top of page

Die tyd het aangebreek vir Afrikaners om hulself polities te speen van die DA

Die oorgrote meerderheid Afrikaners het die afgelope 32 jaar vir die Demokratiese Alliansie gestem; wel, om meer korrek te wees, hulle het vir die voormalige Nasionale Party gestem, totdat Kortbroek Van Schalkwyk dit finaal vernietig het, en soos sy mede Afrikanerleiers van die tyd, Roelf Meyer, Theuns Eloff, en Pik Botha, in boesem van die ANC se sagte arms (Kabinetposte en wêreldwye vererig) tot ruste gekom het.

Maar, vir gewone Afrikaners, het die stryd toe maar begin. Een ding waaroor ek spyt is vanuit daardie tyd, vir myself, is die ongelooflike selfsug, die vrees wat ly tot konformasie, wat jou horende doof en sienend blind maak oor wat besig is om om jou te gebeur. Goeie kwalifikasies, ʼn geborge pos in die staatsdiens, en later jare ʼn loopbaan as onafhanklike bestuurskonsultant wat aanvanklik baie goed gegaan het, het my blind gemaak vir diegene wat so vroeg as in die negentig jare al die skerp kant van die politiek oorgawe wat gelei het tot ANC dominasie gevoel het.

Aanvanklik was die intensiteit van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging waaraan ek blootgestel was, hanteerbaar. Ek was bewus daarvan dat ek bevordering op meriete ontsê was oor my ras, en, later, dat daar vele staatstenders was wat op meriete aan my maatskappy toegeken moes word, maar wat ek verloor het oor die diskriminasie in die ekonomie. Ek was bewus daarvan dat “BBBEE-compliant” maatskappye en individue tien maal meer vir dieselfde werk betaal was as ek, en ook dat die gehalte van daardie werk gelewer tien maal swakker was as wat ek sou aanbiede. Maar nog steeds, dit het nietemin goed gegaan, en my gevoel was een van “don’t rock the boat.”

Om my egter het ek begin waarneem hoe die omgewing verval. In meer welvarende gebiede kon die inwoners en eienaars assosiasies stig, of hulle persoonlike finansiële vermoëns gebruik, om totale verval te verhoed. Maar in arm gebiede het die verval totaal oorgeneem. Strate het opgebreek, donkerte het oorgeneem soos beide instandhouding van die straatligte, sowel as betroubare elektrisiteitsvoorsiening agteruit gegaan, en toe in toestande van totale verval gegaan het. In hierdie omstandighede het misdaad totaal buite beheer geraak.

Die ergste was egter dit: Blanke Suid-Afrikaners, uiters bekwaam, van die beste tegnici en administrateurs wat duie wêreld gehad het om aan te bied, is op suiwer rassistiese redes weggejaag uit die staatsdiens, munisipaliteite en staatsbeheerde maatskappye. Die mense wat die sout van die aarde was, wat hierdie land se kritieke infrastruktuur in stand gehou het, en wat in hierdie minder gegoede gebiede van die stede gebly het, het hulle werk, en inkomste verloor. Alles het verval: Hulle lewens, hulle gesinne, hulle vooruitsigte en hulle fisiese omstandighede. Met geen realistiese kans op verbetering of herstel nie. Stiksienige “regstelling” het net deurlopend vererger.

Afrikaners het munisipaliteite in hierdie land briljant bestuur en regeer, dertig, 35 jaar terug. Hoekom is daar so min Afrikaners onder die top DA gonomineerdes? Die rede is eenvoudig: Die DA maak fragrant misbruik van Afrikaners; nie om posisies te beklee nie, maar om, deur hulle stem, posisie vir hulle kaders te skep.

In middelklas woonbuurte het mense desperaat begin om links-en-regs hulle eie besighede te begin, net om te oorleef en ʼn skynsel van hulle vroeëre lewenswyse te kan handhaaf. Sommige het goed gedoen, en baie ryk geword. Die meerderheid het misluk, of skaars oorleef. As gevolg van hulle ras, en hulle klassifikasie as “voorheen bevoordeeldes” was alle regeringshulp onmiddellik afgesny; besigheidshulp, sowel as maatskaplike hulp.

Die Suid-Afrikaanse regering is rassisties en ideologies verbonde aan die marginalisering van diegene wat hulle as “die vyand” klassifiseer. Daar is slegs een wyse waarop jy die Suid-Afrikaanse regering se beleid en optrede as nie-rassig kan erken, en dit as jy aanvaar dat Blanke Suid-Afrikaners, as gevolg van “historiese skuld” nie in die definisie ingesluit word om “ras” te klassifiseer nie. Met ander woorde, hulle is “iets” wat, op grond van historiese skuld, nie kan aanspraak maak op gelykwaardige statutêre erkenning nie.

Na 1994 was Afrikaners ontmatig, weerloos teen rasse, - kulturele, - en ekonomies marginalisering. Hierdie weerloosheid het ingesluit totale internasionale ontkenning van selfs die moontlikheid dat Afrikaners “slagoffers” van rassisme kan wees. Meer nog, en belangrik vir die doeleindes van my argumente in hierdie artikel: Dit het ook ingesluit argelose, minagtende ontkenning in die Demokratiese Alliansie van die diskriminasie teen Afrikaners.

Afrikaners het sedert 1999 deurlopend en in massas vir die Demokratiese Party gestem; nie omdat die party, wat gelei was deur die leierskap van die voormalige Demokratiese Party, werklik hulle ideologiese oriëntasie van Liberalisme gedeel het nie, maar omdat hulle verlore was na die verlies van staatsmag en die vinnig ontvouende rasse diskriminasie wat teen hulle gepleeg was. Ek sê nie dit geld vir alle Afrikaners nie; ek sê wel dit geld vir die meerderheid Afrikaners.

Afrikaners het kanonvoer geword; die DA se leierskap kon letterlik doen net wat hulle woud, hulle kon staatmaak op die stemme van Afrikaners, omdat die Afrikaners geen ander keuse gehad het as om vir hulle te stem nie. Die stilswyende argument was altyd: “Julle het geen ander keuse as om vir ons te stem nie, want al is ons wat ook al, ons is steeds beter as die ANC.”

Ek sê Afrikaners moet hulle speen van die DA. Die DA word gelei deur Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners wat geen plan het om Afrikaners dieper in die organisasie en leierskap van die party te betrek nie. Kyk maar na die DA se leiers sedert 1994: Tony Leon (Engelssprekend, liberaal), Helen Zille (Engelssprekend, liberaal), Mmusi Maimane (openlik ten gunste van rasse diskriminasie teen Afrikaners) en John Steenhuisen (Engelsprekend, en as Minister van Landbou vaardig hy die een-na-die ander regulasie uit wat diskriminasie teen Afrikaners impliseer). Daar is nie ʼn enkele Afrikaner in die top leierskap van die DA waarvan ek weet nie. Nou wat dan van die jarelange lojale ondersteuning, met tye toe Afrikaners die kern van die DA se ondersteuners uitgemaak het? Die antwoord is, soos in die res van die land, het Afrikaners slegs minagting vir hulle lojaliteit ontvang, nie waardig om erkenning te geniet nie

Hoe lank is u (en na u, u kinders) van plan om in hierdie land te bly? Gaan dit nou-maar die norm wees, vir tyd en ewigheid: Afrikaners is histories so besmet dat ons altyd maar sal gatkruip om “die ergste wat kan gebeur” te probeer voorkom? Ons het nie apartheid ingestel, beofoon, onderhou of daaruit voordeel getrek nie (behalwe miskien ver diegene wat nou in hulle tagtigs is). Ons moet ons waardigheid begin terugeis.

Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners dink anders as ons; dit is waarom daar so ʼn intense stryd na 1910 tussen Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners was. Hulle lewensbeskouing is baie meer liberaal. ʼn Veel groter persentasie van hulle het dubbele burgerskap, en kan die land verlaat sodra dinge erg verkeerd loop vir hulle en hulle families. Hulle deel nie ons kommer oor die marginalisering van Afrikaans, of oor die vernietig van ons kultuur-historiese simbole in die land nie. In baie opsigte het vele van hulle hulle stilswyende narratief van meerderwaardigheid teenoor Afrikaners behou. Dit rig en lei die DA om hulle belange te bevorder, nie om Afrikaners te beskerm of te versterk nie.

Gordon Hill Lewis is linksgesind. Hy bevind hom aan die linkerkant van die Demokratiese Alliansie. Hy het geen voorneme om in die belang van Afrikaners op te tree, of om te poog om die marginalisering van, of diskriminasie teen Afrikaners, op ekonomiese, of kulturele gebied, te beveg nie. Alhoewel hy ontwykend is in sy uitsprake rondom regstellende aksie, is daar geen twyfel dat Lewis ideologie simpatie het met sogenaamde DEI (diversity, equity, inclusion – of dan “regstellende aksie”) nie. Met ander woorde, voortgesette diskriminasie teen Afrikaners.

Is u werklik, diep in u hart, oortuig daarvan dat ʼn DA regering u lot in hierdie land, in terme van alles wat vir u saakmaak, gaan verbeter? Gaan dit rassediskriminasie stopsit? Gaan dit tot ekonomiese groei lei, waarin u en u geliefdes gaan deel (en nie uitgesluit gaan word op grond van “regstelling” nie)?

Daar was ʼn rede hoekom ons voorouers nie tevrede was om ʼn Engelssprekende gedomineerde regering oor hulle te aanvaar nie. Daardie redes het nie wesenlik verander nie.

Afrikaners is te min in getalle om te hoop, of te verwag, om ooit deur konvensionele politiek hulle waardigheid terug te wen, of hulle regte te herwin. Dit sal buiteparlementêre gedoen moet word. Maar ʼn goeie begin sal wees om weg te breek van die emosionele afhanklikheid van ʼn politieke groepering wat nie ons waardes deel nie, nie dink soos ons nie, en geen werklike belangstelkl8ng het in ons omstandighede, anders as ʼn kleiner-wordende poel van stemme nie.

Watter voordeel trek u uit u ondersteuning vir “die sterkste opposisieparty”? U steun het vir hulle ʼn paar Ministers poste verseker, wat hulle nou nie gebruik om u omstandighede te verbeter nie, maar om die Blou Ligte te beskerm, om Afrikaans in onderwys te vernietig, om teen boere te diskrimineer op grond van ras, om skielik onteiening sonder vergoeding te regverdig. Dit lyk self vir my asof hulle deesdae geesdriftige ondersteuners is van die vernietiging en verwydering van Afrikaner simboliek.

Kyk, die ANC gaan nie meer vir u toegee omdat die verteenwoordiger waarvoor u gestem het, ʼn lid van die DA is nie. As gevolg van die haat teen die DA in die ANC, EFF en MKP, gebeur net die teenoorgestelde; die opsetlike diskriminasie intensiveer juis omdat dit die DA is wat iets doen, of wil hê. Tweedens gaan geen van die rasse-en kulturele diskriminasie teen Afrikaners verdwyn of verbeter as die DA daarin sou slaag om nasionaal, of in stede en dorpe die bewind oor te neem nie. Indien dit gebeur, sal dit met die ondersteuning wees van kiesers wat van hulle sal verwag om soortgelyke rassebeleid in plek te stel en te beoefen. Die DA het reeds bewys dat dit presies die pad is wat hulle tans loop.

Stede soos Johannesburg, Tshwane en Mangaung sal nie deur die DA reggeruk kan word nie, want hierdie stede is reeds te ver vernietig. Die administrasie het nie die geld of intellektuele kapitaal om hulle “reg te ruk nie”. Die misdaadbendes in hierdie stede gaan nie net verdwyn nie, hulle gaan bloot hergroepeer.

Die tyd het aangebreek vir Afrikaners om hulself polities te speen van die DA.


Prentjiebron: 123RF

Frans Minnaar © Copyright. 2026. All rights reserved.

The Terms of Use for this website can be accessed by clicking on the link below. If you don't agree to these terms, please leave the site without further use thereof.

The website's policies to protect personal information and privacy can be read by clicking on the link below.

bottom of page