top of page

Die Distriksmodel

Ek het vir ʼn aansienlike deel van my lewe met munisipaliteite gewerk; om die waarheid te sê, vir meer as twintig jaar. Baie daarvan het te doen gehad met die regering en administrasie van plaaslike owerhede. Gedurende my loopbaan as ʼn bestuurskonsultant het ek ook onder andere saamgewerk met verskeie regeringinstellings verantwoordelik vir ingrypingsprojekte wat ten doel gehad het om munisipaliteite reg te ruk. So, ek is nie totaal onkundig of oningelig oor die regering se pogings om sukkelende plaaslike owerhede om te draai tot lewensvatbaarheid nie.

Maar, moet ek eerlik erken, die sogenaamde “distriksmodel” het my verward gelaat. Daarom het ek, vir ʼn lang tydperk, my nie daaroor uitgespreek nie, meer eers probeer om soveel as moontlik inligting te versamel.

Wat my verward gemaak het, was die idee, of miskien eerder die begrip, dat enigiemand by sy volle verstand kan dink dat die blote konsentrasie van ʼn klomp funksies wat op gedesentraliseerde basis in die lewering daarvan klaaglik misluk het, suksesvol sal wees indien dit gesentraliseer sou word, en onder ʼn massiewe burokratiese kommisariaat hanteer word.

Maar skynbaar is dit presies wat beplan word.

Ek haal aan uit ʼn dokument getiteld Die Distrik Ontwikkelingsmodel; ʼn dokument waaruit ek vervolgens deurlopend sal aanhaal.

ʼn Kantaantekening: Vir funksionele doeleindes sal ek aanhalings uit hierdie dokument (en ander publikasies) in Engels aanhaal. 

Ek haal vervolgens aan:

"Lack of coordination between national and provincial governments, between departments and particularly at local government level, has not served the country. The pattern of operating in silos has led to lack of coherence in planning and implementation and has made monitoring and oversight of government’s programme difficult."

Nou hierdie stelling op sigself is totale onsin. Die probleem is hopeloos te veel sentralisasie, en nie te min nie. Al sedert die inwerkingstelling van Geïntegreerde Ontwikkelingsbeplanning, was ʼn vereiste dat die prioriteite van die nasionale, provinsiale en plaalike owerhede daarin geïntegreer moet word. Om die waarheid te sê, dit is een van die wetlike vereistes vir GOPs voorgeskryf in die Stelselswet. Ek weet, want ek het meer as vyftig Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne in my loopbaan geskryf of hersien.

Dit is ʼn blote teoretiese beginsel wat in die praktyk nog nooit gewerk het nie. Al wat dit gedoen het, was om ʼn massiewe burokratiese las op munisipaliteite geplaas het wat nie slegs prakties onmoontlik was nie, maar ook nie befonds nie. Dit was slegs maar ʼn papier- oefening.

Tweedens, tradisioneel en statuêr was die sogenaamde koördinerende rol veronderstel om deur distriksmunisipaliteite vertolk te word. Hulle het dit nooit gedoen nie, en was, in praktyk, nooit enigiets anders as administratiewe strukture met begrotings befonds uit belastingbetalers se sakke, maar sonder werklike funksies nie.

In wetgewing is daar langs lyste van funksies toegeskryf aan distriksmunisipaliteite. In praktyk is hulle bloot administratiewe burokrasieë wat feitlik geen direkte diensleweringsfunksies, anders as miskien noodweer (risikobestryding) het nie. In verreweg het selfs die elementêre funksies toegewys aan distriksmunisipaliteite, soos Gesondheidsinspekteurs, vir alle praktiese doeleindes verval.

Daar is geen sogenaamde gebrek aan koördinasie, of regeringsfere wat in silo’s gefunksioneer het nie; wat daar wel was, is doodgewone onbekwaamheid en korrupsie wat gelei het tot verval in dienslewering – op alle vlakke. Meer sentralisasie gaan nie die probleem oplos nie; dit gaan dit tienvoudig vererger en die verval verhaas.

Volgens die verwysingsdokument:

"The DDM enables synergy between national, provincial and local priorities; and implementation of immediate priority projects and actions as well as a long-term strategic framework for predictable, coherent and effective service delivery and development."

Die sogenaamde Distriksmodel sal geen verbeterde sinergie tussen nasionale, provinsiale en plaaslike prioriteite teweegbring nie. Feit is dat Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne in elk geval altyd veronderstel was om presies dit te doen. Dit het nie gewerk nie; of dan deels het dit nie gewerk nie, en deels was dit nie nodig nie, omdat die nasionale regering alle betekenisvolle mag gemonopoliseer het, en slegs dit afgewentel het wat hulle verplig was om die lojaliteit van provinsiale en plaaslike kamerade te behou. Dit gaan nie verander nie. Die afwenteling van funksies is in elk geval waardeloos as dit nie vergesel word deur die geld benodig om dit te verrig nie.

Ek voel totaal neerslagtig wanneer ek die sogenaamde doelwitte van die model lees (en ek haal aan):

“Main Objectives of the Model

a. Managing rural/urban migration, as well as sustainable growth and development;

b. Determining and/or supporting local economic drivers;

c. Determining and managing spatial form, land release and land development;

d. Determining infrastructure investment requirements and ensure long-term infrastructure adequacy to support integrated human settlements, economic activity and provision of basic services, community and social services;

e. Institutionalize long term planning whilst addressing ‘burning’ short term issues.”

Hoeveel planne het ek nie al gedurende my loopbaan van dertig jaar gesien met die mooiste teoretiese doelwitte wat jy jou kan voorstel nie?

Destyds, jare terug, in 2008 (as ek reg onthou) het die regering uitgekom met die sogenaamde “Strategiese Agenda vir Plaaslike Regering.” Die Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne van munisipaliteite is steeds veronderstel om formatief in terme van hierdie “Agenda” opgestel te word. Die prioriteite van hierdie dokument was as volg:

Dit begin met gewone gefaalde ideologie van “die transformasie van plaslike regering”, gerig op:

1. Ruimtelike Ontwikkeling van munisipaliteite.

2. Basiese Dienslewering en Infrastruktuurontwikkeling.

3. Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling.

4. Organisatoriese Transformasie en Ontwikkeling.

5. Finansiële Volhoubaarheid en Bestuur.

6. Goeie Regering en Openbare Deelname.

Vergelyk dit met die doelwitte van die distriksmodel. Sê dan vir my: wat is die verskille? Die enigste verskil is toenemende intensiewe sentralisering. Beter beheer vir die kaders om te besluit wie aangestel gaan word en watter tenderpreneur die kontrakte gaan kry.

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2025-2026. All right reserved.

Use this website in terms of the legal notes regulating is (Terms of Use). If you do not agree with these terms, please leave and do not use the site.

South African legislation requires that specific privacy requirements must be guaranteed in the use of this website. Thee website's Privacy Policy can be access by clicking on the link below.

bottom of page