top of page

Die ANC en Suid-Afrika se internasionale verhoudinge: Ideologie het getriomfeer

Moenie ʼn fout maak nie. Die ANC weet presies wat hulle doen, en wat die implikasies vir Suid-Afrika kan wees. Hulle het reeds ʼn keuse gemaak; die gevolge verdiskonteer, en dienooreenkomstig gekondisioneer. Moenie dink, vir ʼn oomblik, dat hulle nie weet wat hulle doen nie, of wat die gevolge van hulle optrede en uitsprake kan wees nie; hulle weet, maar, ten spyte daarvan, gaan hulle voort daarmee.

Ek praat van die ANC se betrokkenheid by internasionale konflikte, en hulle deurlopende ondersteuning aan die vyande van die Weste. Die X-plasing hieronder is maar slegs een van die mees onlangse voorbeelde.































Die ANC is ʼn Sosialistiese Rewolusionêre Beweging wat, nadat dit regeringsmag bekom het, omgeskakel was in ʼn Mafia- tipe misdaadbeweging  wat ten doel het om kaders te bevoordeel deur gebruikmaking van die staat, die mag van die staat, en die hulpbronne beskikbaar gestel deur die staat. Hulle het selfs ʼn aanspreekvorm wat hierdie dualistiese eienskappe van rewolusie en ʼn Mafia- bende reflekteer: Hulle noem mekaar “Comrades.”

Maar moenie vir ʼn oomblik ʼn fout maak nie; die wese van die ANC is Ideologie. Selfs tenderpreneurskap en kader- ontplooiing is boustene van die ANC se ideologiese raamwerk.

Het u al opgemerk hoe alles wat gevestig word om iets in die staatsdiens te bereik, gemilitariseer word? Alles is ʼn “war-room” (ʼn oorlogkamer). Hoekom op dees aarde kan dit nie maar net ʼn kommissie, of taakspan, of iets soortgelyks, administratief en burgerlik, genoem word nie? Aan die linkerkant van die ANC gaan dit nog erger. Dit is net “fighters” en “commaders” links en regs, op tot by die vlak van die “Commander-in-Chief”. Hierdie tipe taal is tipies van lande en regerings waar die dominante politieke gesag hulself as die resultaat van “rewolusie” sien, en waar die rewolusie nooit heeltemal tot ʼn einde kom nie. Dit is gewoonlik een van die belangrikste en mees kenmerkende manifestasies van ʼn Ideologiese staat, wat insluit Kuba, Venezuela en Iran.

Die ANC se wortels lê in Sosialisme en rewolusie. Hulle tradisionele vriende in die wêreld was Kuba, die voormalige Sowjetunie en eintlik maar, as ʼn algemene reël, die lande in die wêreld wat die VSA en die Weste net soveel haat as hulle self.

Vir die ANC is hier ʼn “onafgehandelde stryd” betrokke, en hierdie stryd is Ideologies gefundeer. Apartheid was die primêre vyand gedurende die vryheidstryd teen kolonialisme. Maar daar was ook ander, waarvan die een wat die meeste emosies opjaag, die dominasie van die VSA in geopolitiek is; iets wat voorspruit uit die koue oorlog tussen die VSA en die Sowjetunie gedurende die jare wat die ANC verban was, en baie na aan die Sowjet-blok beweeg het. Vir die ANC (en die SAKP) was die opbreek van die Sowjetunie, en (minstens die persepsie van) “nederlaag” van die Oorblok lande teen Amerika en die Weste, waarskynlik ʼn geweldige terugslag; iets wat “reggestel” moet word.

Die ANC het geen geheim gemaak van sy haat vir Amerika nie; dit was met elke konferensie van die party herhaal. Elke af-en-toe het die een of ander ANC grootkop in die openbaar uitgevaar teen die VSA of die een of ander Westerse land, en geen geheim gemaak van hulle ondersteuning aan lande soos Kuba, Iran en Rusland nie.

Die ANC het ʼn spesifieke haat vir Israel; iets wat ongetwyfeld ook terugherlei kan word historiese verbintenisse, met die ANC wat besondere noue bande gehad het met die Palestynse Bevrydingsorganisasie. Ek glo dat, vir die ANC, die stryd tussen Israel en die Palestyne ʼn refleksie geword het van hulle eie stryd teen die voormalige Wit regering in Suid-Afrika, en dat hulle nie tevrede sal wees voordat Israel vernietig is nie.

In 2024, toe Trump President van die VSA geword het vir sy tweede termyn, het die ANC se deurlopende vyandigheid teenoor Amerika, en vriendskap met skynbaar enige land wat die VSA vyandig gesind is, hulle begin inhaal; en dan spesifiek hulle optrede teenoor Israel. In reaksie het Trump vyandig teenoor die land opgetree.

Die ANC het hierdie globale skokke, die aanslag op hulle Ideologiese kern, geïnternaliseer en in verset gegaan. Ek is van mening dat die finale nekslag was die optrede van Trump gedurende die G20 beraad in Suid-Afrika, saamgelees met die ondersteuning op sosiale media vir Trump deur segmente van die Afrikaner- gemeenskap in Suid-Afrika.

Of die G20 beraad in SA ʼn tegniese sukses was of nie, Trump het die legitimiteit daarvan radikaal ondermyn deur die geleentheid totaal te boikot. Maar dit was nie al nie; hy het verder gegaan en Suid-Afrika vir alle praktiese doeleindes uitgeskop uit die G20 (vir 2026, elk geval); en niemand weet of die land ooit weer daartoe toegelaat sal word nie.

Ek dink dit was die oomblik van finale keuse vir die ANC; die Vyand, die verpersoonliking van kolonialisme en alles wat hulle ideologies haat in die wêreld, in die “persoon” van die VSA, het hulle leiers, die ANC, en die Suid-Afrika wat nou die ANC reflekteer, net nie ondermyn nie, maar byna minagtend opsy gestoot en uitgewerp.  

Dit was vir my baie duidelik dat die ANC, die Suid-Afrikaanse regering, en selfs die hoofstroom media in Suid-Afrika, na verlede jaar se G20 beraad, en Trump se besluit daarna om die land uit te sluit van uitnodigings na die 2026-beraad, verwag het dat die ander lande in die G20 in hulle massas tot Suid-Afrika se redding, en ondersteuning, moes kom.  Hulle het nie; by verre die meeste lande was doodeenvoudig stil gewees daaroor. China het die gewone anti-Amerikaans sentimente uitgespreek, en die onderwerp daarna uitgelos. Die Franse President het ʼn paar versigtige ondersteunende uitsprake gemaak. So het die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika. Die Kanadese Premier, met sy eie woede teenoor Trump, was momenteel die aggressiefste. Maar daar was geen grootskaalse agitasie ten behoewe van Ramaphosa of Suid-Afrika nie, ten spyte van aktiewe pogings van die SA regering om ander lede van die G20 tot sodanige optrede ten behoewe van die land te oorweeg.

Hier is die ding: Aan die einde van die dag gaan elke leier van ʼn nasie in die G20 hulself die enkele vraag afvra: “Is dit die moeite werd vir my land om, deur my aksies, die VSA President se woede op die hals haal ter wille van Suid-Afrika?” Hulle sal na die ekonomiese en geopolitieke werklikhede in die wêreld kyk, en tot slegs een slotsom kom: “Nee.”

Trump het iets anders aan die ANC gedoen wat geweldige emosie losgemaak het: Hy het ʼn debat begin oor ʼn onderwerp wat vir dekades lank verskuil in die skaduwees alleengelaat was, veral in die Westerse wêreld, en dit was die onderwerp van die aard en omvang van diskriminasie teenoor Blanke Suid-Afrikaners sedert 1994. Nie net het Trump die onderwerp na die lig gebring nie, maar hy het dit gedoen in ʼn tyd toe die kultuur van “Wokeness” in die Westerse wêreld in onguns verval het. Vir jare lank was die ANC se beleid van diskriminasie onbevraagteken toegelaat, selfs deur konserwatiewe Amerikaanse politici, omdat die globale narratief enige kritiek daarteen onmiddellik, en aggressief, as rassisme verwerp en onderdruk het.

Maar Trump het gedurende die laaste jaar van sy eerste termyn Presidensie te kampe gehad met die George Floyd opstande, en die gepaardgaande Black Lives Matter beweging; inisiatiewe wat bygedra het tot sy “val” aan die einde van daardie termyn. Hy het sonder skaamte of vrees die onderwerp van rasse-diskriminasie verskuil as “regstelling” in die Westerse wêreld ʼn belangrike tema van die politieke veldtog gemaak; en, nadat hy President geword het, dit spesifiek verwys na die situasie in Suid-Afrika.

Die belangrike punt hier is dit: As die ANC die regverdiging van regstellende aksie, van “Wokeness” en van die “Critical Race Theory” as regverdiging vir hulle rassebeleid in Suid-Afrika verloor, sal dit beteken dat die normatiewe beginsel wat dit (die beleid) legitimeer in die oë van die Westerse wêreld, onder hulle voete uitgeruk word. Dan word “Swart Ekonomiese Bemagtiging” en “Gelyke Indiensneming” bloot net rassediskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners.

Verstaan my asseblief reg: Ek sê nie dat Trump daarin geslaag het om die narratief permanent te verskuif nie. Meeste Westerse lande sal Suid-Afrika op hierdie stadium bloot uitlos, met hulle rasse-beleid, onseker oor hoe om dit te hanteer. Indien die Demokrate in die VSA die mag in die land kan oorneem, en die linkervleuel van die party slaag daarin om genoegsame invloed in die party te verkry, kan hierdie tendens steeds teruggedraai word, en kan die morele regverdiging vir “Wokeness” “herstel” word. Dit is baie moontlik.

Dit is egter ook moontlik dat selfs gemagtigde Demokrate in die VSA die Trump oorwinning in die 2024 Presidensiële verkiesing deels gesien het as die ineenstorting van aanvaarding van “Wokeness”, en dat die narratief in die Westerse wêreld toenemend beleidsrigtings soos regstellende aksie as diskriminasie gaan erken, en daarteen gaan optree as ʼn skending van menseregte. Hierdie scenario is selfs meer waarskynlik indien die politieke klimaat in Wes Europa daartoe aanleiding gee dat konserwatiewe, nasionalistiese politieke groepe meer-en-meer politieke mag gaan bekom, wat op hierdie stadium moontlik lyk.

Gebeure vroeg in 2026 het die scenario vir die ANC verder verdonker: Tradisionele vriend, die Venezuela President Nicolás Maduro Guerra, is deur die Trump Administrasie uitgehaal, en vervang met wat duidelik ʼn VSA-vriendelike regering sal wees. Maar wat nie dadelik raakgesien was nie, is die implikasies van hierdie daad: Dit het onmiddellik gelei tot die oplegging van olieverskaffing aan Kuba. Trump het Kuba onder beleg geplaas, afgesny van olie (wat tot feitlik totale ineenstorting in die Kommunistiese eilandjie gelei het). Toe het Iran gevolg.

Verstaan een ding: Die wese van die ANC is Ideologie. Dit is waarom internasionale verhoudinge vir die party so uitermate belangrik is; doodeenvoudig omdat dit die terrein is waarop hulle diepliggende ideologiese waardes op globale vlak kan uitvoer. Trump se optrede, die tendens van gebeure oor die afgelope 18 maande van sy Presidentskap, het aanleiding gegee tot die feitlik totale verval van die ANC se ideologiese ondersteuningstrukture (met Sjina uitgesluit; daar is absoluut geen aanduiding hoegenaamd dat Sjina se magsposisie in die wêreld onder bedreiging is nie). Venezuela het geval, Kuba is geneutraliseer, en Iran is onder geweldige druk.

Die ANC het geweldig baie energie in die Russiese inval in die Oekraïne belê. In 2022, toe Poetin se troepe die Oekraïne ingeval het, was daar glo openlik geleenthede gereël waar die kamerade die inval gevier het. Maar die verwagte snelle oorwinning het nooit gekom nie. Om die waarheid te sê het hierdie oorlog Rusland se mag en invloed in die wêreld geweldig ondermyn, en so het persespies oor die voormalige mondheid se militêre vermoëns.  Dit alles moes ongetwyfeld in die ANC geïnterpreteer gewees het as ʼn “perseptuele nederlaag”, en die argwaan teenoor die VSA en Wes Europa laat toeneem het.

Die ANC se leiers weet, is bewus daarvan, dat die antagonisering van die VSA en ander Westerse lande daartoe kan aanleiding gee dat ekonomiese groei ondermyn kan word, en die land selfs vinnig kan verarm, veral as aktiewe sanksies sou volg. Hulle weet dit, en dit help nie eens om dit as ʼn argument aan te voer wanneer met hulle hieroor geargumenteer word nie. Hulle het dit reeds in hulle besluitneming verreken. Die Ideologie het gewen, en in die toekoms gaan die ANC openlik, en veel meer aggressien, teenoor die optrede en besluite van Amerika, en die land se bondgenote, optree.

Die Suid-Afrikaanse regering se reaksie, tot op hierdie stadium, is nog ietwat meer gedemp as die van die ANC. Dit is egter op dieselfde koers. Daar is nie meer dieselfde versigtige diplomatieke taal van vroeër nie. Ideologiese waardes en standpunte word met toenemende aggressie vanaf openbare galerye verkondig.

Die ding is net dit: Trump is nie ʼn persoon wat vyandigheid intern verwerk sonder om daarop te reageer nie. Hy is bewus van die toenemende aggressiewe houding van die Suid-Afrikaanse regering. Wat nou aangaan, is dat Trump doodeenvoudig te besig is met ander aangeleenthede, soos Venezuela, Kuba en Iran, om by Suid-Afrika uit te kom. Maar wanneer hy weer tyd gaan hê vir die “Suid-Afrika aangeleentheid” gaan die vuurwerke spat. Dit is duidelik uit die tekens dat diegene in sy onmiddellike invloedsfeer wel deeglik kennis neem van Suid-Afrika se standpunte en vyandigheid teenoor die VSA en sy bondgenote. Die X-plasing deur die VSA se Kongres se Komitee vir Buitelandse Sake spreek vanself:





















Image source: 123RF



Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2026. All rights reserved.

Accept the Terms of Use of this website before continue using it. If you don't agree to these terms, please leave without further use.

Read the Privacy Policy for this website, setting out how your private information will be protected when using the site.

bottom of page