top of page

AfriForum en Fakile Mbalula

Ek is teleurgesteld met AfriForum se nuuskonferensie, en hulle verslag getiteld die “Mbalula dossier.” Ek het gedink dit gaan handel oor beweringe, met tasbare bewyse, oor korrupsie waarby Mbalula betrokke was, en dan spesifiek die uitreiking van meer bewyse rondom Mbalula se “Kersfees-vakansie” in Dubai.

Uiteindelik het die nuuskonferensie, en die sogenaamde dossier, gehandel oor Mbalula se vyandige uitsprake oor die Weste, die Verenigde State, Israel en Blankes in Suid-Afrika, sowel as sy uitsprake ter ondersteuning van Rusland, Sjina en ander onderdrukkende regimes, insluitend Kuba en Venezuela.

Daar was niks nuuts in die nuuskonferensie nie; niks opspraakwekkends nie.

Dit wil vir my voorkom asof die doeleinde daarvan is om die Verenigde State aan te moedig om Mbalula te straf vir sy anti-Westerse uitsprake deur persoonlike sanksies teen hom in te stel. Sover dit die beweringe aangaande die “Kersfees-vakansie” in Dubai aangaan, was daar werklik nie veel nuuts nie.

Kyk, Mbalula is ook nie my gunsteling nie, maar daar is figure in die ANC wat veel erger rassistiese en anti-Westerse uitsprake gemaak het, en steeds maak, as hy. Verder is die Verenigde State se intelligensiedienste wel deeglik bewus van die uitsprake en optrede van die ANC en die regering ter ondersteuning van hulle vyande soos Rusland, Sjina, Kuba en Iran. Dit is maar net nodig om wetgewing voor die Amerikaanse Kongres te lees om die waarheid hiervan te besef. Om die waarheid te sê, dit wil voorkom asof die CIA meer inligting hieroor het as AfriForum.

Lees byvoorbeeld die volledige uiteensetting in die ‘‘U.S.-South Africa Bilateral Relations Review Act of 2025’’. (Laai hieronder af).

(Afgetrek van die webwerf van die Amerikaanse Kongres - Huis van Verteenwordigers).


Ek is van mening dat die strategie om die VSA aan te moedig om ANC – en ander linkse politieke figure in Suid-Afrika, te teiken vir straf, baie potensiële risiko’s inhou, en dat die kollektiewe gevolge daarvan wydlopend is. Een van hierdie risiko’s, is dat ekonomiese sanksies juis diegene wat gaan benadeel wat alreeds deur rasse diskriminasie in die gesig gestaar word. Selfs al sou ANC leiers individueel geteiken word, gaan hulle dit uithaal op die hele bevolking, en spesifiek diegene wat alreeds geteiken word.

ʼn Ander gevaarlike potensiële gevolg is dat die ANC, in samewerking met die EFF en andere, wetgewing gaan aanvaar wat die reg tot verset teen die regering se optrede aan bande gaan lê. Soos Zimbabwe se “Patriotism Act.” Die Zimbabwiese Patriotiese Wet, amptelik die Wysigingswet op Strafreg (Kodifikasie en Hervorming) (2023), is op 31 Mei 2023 in wetgewing onderteken. Dit kriminaliseer "opsetlike skade aan die soewereiniteit en nasionale belang" van Zimbabwe, met strawwe wat tot 20 jaar tronkstraf, verlies van burgerskap of die doodstraf insluit vir private burgers en amptenare wat teen die land optree. (google AI).

Ek het nie ʼn probleem met veldtogte teen die regering se rasse diskriminerende beleid en korrupsie nie, indien die aksie gerig is op die bereiking van duidelike taktiese en strategiese doelwitte. Met ander woorde, daar moet ʼn einddoel wees, wat die interim-gevolge die moeite werd sal maak. Indien die doel is om die ANC, en regering, te straf vir rassediskriminasie teen Afrikaners, is dit ʼn nuttelose aksie met veel meer bedreigings as geleenthede. Al wat jy dan regkry, is om die regering kwaad te maak, en die vlakke van rasse-diskriminasie (en woede) te vererger en te intensiveer.

Die organisasie, saam met Solidariteit en ander bondgenote in Suid-Afrika, het groot sukses gehad deur met konserwatiewe groepe in Europa, maar veral in die Verenigde State te skakel, en hulle te oorreed van rassediskriminasie in Suid-Afrika te erken. Dit het veral goed gewerk in die geval van die Trump-administrasie, wat in elk geval ʼn appeltjie te skil gehad het met die ANC (en die Suid-Afrikaanse regering). Daar is geen twyfel dat dit rassistiese diskriminasie in Suid-Afrika, tot ʼn mate, op die internasionale radar geplaas het nie.

Dit het egter ook enorme woede in Suid-Afrika tot gevolg gehad.

Verstaan een ding van die voormalige vryheidsbewegings, en die tentakels voortspruitend daaruit, insluitend die EFF en MKP: Die stryd teen kolonialisme en apartheid is nie slegs belangrike onderdele van hulle beleid nie; dit was, en is, die rede vir hulle bestaan. Sogenaamde transformasie is hierdie groepe se identiteit. In die uitgebreide definisie sluit dit in die stryd teen die Weste, want Wes-Europa word gesien as die oorsprong van kolonialisme, en as die vyand van alles en almal wat hulle gedurende die tydperk van die vryheidstryd as vriende en kamerade gesien het; insluitend Kuba, Venezuela, Rusland en Sjina. Dit is die rede waarom buitelandse beleid so enorm belangrik is vir die ANC: Dit speel uit op ʼn vlak van ideologie, en ideologie is die rede vir, en die kern van hulle bestaan.

In Suid-Afrika het die ANC en ander linkse groepe nooit opgehou om hulle bestaan te definieer in terme van ras en ʼn rasse-stryd nie. In werklikheid was die rasse-stryd in Suid-Afrika in 1994 besleg, toe dit, vir alle praktiese doeleindes, deur die ANC gewen was. Sonder ras en die ideologie wat daarmee gepaardgaan, kon die ANC ditself nie definieer nie. En hierdie stryd moet altyd gepaardgaan met ʼn heldhaftige “stryd”, ʼn “rewolusie.”. Sonder ʼn rewolusie om rassediskriminasie te beveg, kan die ANC en die tentakels daarvan nie bestaan nie; dit weet nie hoe nie, en dit het geen doel of bestaansreg nie.

Die oorwinning van 1994 het nie die aard, die rasionaliteit vir die bestaan van, die ANC en ander vryheidsbewegings verander nie. Na die grondwetlike oorgang, is “die stryd” bloot voorgesit in die “formaat” van ʼn regering. Niks het verander nie, behalwe die konteks. Die vyande het dieselfde gebly. Die strategie en taktiek het dieselfde gebly. Die oogmerk van alle politieke groepering aan die Linkerkant van die Suid-Afrikaanse politieke, bestaande of nuut, het presies dieselfde gebly, naamlik die stryd teen rassisme en kolonialisme; ten spyte daarvan dat beide reeds oorwin was.

ʼn Nuwe benaming is gevind; ʼn nuwe manifestasie van die tradisionele vyand – ʼn nuwe ideologie, naamlik Ekonomiese Vryheid, takties verpak as “Transformasie”. Die vryheidstryd het bloot voortgegaan, nou in die naam van ʼn rewolusie om die vyande van die mense te verslaan, met ‘die vyand’ gedefinieer as ekonomiese rassisme en kolonialisme.” Ongelykheid was die grootste vyand, terwyl, in werklikheid, die ongelykheid sedert 1994 hoofsaaklik gedryf was deur die monopolisering van bates en geleenthede binne die geledere van die regerende Swart elite.

Het u al opgemerk hoe eenvoudig alles “gemilitariseer” en “gerewolusionaliseer” word? Wanneer daar ʼn komitee gestig word om iets te ondersoek, of ʼn bepaalde doelwit na te streef, is dit altyd die een-of-ander “oorlogskamer.” Die ANC en MKP verwys na mekaar in die tipiese Kommunistiese aanspreekvorm van “Kameraad.” Die EFF verwys na partylede in terme van die klassieke Kommunistiese en rewolusionêre ideologie van “commissar” (kommissaris), of “fighter” (vegter). Dit is retoriek van ʼn institusionele regime vasgevang in ʼn linkse rewolusionêre ideologie.

Daar is geen ander rede vir die bestaan van politieke partye aan die linkerkant van die Suid-Afrikaanse politiek, anders as die nastrewing van ʼn ideologie wat êrens in die 1980s vasgesteek het nie; die nastrewing van doelwitte wat reeds bereik is. Alle ander beleid, waarvan daar honderde is, soos onderwys, veiligeheid en veel meer, word altyd, sonder uitsondering, gekontekstualiseer, en geïnterpreteer, binne die raamwerk van ras en sosialisme (ideologie).

Deur die ideologie van “Transformasie” aan te val, val jy die wesenlike, die doel van die bestaan, van diegene in beheer van die staatsmag in Suid-Afrika, aan. Trump is die President van die magtigste moondheid in die wêreld; sy bewindsoorname, en aanvalle op Suid-Afrika se buitelandse – en rassebeleide, het ʼn reuse, ʼn enorme impak gemaak op die psige van diegene wat Suid-Afrika regeer. Voorheen was die beperkte interne verset teen die rasse transformasie in die land irriterend, maar maklik hanteerbaar. Dit was ook intern gekonsentreer.

Trump se aanvalle het egter daartoe aanleiding gegee dat die morele regverdiging vir die land se rassebeleid internasionaal onder die vegrootglas geplaas was. Die punt is nog nie bereik van wydverspreide veroordeling daarvan nie, maar vrae word gevra. In die proses word die morele meerderwaardigheid van die kamerade ondermyn, en daarmee saam die grondslag vir die buite-proporsionele geopolitieke invloed van die land sedert 1994. Dinge het selfs sover ver gegaan dat Suid-Afrika, minstens tydelik, uit die G20 geskop was. Die land, en sy leiers, het egter onmiskenbaar hulle wolk, of skild, van morele onaantasbaarheid verloor.

Die ding is dit: ʼn Beleid wat vir meer as dertig jaar lank internasionaal stilswyend aanvaar was as “morele noodsaaklikheid” was in minder as ʼn jaar van die Trump Presidentskap getransformeer tot “miskien het ons hier te doen met rasse-diskriminasie”.

Intern, in Suid-Afrika, word AfriForum en Solidariteit verwyt as die “fluitblasers”; diegene wat in Trump se oor gefluister het, en die proses begin het wat gelei het tot die situasie waar hulle onbevraagtekende ideologiese en rassistiese optrede internasionaal deur ʼn moralistiese bril beskou was, en in die proses “gewas” was, tot aanvaarbaarheid (en selfs etiese noodsaaklikheid).

Die kamerade gaan nie toegee sonder ʼn geveg nie. Ek s֝ê weer: Dit is in orde om hulle bloot te stel indien die medium-tot-langtermyn doelwit is om die onderliggende onregte reg te stel, of ’n langtermynoplossing vir die probleem te beding. Ek kan nie sien dat ʼn nuuskonferensie, of dokumente soos die “Mbalula dossier”, dit gaan bereik nie.

AfriForum se visie is dat “Afrikaners – as 'n gemeenskap wat geen ander tuiste ken nie – sinvol, vry, veilig en voorspoedig in vreedsame naasbestaan met ander gemeenskappe aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan. Hulle fokus op burgerregtebeskerming, selfdoen-oplossings (soos buurtwagte), en die bevordering van gemeenskapsbelange buite party-politiek.”

Die tipe van verset soos gemanifesteer in AfriForum se inisiatief, kan slegs gemoedere verder opjaag, sonder enige voordele in terme van sinvolheid, vryheid, veiligheid, voorspoed of vreedsame naasbestaan. Ek kan ook nie werklik sien hoe dit bydrae tot die beskerming van burgerregte of die bevordering van gemeenskapsbelange buite die konteks van partypolitiek nie.

Die punt is nie dat ek voorspraak probeer maak vir Fikile Mbalula nie. Ek stem saam dat sy agenda diskriminasie is teen minderhede soos ekself. Ek verstaan dat sy bevordering van rassepolitiek en ʼn vernietigende ideologie soos die Nasionale Demokratiese Rewolusie gevaar impliseer. Die punt is egter dat die dramatiese aankondiging van AfriForum niks nuuts opgelewer het nie; dit, en die feit dat daar veel groter en gevaarliker rassiste in Linkse geldere is as Mbalula.

Waarmee ek wel saamstem is die optrede ten behoewe van Jaco Pieterse, hoof van Bergview College, wat onregverdig en onregmatig deur onder andere Mbalula beskuldig was van verkragting, sonder dat hulle die feite gehad het om ʼn oordeel te kan vel. Ook skuldig hieraan was Julius Malema en Fundile Gade, LUR vir Onderwys in die Oos-Kaap. Sodanige optrede en ondersteuning is inderdaad beskerming van burgerregte.

Die res van die besigheid lyk vir my egter meer na ʼn promosieveldtog as enigiets wat AfriForum se gestelde visie bevorder.

Wat my meer interesseer van hierdie hele besigheid, is Mbalula se reaksie daarop, en dan spesifiek sy reaksie voordat die nuuskonferensie plaasgevind het.
















Kan dit dalk wees dat Mbalula aanvanklik bevrees was dat iets veel erger sou uitkom gedurende die nuuskonferensie? Eintlik het sy reaksie op X, na afloop van die nuuskonferensie, vir my meer na verligting, en ʼn tipe finaliteit, gelyk, as na woede of ontsteltenis.




























Gegewe die historiese rekord van sukses van privaatvervolgings deur AfriForum se private vervolgingseenheid, en die duidelike ideologies oriëntasie van Suid-Afrikaanse howe, twyfel ek sterk of daar enigiets betekenisvol van vandag se “onthullings” gaan kom.

Prentjiebron: Google Images; Getty Images in public domain (Creative Commons)

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2026. All rights reserved.

Accept the Terms of Use of this website before continue using it. If you don't agree to these terms, please leave without further use.

Read the Privacy Policy for this website, setting out how your private information will be protected when using the site.

bottom of page