die belange wat daarin vervleg is. Die geheim vir die voortbestaan van ʼn oligargie is om nooit te begin om dit te hervorm nie. Dit is presies wat Robert Mugabe gedoen het – met groot sukses. Maar natuurlik, die keersy van daardie munt is dat jy dan gevaar staan om deur die rewolusionêre magte van die benadeeldes verswelg te word.
Dink net, as daar iets soos 700 aanklagte van korrupsie oor jou kop hang, is dit duidelik dat korrupsie vir jou ʼn lewenswyse, ʼn alledaagse aktiwiteit, ʼn paradigmatiese denk – en besluitnemingswyse geword het – jy kan nie meer daarvan gespeen word nie. Wat jou beskut teen die aaklige implikasies daarvan, is jou koestering binne die kring van die regerende elite. Maar jy kan dit ook nie waag om buite die beskermende dampkring van die regerende elite te waag nie, want dan gaan die wrokkigheid (en doodeenvoudig die werklikheid van globale waardes en normale, insluitende regswaardes – en norme (ook dié van die breër gemeenskap)) jou tref. Dit was so in die geval van apartheid, en dit is so met die ANC-verwante regerende elite vandag.
As jy eers een keer die soet nektar van die rykdom wat saamgaan met die binnekring van die regerende elite in ʼn oligargie geproe het, is dit sielkundig feitlik onmoontlik om daarmee te breek. Selfs FW de Klerk het aanvanklik eintlik maar planne gehad om die belange van die oligargie binne ʼn onderhandelde skikking met die breër gemeenskap te verskans. Dit het nie gewerk nie, want hy het die kardinale fout vir ʼn oligargie gemaak, die doodsonde – hy het dit probeer hervorm. ʼn Oligargie kan nie hervorm word nie, want die oomblik wanneer dit die breër gemeenskap inlaat, neem die natuurlike werklikhede (en kragte) van getalle-werklikhede oor. Dan kom die oligargie vir alle praktiese doeleindes tot ʼn einde, en ʼn demokrasie kom tot stand.
Die probleem is dat hierdie demokrasie dikwels uitgebuit word as ʼn ‘oorgangsfase’ na ʼn her-gedefinieerde oligargie.
Maar wat is dan die verskil tussen ʼn oligargie en ʼn despotiese staatsbestel? Vir my is die enkel grootste verskil dat, in ʼn diktatuur, die mag meestal op openlik drakoniese wyse deur ʼn enkele persoon (of familie) uitgeoefen word, sonder om eens te probeer voorgee dat hulle demokraties en verdraagsaam teenoor die breër samelewing is. Oligargiese state toon wel kenmerke van empatie teenoor die breër gemeenskap, laat opposisie toe vir solank dit nie die oligargie wesenlik bedreig nie, en is bereid om ideologiese afsydigheid te verdra. Kuba en Noord-Korea is ongetwyfeld diktature. Zimbabwe het tot ʼn mate oorgegaan van ʼn oligargie na ʼn diktatuur, alhoewel daar nog ʼn mate van opposisie toegelaat word.
In ʼn uiterse vorm van hierdie verskynsel, word daar soms, tot ʼn mate regtens, beweer dat die VSA ʼn oligargie is, omdat die werklike mag uitgeoefen word deur ʼn klein groepie elite wat (veral deur toegang tot geld en politieke geleenthede) verkiesings en die instrumente van staatsgesag in daardie land monopoliseer. Byvoorbeeld, vir jare lank het die Clintons en die Bush0fmailie die Demokratiese en Republikeinse Partye se nominasies as Presidentskandidaat oor heers. Net so is daar geen twyfel nie dat van die rykste individue en maatskappye in daardie land indirekte toegang tot staatsgesag verkry deur hulle invloed op Presidente en Kongreslede danksy die enorme bedrae geld wat hulle bydrae tot die verkiesing van hierdie persone beklee met staatsgesag.
(Hierdie argument is egter ʼn bietjie te vergesog om geloogwaardig te wees, en die VSA kan nie in die ware sin van die woord as ʼn oligargie geklassifiseer word nie – dit is ʼn funksionerende demokrasie en republiek. Nietemin, die argument is interessant en insiggewend [en tog ook effentjies waar]).
In werklik demokratiese state, soos die VSA en Europa, wissel magshebbers deurlopend (Ministers word vervang, en politieke partye word in – en uitgestem). Individue is selde lank genoeg in posisies van mag om genoegsame geleentheid te kry om oligargie- tipe institusionele belange op te bou. Belangriker nog, hulle is nooit lank genoeg in ʼn institusionele posisie van mag om die nodige beskuttende belange-afhanklike strukture op te bou wat noodsaaklik is om ʼn oligargie in stand te hou nie. Die politieke prosesse wat effektief en doeltreffend funksioneer verseker dat politici (magshebbers) deurlopend onder die skadu van betekenisvolle verantwoordingdoening moet optree, welwetende dat hulle enige dag vervang kan word – of die gevolge van hulle wandade sal moet dra.
Dit is nie die geval in ʼn oligargie nie, waar verantwoordingdoening meestal intern, binne die konteks van die regerende elite, plaasvind. In ʼn oligargie is die regerende elite vir alle praktiese doeleindes uitgesluit van die sanksies wat vir die breër bevolking geld. (Let wel, ek sê nie hulle is totaal uitgesluit van alle sanksies nie; slegs maar dat daardie sanksies verskil van die wat vir die breër bevolking geld – en meestal verantwoordingdoening teenoor die interne kring, eerder as die instellings wat die breër bevolking dien impliseer). Daar is geen werklike noodsaak om te vrees vir die gevolge van jou dade teenoor die breër gemeenskap nie, want daar is geen werklike vrees vir die reaksie van die groter geheel, buite die oligargiese konteks nie. (Jou optrede teenoor lede van die oligargiese binnekring is ʼn totaal ander storie).
Wat derhalwe wel van deurslaggewende belang is, is om die lojaliteit van die oligargie te behou. In die apartheidbestel was dit hoofsaaklik Afrikaner kiesers; tans is dit hoofsaaklik die ANC binnekring. Gedurende apartheid was die ‘beloning’ geweldige ontwikkeling (deur die toewysing van staatshulpbronne) van Afrikaners; vandag is dit kader- ontplooiing en geweldige rykdom vir diegene wat deel is van die regerende elite.
Dit is die tendens in hierdie land: Die werklike magspel, die stryd om geleenthede (veral binne die geledere van Swart Suid-Afrika) vind plaas in ʼn oligargiese verband, binne die geledere van ʼn klein groepie regerende elite. Jou lot, die verskil tussen rykdom en armoede, word bepaal, nie deur vermoëns of bewese prestasie nie, maar deur bewese lojaliteit aan diegene wat die oligargiese binnekring beheer. Hoe anders kan jy die aanstellings van die “briljante” (matrieklose) Hlaudi Motsoeneng's verklaar – of dié van advokate Nomgcobo Jiba Lawrence Mrwebi (wat intussen as advokate geskors is) (om maar twee gevalle te noem uit ʼn lang, lang lys)?
Hierdie artickel was in 2015 geskryf.
Verwysing
Tabane, R. (2015, Julie 17). Kongresse was klugspel van voorgee. Retrieved from Netwerk24: http://www.netwerk24.com/stemme/2015-07-17-rapule-tabane-kongresse-was-klugspel-van-voorgee
Skrywer: Frans Minnaar
Prentjiebron: 123RF



Comments