top of page

Geskiedenis en Ras

Afrikaners het baie om op trots te wees. Ons geskiedenis is oor die afgelope 32 jaar gereduseer tot Apartheid, en ons word deurlopend daaraan herinner dat ons skuld het om terug te betaal. Dit is uiters belangrik vir die regerende regime in die land, want dit gee legitimiteit aan hulle blatante en gruwelike diskriminerende beleid en optrede. Daarsonder sou die internasionale gemeenskap lankal hard op hulle afgekom het, en sou hulle sanksies beleef het van ongekende omvang, want hulle diskrimineer sonder skaamte of verskoning, op grond van ras.

In 2052 sal die Afrikaner se geskiedenis in hierdie land 400 jaar terugstrek. Niemand sal dit waarskynlik gedenk, of toelaat dat dit gedenk word nie. Daar egter was baie wat mooi was in hierdie geskeidenes; veel meer as wat sleg was. Dit sluit in buitegewone dapperheid en strategies vermoëns op die slagveld, hardwerkendheid en uithoudingsvermoë en professionele briljantheid.

Afrikanerleiers en stryders uit die tydperke van verset teen diktatoriale en despotiese Goewerneurs, sowel as die koloniale regering aan die Kaap, is die moeite werd om onthou en geëer te word. Die skande was die tydperk was die Blanke kolonialiste se oorloë om die Eerste Mense, die Khoi en San, uit hulle vestigingsgebiede te verdryf. Dit was egter nie slegs die voorsate van die Afrikaner wat hierby betrokke was nie. Die Britse Ryk het ʼn groot rol gespeel, waarskynlik ʼn dominante een. Die Nguni mense het, gedurende die eeue-lange prosesse van suidwaartse migrasies, ook voortdurend in konflik verkeer met die voorsate van die Khoi en San.

Die Groot Trek is en bly ʼn merkwaardige gebeurtenis in die geskiedenis van die Afrikaner. Leiers soos Paul Kruger, Andries Hendrik Potgieter en Louis Tregardt verdien om in Afrikanergeskiedenis geëer te word. Hulle botsings met veral die Zoeloe Koningryk van Shaka Zulu was, op daardie stadium, die bloedige gevolg van twee groepe migrante; die een in die proses van noordwaartse migrasie, en die ander suidwaartse migrasie.

Die enkele geskiedkundige gebeurtenis wat egter die meeste Afrikaner helde opgelewer het, was die Boereoorlog (en let asseblief daarop dat dit die Anglo-Boereoorlog heet, en ek nie sal verwys na die ANC kaders se herbenaamde weergawe van die “Suid-Afrikaanse Oorlog” nie). Generaals soos Christiaan de Wet, Jan Smuts en Botha was strategies briljante, gerekende militêre leiers wat met goeie reg as Afrikaner ikone onthou sal word. Helde soos Jopie Fourie moet sonder skaamte erken word in die anale van Afrikaner geskiedenis.

Daar is absoluut geen regverdiging vir die verwydering van die name van hierdie helde uit die openbare bewustheid van die land nie; om die waarheid te sê, was die oorlog wat hulle in helde omskep het, juis ʼn stryd teen Britse kolonialisme, en het dit feitlik niks met ras te doen gehad het nie. Die verwydering van simbole en name wat na hierdie figure verwys, is blote opsetlike venynigheid van ʼn rassistiese regering wat daarna smag om die Afrikaner se geskiedenis en kultuur te marginaliseer en teen Afrikaners te diskrimineer ten einde dominasie te bewys.

Apartheid was nie ʼn tydstip in die geskiedenis waarop die Afrikaner trots kan wees nie. Kolonialisme is ʼn verskynsel so oud soos die mensdom self, en is deur alle beskawings oor al die eeue toegepas. Die onderliggende begrip daarvan is baie eenvoudig: Die dominasie van die sterkste. Baie nasies en volkere het al as gevolg van koloniale oorloë verdwyn; hulle is doodeenvoudig uitgewis. Dit is egter nie ʼn verskoning vir die toepassing daarvan nie. Die Afrikaner se toepassing van flagrante rasse-diskriminasie teen ander volkere en nasies in Suid-Afrika in ʼn poging om hulle eie voortbestaan te probeer verseker, was inderdaad, soos deur die Verenigde Nasie verklaar, ʼn misdaad teen die mensdom. Eintlik was alle oorloë vir besetting, en alle onderdrukking van mense op grond van ras – of nasie-identiteit, oor al die eeue, nog altyd presies dit: ʼn Misdaad teen die Mensdom. Weereens, dit verskoon steeds nie diegene wat hulle daaraan skuldig maak nie.

Dit is vir my moeilik om “jammer” te sê oor Apartheid; nie omdat ek dit probeer regverdig nie, maar wel oor die volgende redes:

Eerstens, ek was gebore in 1968, en was derhalwe 26 jaar oud in 1994, toe die politieke oorgangsproses gefinaliseer was. Ek het militêre opleiding gedoen na skool, en studeer. Behalwe vir vakansiewerkies, het ek nog nie met ʼn loopbaan begin nie.

As deel van my militêre opleiding het ek nooit op enigiemand geskiet nie (die bosoorlog was feitlik verby, en ek was nooit betrokke by die onderdrukking van die binnelandse verset teen Apartheid nie). Dit was die geval met duisende jong Afrikaner mans van die tyd.

Daar kan geargumenteer word dat ek die voordele van Apartheid geniet het. Dit is waarskynlik waar, maar watter voordele? Die vernaamste een waaraan ek kan dink, is Onderwys; ek het die voordele van Blanke onderwys geniet, ja; op ʼn klein Vrystaatse dorpie, in ʼn klein skooltjie. Dit was egter van hoër gehalte as Bantoe Onderwys. My pa was sy lewe lank ʼn onderwyser; en ja, hy was beter vergoed as sy Swart eweknie, wat verkeerd was, maar hoe op dees aarde kan ek geag word as “skuldig” daaraan?). Ons was steeds nie ryk nie; destyds was daar nie die praktyk van reuse salarisse in die staatsdiens nie. Daar was geen gratis toegang tot na-skoolse opleiding nie; ek het deur bemiddeling van beurse en lenings studeer. Geen gratis mediese dienste nie.

Ja, ek was ongetwyfeld beter behandel as my Swart broer of suster (waarteen daar gruwelik gediskrimineer was). My punt is dit: Ek verwys hier na die tydperk 1968 tot 1993. Dit was te vroeg in my lewe om ʼn aandeel te kon gehad het in die totstandkoming van Apartheid, of die onderhoud daarvan, of in die onderdrukking wat daarmee gepaard gegaan het. Die voordele daarvan wat ek wel geniet het, was institusioneel, die gevolge van die politieke stelsel waarbinne ʼn kind hom bevind, en nie van ʼn bewustelike keuse of opset van keuse nie. Van die eerste keer wat ek oud genoeg was, het ek gestem ten gunste van grondwetlike verandering in die land.

Ek kan myself skaars indink hoe ʼn kind moet voel wat, byvoorbeeld, in vroeg 2000 gebore was, en nie eens die voordele van kinderjare-Apartheid kon geniet nie.

Tweedens, toe ek in 1994 met my loopbaan moes begin, het ek hoegenaamd geen voordeel uit Apartheid getrek nie; om die waarheid te sê, moes ek daarvoor boet. Geleenthede is my deurlopend ontsê om toegang te verkry tot opleidingsgeleenthede, om op gelyke voet deel te naam aan die voordele van die ekonomie, om ekonomiese geleenthede op te neem, en om op meriete in my loopbaan te vorder; dit alles omdat ek Wit gebore was. Dit is diskriminasie. Punt.

Dit was die tydperk 1994 tot 2026. My hele volwasse lewe. My loopbaan. Twee-en-dertig jaar van diskriminasie teen my. Twee-en-dertig jaar van verwyt, terwyl geleenthede waarom ek op gelyke kanse moes meeding, aan onbekwame kaders uitgedeel was. Twee-en-dertig jaar van stagnasie waarin meriete en my inherente vermoëns bitter min getel het. Twee-en-dertig jaar waartydens die Kamerade links, regs en orals gesteel het, die land afgebreek, en die skuld vir hulle misdade in die naam van Apartheid na my verwys het.

Ek het vroeër in hierdie plasings daarna verwys dat ek wel militêre diens gedoen het, maar nooit betrokke was by enige geweldpleging nie. Dit is wel waar, maar dit beteken ook nie dat ek diegene wat wel was minag nie. Alles behalwe. Destyds, toe hulle in bevel en in diens was, was die Suid-Afrikaanse Weermag uitmuntend, by verre die magtigste in Afrika, en saam met die weermag van Israel geplaas as ʼn klein maar uiters effektiewe verdedigingsmag. Hulle was briljant, Wit en Swart. Ek ag hulle daarvoor.

Die inherente konflik tussen die opofferings en uitnemendheid van ʼn soldaat, en die oorkoepelende oogmerke van die opdraggewers, is ʼn veel meer komplekse vraagstuk as die blote veroordeling wat dikwels hierdie helde te beurt geval het na 1994.

Ek verlang nie terug na Apartheid nie, want dit was ʼn bose stelsel gebaseer op diskriminasie teen ander persone op grond van ʼn faktor waaroor hulle geen beheer het nie, naamlik die kleur van hulle velle. Die “Nuwe Suid-Afrika” is egter ook ʼn totale mislukking, want dit is gebaseer op diskriminasie teen persone grond van ʼn faktor waaroor hulle geen beheer het nie, naamlik die kleur van hulle velle.

My probleem is met die diskriminasie, nie die ras nie. Ongelukkig word diskriminasie steeds, net soos voor 1994, aan ras toegewys. Daarmee het ek ʼn probleem.

Prentjie gebaseer op 'n foto geneem tydens 'n besoek aan die Vrouemonument.

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2026. All rights reserved.

Accept the Terms of Use of this website before continue using it. If you don't agree to these terms, please leave without further use.

Read the Privacy Policy for this website, setting out how your private information will be protected when using the site.

bottom of page