top of page

Hoe nou gemaak, Afrikaners?

Ek weet derduisende Afrikaners gaan weer vir die Demokratiese Alliansie stem in die komende Plaaslike Regeringsverkiesings. Dit is goed so, werklik, ek kan eintlik nie ʼn jota omgee nie. Ek het tog een vraag, en dit is: Hoekom? Of, anders gestel: Wat gaan die DA vir hulle doen, of vir hulle beteken?

Het die werklikheid werklik al posgevat en erkenning begin geniet onder Afrikaners? Rassediskriminasie teen hulle gaan nie end kry in die land nie binne die leeftyd van die geslag wat nou gebore word nie. Net net is daar ʼn absolute verbondheid daaraan onder die begunstigdes van die oligargie wat sedert 1994 stewig in die land gevestig was nie, maar  dit geniet toenemende steun binne die geldere van die DA.

Die kulturele marginalisering van die Afrikaner se taal, kultuur, opleiding – en onderwysgeleenthede gaan nie binne die volgende 50 jaar einde kry nie. Dit gaan net erger word.

Die aanslag op eiendomsreg in die land gaan nie einde kry nie. Die grootskaalse onteiening van geteikende groepe, waarvan die Afrikaner heel voor in die ry staan, gaan binne die volgende dekade plaasvind, of minstens begin. Dit gaan gebeur nie noodwendig omdat die ANC se leiers nie die implikasies daarvan op die ekonomie van die land verstaan nie, maar omdat hulle nie ʼn ander keuse gaan hê nie. Die fundamentalisering van die ANC die afgelope twintig jaar maak dit onmoontlik.

Wat meer is, soos individue binne die DA toegang verkry tot regeringsposte, en die materiale voordele daarvan, begin die verset teen beleidsrigtings soos Onteiening Sonder Vergoeding afneem. Nie net dit nie, maar die georganiseerde dominante belangegroepe in die ANC, die uMkhonto weSizwe Party, die Ekonomiese Vryheidsvegters en ActionSA is emosioneel en materieel verbind tot die beleid, en tot ander Transformasie wetgewing. Ongeag wat die meningsopnames mag sê, die blote werklikheid van politieke magsbalans in Suid-Afrika gaan dit onmoontlik maak om nie hierdie tipe beleid aggressief na te jaag nie.

Siviwe Gwarube brand om die BELA wetgewing toe te pas soos die ANC dit van haar verwag. Op die stadium kry sy nog teenstand van die “regterkant” van die DA, maar dit sal nie veel langer hou nie. John Steenhuisen is ʼn patetiese Minister van landbou. Leon Schreiber kom elke nou-en-dan met groot beleidsaankondiging vorendag, maar as jy werklik daarop ingaan, besef jy gou dat dit maar oppervlakkig is.

Twee goed is hier van uiterste belang: Eerstens sal DA ministers nie deur die ANC, die MKP of die EFF toegelaat word om hulle “suiwer” ideologie in beleid om te sit of toe te pas nie. So, om ʼn einde te maak aan die rassediskriminasie, sal die DA ʼn algehele meerderheid moet kry en die land alleen, sonder alliansievennote, anders as die VF+ moet regeer. Dit sal nie gebeur nie.

Tweedens sal dit moet beteken dat die DA rigied by hulle beleid van die beëindiging van rassediskriminasie moet hou. Feit is dat die proses van herkondisionering reeds begin het die dag toe die DA se grootkoppe in die Kabinet opgeneem was. Skielik het John Steenhuisen die morele waarheid (en gewenstheid) van “regstelling van die onregte van die verlede” in die departement en funksie waarvoor hy verantwoordelik is ontdek. Daar is nie ʼn enkele DA aangestelde Minister wat nie die afgelope 18 maande meer links van die politieke spektrum beweeg het nie. Dit is die impak van die blou ligte.

Verder, vir die DA om genoegsame ondersteuning te bekom uit die bevolking om alleen te regeer, sonder die “transformasie fundamentalistiese” groepe, sal die DA toenemend nader moet beweeg aan die ideologie en beleid van transformasie. Dit is waar dat opnames aantoon dat die meerderheid Suid-Afrikaners van mening is dat aanstellings op meriete gedoen moet word, maar daar is geen twyfel dat dit verstaan moet word binne die konteks, die aanvaarde narratief, van die een-of-ander formaat van voordeel aan sogenaamde “voorheen benadeeldes” nie. Hierdie proses het reeds ver gevorder.

Ek dink nie die DA se leierskap is eens werklik geïnteresseerd in die beskerming van die kulturele, taal en simboliese invloed of belange van die Afrikaners nie.

Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners is in totale beheer van die DA. Dit is verstommend hoe hierdie klein groepie dit reg gekry het om beheer te verkry oor die tweede grootste politieke party in die land, en die party wat minstens 60-70% van Afrikaners verteenwoordig. Feit van die saak is, hulle het hierdie beheer. Feit van die saak is dat Engelsprekende Blanke Suid-Afrikaners van vandag ideologies basies dieselfde mense is as in 1910. Hulle is nie Afrikaners nie. Hulle verstaan nie werklik die Afrikaner kultuur of gewoontes nie. In stilte verag hulle Afrikaners. Hulle is maar net te bly oor die verengelsing van die land.

Die DA het die Afrikanerkiesers oorgeërf van die voormalige Nasionale Party. Dit is totale onsin, en ʼn mite, dat die DA se leierskap onder Tony Leon die party laat groei het van 1,5% tot 20%. Ek is sommer geïrriteerd deur sulke praatjies, en wil herhaal dat dit snert is. Wat gebeur het, was dat die nasionale Party se relevansie baie gou  na die 1994 verkiesing verdwyn het, en dat die verval daarvan aangehelp was deur uiterse swak leierskap. Feitlik al die leiers van die tyd, soos Roelf Meyer en Marthinus van Schalkwyk, was ANC ondersteuners in die kleure van die NP. Desperate NP kiesers het na ʼn politieke tuiste gesoek wat hulle kon beskud teen die verval en toenemende diskriminasie in die land. Hulle het dit gevind in die DA, en in massas oorgeloop na die party.

Die DA beskou hierdie Afrikanerkiesers wat hulle van die NP oorgeërf het, as kanonvoer. Die argument is doodeenvoudig: Voormalige NMP ondersteuners het geen ander keuse as om die DA te steun nie. Die party mag nie noodwendig die belange van Afrikaners bevorder nie, maar minstens is dit beter as die ANC. Die VF+ is ʼn alternatief ja, maar die VF+ is te klein om werklik ʼn verskil te maak. Eintlik is die Afrikaners nie ʼn vraagstuk vir die DA nie; in die eerste instansie hou die leierskap van die party nie eens besonder baie van hulle nie, en in die tweede instansie word dit aanvaar dat hulle, as kiesers, altyd daar wees vir die party, want hulle het geen ander keuse nie.

Vir Afrikaners, die alternatief vir die DA is die Vryheidsfront Plus. Die probleem is waarskynlik dat dit nie werklik ʼn alternatief is nie. Die Vryheidsfront Plus is eintlik maar die DA Light. Dit is waarom die party so ʼn gewillige skoothondjie vir die DA is landwyd. Die probleem is net dit: Hoekom sal ek vir die DA Light stem, as ek vir die DA Real kan stem?

Die Vryheidsfront Plus se uniekheid is waarskynlik in hulle beleid van selfstandigheid, en, sover dit Afrikaners aanbetref, spesifiek die verbondenheid aan Orania as die sentrum van sondige staat. Maar dit kan nie werk nie. Dit is nie dat ek gekant is teen die idee van ʼn Afrikaner volkstaat nie; dit is eerder dat ek weet daardie staat kan nie groei uit Orania nie.

Die diskriminasie teen Afrikaners gaan nie beëindig word nie. Die marginalisering van Afrikaners se waardes en kultuur gaan net verskerp. Die DA gaan nie die tendens omkeer nie; selfs al sou hulle woud, en hulle wil nie noodwendig nie. Die Vryheidsfront wil, maar kan nie, want hulle het nie die vermoë nie.

Afrikaners is numeries te min om hulle belange deur konvensionele politieke strukture en kanale te beskerm. Dit sal egter help om te begin deur mense in leierskapsposisies aan te stel wat minstens weet hoe Afrikaners dink, voel en optree. Daar sal gepraat moet word oor die toekoms van Afrikaners; deur Afrikaners, en nie deur Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners, of deur die ANC regering nie. Die opsie om “te laat gaan”, en te aanvaar dat die Afrikaner, as ʼn kulturele identiteit, gaan verdwyn, moet ook op die sakelys geplaas word.

AfriForum en Solidariteit doen veel meer vir Afrikaners as die DA of die VF+. Die antwoord vir die bevordering van die belange van Afrikaners is waarskynlik buite konvensionele politieke prosesse.

 

Prentjiebron: 123RF

Comments


Frans Minnaar © Kopiereg. 2026. All regte voorbehou.

Lees asseblief die webwerf se gebruiksvoorwaardes. Indien u nie daarin instem nie, verlaat asseblief die webwerf sonder veredere gebruik.

Die privaatheid van u persoonlike inligting in die gebruik van die webwerf kan kan gelees word deur op die skakel hieronder te klik.

bottom of page