top of page

John Steenhuisen, die DA en Dion George

Ek het nie geweet dat dit ʼn prestasie was om deel te vorm van die Regering van Nasionale Eenheid nie. Ek bedoel, vir my, as kieser, as landsburger, was dit in Mei 2024 belangrik dat die ekonomie moet groei, dat die water moet loop wanneer jy ʼn kraan oopmaak, dat die vullisdrom wat ons stede geword het opgeruim moet word, dat die aanvalle op boere beëindig moet word, dat die gesteel stopgesit moet word en dat dit verdomde onbeskaamde diskriminasie teen minderhede, en veral Afrikaners, beeindig sal word.

Waaroor het die idee van samewerking tussen die ANC en DA vir ons, gewone kiesers, gegaan? Eerstens daaroor dat die fundamentalistiese rassistiese beleid van die EFF en MKP nie landsbeleid moet word nie, want dit sou gelei het tot die gryp van ons eiendom sonder vergoeding, van verskerpte rassisme teen Wit mense, maar veral Afrikaners, en tot die vernietiging van die land se ekonomie en infrastruktuur. Ek weet nie van u nie, maar ek, persoonlik, het nie ʼn josie omgegee oor of die DA toegang het tot die nasionale regering of nie, of hulle leiers vet ministeriele salarisse en kersfeeskarre ontvang of nie.

Maar skynbaar was dit vir die leier van die DA, John Steenhuisen, die hoogtepunt van sy prestasies as leier van die DA. En natuurlik was dit, want dit was die oomblik waarop hy, sonder betekenisvolle kwalifikasies of ondervinding, of slefs die moeisame optog deur die strukture van die ANC, ʼn nasionaal Minister geword het. Hy het die Blou Ligte gehaal. Hy was 'n kameraad. Van daardie tyd af sou jy vir Steenhuisen nie met geweld uit die Kabinet gekry het nie. Hy het op die Kortbroek-pad beland.

Die van u wat oud genoeg is, sal nog vir Marthinus Kortbroek van Schalkwyk onthou. Hy was die laaste leier van die voormalige Nasionale Party. Voor die 2004 verkiesing het hy aangekondig dat die NP net na die verkiesing gaan saamsmelt met die ANC. Die ooreenkoms was ʼn Kanbinetspos in ruil vir die NP. En magtig het Kortbroek aan daardie ministerspos geklou! Erger as ʼn steekdoring. Ek weet nie eens hoekom hy uiteindelik daaruit is nie; miskien ouderdom, maar waarskynlik die een of ander ANC kader wat moeg geword het vir hierdie wit gesig uit die verlede wat klaar die groot vyand uit die jare van Apartheid aan die ANC oorgelewer het, en nou net ʼn pos gevul het wat eerder aan ʼn ANC Kameraad kon toegewys word.

Terloops, dit was ook die begin van die gloriejare van die DA, want die party toe 90%+ van die voormalige NP se kiesers "oorgeneem", of an oorgeerf.

Die verskil tussen Kortbroek en Steenhuisen is dat Van Schalkwyk nogal werklik goed was in sy kabinetspos.John Steenhuisen is 'n besondere swak Minister van Landbou. Dit is onder sy toesig dat die Bek-en-Klouseer epidemie buite beheer geraak het.

[SABC Exclusive] I do have future plans: John Steenhuisen - Youtube, 11 February 2026

Steenhuisen het ontaard in 'n passievolle ondersteuner van die ANC se landbou transformasieprogram. Dit is onder sy ministerskap wat die DA se weerstand teen onteiening sonder vergoeding deurlopend verminder en versag het.

Toe gaan die ongekwalifiseerde Minister, sonder enige ondervinding in landbou of veearts - en snykunde, en hy dank John Odendaal, die bewese bekwame en kundige veearts, op sy adviespaneel oor Bek-en-klouseer af. Sy argument: "Ek is die Minister, en my besluit moet gerespekteer word."

As jy 'n banier om Steenhuisen se nek kon hang, sou dit gelees het: "Ek is John, en die Kamerade kan werklik trots wees op my; ek het mooi by hulle geleer. Lojaliteit, ideologiese getrouheid is alles, kundigheid en kennis slegs nuttig as dit dalk in elk geval deel vorm van die geheel aanbieding, en nie die kaders in meer senior posisies bedreig nie."

Aan wie laat dit jou dink? 'n Tip: Sy naam begin met ‘ “J” en sy van met ʼn “Z”. Ook ongekwalifiseerd om 'n senior politikus van 'n gesofistikeerde middel-inkomste land se gewees het.

Ek wil nou ʼn voorspelling maak: Die DA gaan op ʼn stadium by Ramaphosa (of enige plaasvervanger as President) aandring dat Steenhuisen in die Kabinet vervang moet word, en dit gaan geweier word.


John Steenhuisen is kwaad; hy is kwaad oor die kritiek dat hy nie oor die kwalifikasies beskik wat hy regstens behoort te hê vir die pos wat hy bekleë nie; hy is kwaad oor die kritiek dat hy nie goed presteer in sy pos as Minsiter van Landbou nie, en hy is kwaad omdat persone binne die Demokratiese Party met wie hy in elk geval nie goed oor die weg gekom het nie, hom gedwing het om afstand te doen van die leierskap van die party.

Steenhuisen blameer, wat hy beskou as, “konserwatiewe” faksies in die DA vir sy onlangse probleme; persepsies wat waarskynlik versterk was deur die kritiek wat hy gekry het uit die geledere van veeboere oor sy hantering van die Bek-en-klouseer-uitbraak; 'n belangegroep wat hy waarskynlik beskou as “regs”.

Skielik het hy ʼn openlike toegeneetheid teenoor Mmusi Maimane ontwikkel. Ek weet nie, miskien was ʼn werklik destyds, toe Maimane bedank het, ʼn ondersteuner. Wie sal weet? Maar hy het nooit voorheen, toe hy geborge was in sy posisie as leier van die DA, en die opvolger van Maimane, sodanige sentimente so openlik uitgespreek nie.

Nog iets: Maimane was werklik ʼn voorstander van transformasie en “regstelling” volgens die ANC resep; dit is, die resep van blatante diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners. Hy het Anneke Smith veroordeel oor sogenaamde rassisme, sonder enige tasbare bewyse op die stadium. Dit is later bewys sy was onskuldig. Hy het male sonder tal, in openbare toesprake en plasings op sosiale media, sy ondersteuning vir ʼn model van “regstellende aksie-gebaseerde" transformasie uitgespreek.  

By implikasie, was dit dan wat Steenhuisen ook gedink en geglo het? Hoekom het hy dit dan nie reguit gesê nie? Skielik neem hy ʼn beginsel standpunt in dat die DA nie moet “regsdraai” om konserwatiewe ondersteuners tevrede te stel nie.

Maar wat Steenhuisen afmaak as "regse politiek" en "weerstand teen transformasie", is vir vele van die DA se ondersteuners, en dan meer spesifiek sy tradisionele ondersteuners, niks anders nie as rasse diskriminasie nie; en verset daarteen is verwerping van rasse-diskriminasie teen hulle, hulle kinders, hulle taal, hulle kultuur en hulle ekonomiese geleenthede.

Hierdie was die mense wat die DA deur dik en dun gesteun het. Dit was hulle wat die 16% opgemaak het in die tye waarna Steenhuisen nou so minagtend verwys as “die tyd wat die DA net 16% van die stemgeregtigdes se ondersteuning ontvang het.” ʼn Groot persentasie van hierdie kiesers het vir die DA gestem juis onder die indruk dat die DA gekant is teen ras-gebaseerde diskriminasie, en sou veg om hulle daarteen te beskut. Dit is die mense na wie Steenhuisen minagtend verwys “as die Regses.”


Dit is ook een van die primêre redes vir sy intense afkeur aan Helen Zille. Steenhuisen kies sy woorde versigtig, maar dit is so duidelik soos daglik dat hy nie ooghare het vir Zille nie.

Zille het lankal besef vir die DA om sy tradisionele ondersteuners te vervreem, is om die steunpilare, die fondament, van die party te verbrokkel. Maar die eise van diegene wat hierdie fondament uitmaak, plaas nou Steenhuisen se persoonlike belange op die spel, en hy is in verset. Hy sien hulle as die vyand wat gelei het tot die verlies van sy partyleierskap, en dalk selfs sy kabinetpos in gevaar mag stel.

Steenhuisen se verwagting, sy groot waagstuk, is dat die verlies aan steun onder tradisionele ondersteuners van die DA opgemaak sal word deur die wins van steun uit ʼn segment van die kieserskorps wat vir die eerste keer sedert 1994 oorweging daaraan skenk om die party te steun, naamlik middelklas Swart Suid-Afrikaners. Maar hulle eis is aanvaarding en toepassing van sigbare transformasie; miskien nie geskoeie op die ANC model nie, maar sigbaar. Steenhuisen is nou gemaklik daarmee, en, in sy portefeulje, tree hy dienooreenkomstig op. So doen meeste van die DA kollegas wat hy in die Kabinet aangestel het.

Maar ek dink die DA gaan groot verloor in die proses. Aan die behoudende kant gaan hulle steun afstaan aan die Vryheidsfront Plus, as gevolg van hierdie beweging na Links. John Steenhuisen, in persoon, gaan die DA derduisende ondersteuners vanuit die Afrikaner-gemeenskap kos. Sy "afdanking" het te laat gekom, die skade is reeds gedoen. En die party kan dit nie ongedaan maak nie, want dit sal beteken die verlies aan steun vanuit die geledere van die Swart middelklas.

Aan die linkerkant gaan potensiële Swart “eerste-keer DA kiesers” ervaar dat die party ondersteuning-momentum begin verloor, dat daar geweldig baie verset aan die regtekant van die party opbou, en argumenteer “dit is nie die moeite werd nie. Hulle gaan Apartheid terugbring” Hulle gaan eerder hulle stemme verskuif na die EFF, by die ANC bly, of na ActionSA oorskuif. Herman Mashaba is ʼn kapitalis, maar ook ʼn groot ondersteuner van regstellende rassebeleid (met ander woorde, diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners).

Die ding is net dit: Die DA het ʼn dubbelloop probleem sover dit verlies aan ondersteuning aangaan: Steenhuisen het Afrikaners vervreem, en die party het, deur jare se stiksienige optrede, Kleurling ondersteuners verjaag. Dit was ʼn enorme, enorme fout om nie meer Kleurlingleiers in hoë-profiel posisies beskikbaar aan die party aan te stel nie; net soos wat dit was om nie meer Afrikanerleiers as die gesig van die DA voor te stel nie. Nou pluk hulle die vrugte: Kleurlingkiesers stroom na die PA. Afrikaners, woedend oor jare se minagting en stilswyende verset teen diskriminasie, neem hulle toevlug elders.

Dit is absolute nonsens dat die DA se toetrede tot die Regering van Nasionale Eenheid tot sukses vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap gelei het.

Die ANC (se beleid) domineer die RNU totaal en al (ongeag hoe potensieel bekwaam ook al DA Ministers is). Suid-Afrika het vyande gemaak van die VSA, en waarskynlik ook van Argentinië en verskeie Europese state. Internasionale ondervinding bewys dat dit oor die medium tot langtermyn tot fundamentele ekonomiese verval gaan lei. Die DA kan niks daaraan doen nie. Steenhuisen wil niks daaraan doen nie; hy is openlik aggressief vyandig teenoor Trump, en sy eerste belang lê by die behoud van sy Kabinetspos (waaroor hy die ANC leierskap se guns moet behou).

Landou is in die grootste gemors as meer as 'n eeu. Die swak hantering van Bek-en-klouseer dreig om die vleisbedryf te verlam, en vleirspryse die hoogte te laat opksiet. Verhoogte uitvoere van landbouprodukte is die resultaat van goeie boere en die pogings van landbouorganisasie, nie die Minister van Landbou nie. Onderwys is in ʼn groter gemors as ooit tevore, met die aanvaarding van die BELA wet, en ʼn DA minister wat duidelik gretig is om dit ten volle te implementeer. Elektroniese identiteitsdokumente beteken bloedweinig terwyl die poreuse landgrense ooplê en buitelandse misdadigers die land binne stroom. Suid-Afrika is nie in ʼn “konstruksieterrein” omskep nie. Ekonomies groei sal miskien 1,4% vir die jaar bereik (maar waarskynlik nie); ver onder die toename in bevolking en hoegenaamd nie goed genoeg om die werkloosheidsituasie om te keer nie.

John Steenhuisen se ommeswaai tot 'n Ramaphosa-pryssanger, sy aandrang dat die DA, blykbaar basies onder geen omstandighede, ten spyte van die ergste moontlike provokasie, die Regering van Nasionale Eenheid sal verlaat nie, en sy ondersteuning vir die ANC se weergawe van transformasiebeleid, is onmiskenbaar. Dit gaan oor die blou ligte. Dis dit.

Vroeg in 2025 het Steenhuizen homself openlik verbind tot die "transformasie van die landbousektor". Teen hierdie tyd weet ons almal dat dit beteken om teen wit Suid-Afrikaners te diskrimineer. Ek haal aan van die webwerf Food for Mzansi:

Minister van Landbou, John Steenhuisen, het sterk voorspraak gemaak vir transformasie in die sektor. Hy het aangehaal dat die regering billikheid moet vestig wat niemand uitsluit of van niemand neem nie, en eerder die koek vir almal moet laat groei.
Minister van Landbou, John Steenhuisen, het sy verbintenis tot landboutransformasie herbevestig en gepleit vir inklusiewe groei. In reaksie op Sakeliga se bewerings van skadelike SEB-uitbreiding het hy dit as ongegrond en misleidend afgemaak.
Sakeliga het beweer dat Minister Steenhuisen (toe hy Minister van Landbou was) strenger SEB-vereistes afgedwing het, transformasiefondse geskep het en SEB verpligtend gemaak het, wat hulle aanvoer besighede en die ekonomie benadeel. Steenhuisen se reaksie was dat SEB-beleide regeringsmandate is.

Ek haal breedvoerig aan vanaf Sakeliga se webwerf:

Die Minister van Landbou, John Steenhuisen, brei SEB in die landbousektor uit. Dit is skadelik en voeg aansienlike risiko by tot Suid-Afrika se reeds gespanne internasionale handelsbetrekkinge. Ons doen verdere ondersoek en konsulteer met ons regspan oor gepaste volgende stappe. Minister Steenhuisen brei SEB op ten minste twee maniere uit. Eerstens handhaaf die minister AgriSEB en verdedig die implementering daarvan. AgriSEB is die departement se amptelik aangenome beleid om SEB verpligtend in die landbou te maak. Alhoewel dit 'n ernstige saak is, is die beleid tans nog ver van ten volle geïmplementeer en bly landbou-aktiwiteite in Suid-Afrika oor die algemeen robuust. Terwyl die beleid van AgriSEB Minister Steenhuisen se ampstermyn voorafgaan, het hy tot dusver nie net versuim om dit te hersien nie, maar hy het ook sy Direkteur-Generaal (DG) se hernuwing van regulasies in ooreenstemming met die beleid gehandhaaf.
Die tweede manier waarop Minister Steenhuisen tot SEB bydra, is deur verskeie transformasiefondse te stig, direk in ooreenstemming met AgriSEB . Tussen Oktober 2024 en Januarie 2025 het die minister ten minste drie regulasies uitgevaardig om miljoene rande vir "transformasie" as deel van statutêre gewasheffings te reserveer. Die heffings word opgelê aan boere, handelaars, verpakkers, verwerkers, uitvoerders en ander in die waardekettings van drie gewasse: -- sojabone, -- tafeldruiwe en gedroogde wingerdvrugte. Elke regulasie wat deur Minister John Steenhuisen onderteken is, bepaal dat "ten minste 20% aan transformasie toegeken word." Hy bepaal dat hierdie transformasiefondse deur aangewese bestaande bedryfsliggame geadministreer moet word, wat in elke geval die res van die heffings toegeken word vir doeleindes van hul bedryfsverwante aktiwiteite, soos bemarking, navorsing, ens.

Steenhuisen se beleidsposisies en sy algemene houding sedert 2025 was voor die hand liggend: Ideologies het hy na links van die politieke spektrum verskuif. Hy het byvoorbeeld openlik en selfs aggressief geïrriteerd gereageer op AfriForum en Solidariteit se standpunt oor Trump se reaksie op rassediskriminasie in Suid-Afrika. Soos die jaar gevorder het, en veral sedert hy begin voel het dat hy toenemend in die spervuur is, het hy al hoe meer openlik anti-Trump-retoriek uitgespreek. Dit is natuurlik sy keuse. My vraag is net die volgende: Is dit amptelike DA-beleid? Ek is nie so seker nie.

John Steenhuisen se algehele gebrek aan steun vir Emma Powell in Julie 2025, die destydse DA-woordvoerder vir Buitelandse Sake, was voor die hand liggend . (Sy het die feit blootgelê dat Ramapgosa se spesiale gesant na die Verenigde State, Mcebisi Jonas, nog nie 'n voet in daardie land gesit het nie, en dat sy aansoek om 'n visum in werklikheid geweier is). Trouens, ek sal glad nie verbaas wees as dit blyk dat hy een van die figure was wat druk op haar uitgeoefen het om uit haar posisie as die DA se woordvoerder te bedank weens Ramaphosa se woede oor die saak nie. Hy het sy eie posisie in die Kabinet berskerm teen Ramaphosa se argwaan deur Powell onder die bus te gooi.


Dion George was die Katalisator

Dion George het die DA se beeld van reinheid en onkreukbaarheid gebreek.

Ek het van die begin af die Demokratiese Alliansie se bevindinge vervat in die verslag van sy Federale Regskommissie, oor mnr. Steenhuisen se gebruik van sy kredietkaart, as twyfelagtig beskou. Nie dat ek die verslag gesien het nie; blykbaar is dit as "topgeheim" geklassifiseer en nie vir openbare insig nie.

Vir die doeleindes van hierdie opinie haal ek aan uit die party se persverklaring in hierdie verband:

Een van die bewerings wat die FLC (“Federal Legal Commission”) ondersoek het, was dat die Leier partyfondse wanbestee het deur die gebruik van sy party-uitgereikte kredietkaart. Die verslag het bevind dat die uitgawes op die kaart volledig gerekonsilieer is, dat daar geen prima facie bewyse van wanbesteding was nie, en dat die beperkte aantal persoonlike uitgawes voldoende verduidelik en terugbetaal is. (Vertaal in Afrikaans)

Dis nie waar nie; Steenhuisen self het tydens sy onderhoud met die SABC in die openbaar erken dat hy Uber-etes met sy DA-kredietkaart gekoop het. Wat is "rekonsiliasie" van die gereelde besteding van die fondse? As ek R100 van my vriend steel en dit dan aan hom terugbetaal toe hy my op heterdaad betrap het, kanseller dit die misdaad op sigself? Die gevolgtrekking kan slegs wees dat die DA die reëls gebuig het, gelieg, om Steenhuisen en die party se reputasie te beskerm.

Waarom aanvaar ons, veral wit Suid-Afrikaners, altyd dat die Demokratiese Alliansie onskuldig, maar die ANC outomaties skuldig is? Jy mag dalk argumenteer dat dit as gevolg van geskiedkundige rekord is, maar watter rekord? Die DA was tot die algemene verkiesing van 2024 nie die regerende party nie. Dit het die ANC voortdurend oor korrupsie aangeval. Die party was uit die kollig, sonder beheer oor nasionale staathulpbronne, en derhalwe nie in ʼn posisie om te steel nie. Dit het nie toegang tot staatshulpbronne gehad nie, behalwe (tot 'n beperkte mate) in die Wes-Kaap, spesifiek die Wes-Kaap Provinsiale Administrasie. Vir hulle is daar geen bewese "prestasierekord" buite die Wes-Kaap nie.

In gevalle waar die DA in die verlede in koalisie met ander partye in stede eb dorpe regeer het, was daar in werklikheid sporadiese gevalle van onbehoorlike optrede. Om maar een voorbeeld te gee: Onthou u ʼn persoon genaamd Randall Williams? Hy het in 2023 as DA-burgemeester van die Stad Tshwane bedank na bewerings van tenderonreëlmatighede. Die Daily Maverick het hierdie bewerings destyds soos volg aangehaal:

A DA insider told Daily Maverick that Williams had come under fire shortly after his alleged involvement in a R26-billion tender bid involving a service provider Williams had allegedly handpicked to obtain a concession to refurbish, finance, operate and maintain the Pretoria West and Rooiwal power stations.  

Die aanhlaing verwys slegs maar na een geval, as 'n voorbeeld.

William se verdediging was die gewone "Wit rassistiese oorheersing in die DA"-argument. Vervelig en nie nou juis die kwessie nie; die kwessie is dat meer as een DA-ampsbekleër in senior posisies in die staat oor die jare van oortredings beskuldig is, maar die media het gekies om dit te ignoreer, as gevolg van die party se beeld as "skoon en vlekkeloos".

Laat verlede jaar het 'n fluitjieblaser in die Stad Kaapstad polisie-klopjagte ontketen, wat gelei het tot ondersoeke na tenderbedrog van R1.6 miljard. Dit is onder die bestuur van die "onaantasbare" Gordon Hill Lewis, die man wat nou geoormerk is om oor te neem as leier van die DA.

Voor 1994 was daar nie sulke skandale nie; nie omdat, soos die media te vertelle sal hê, dit “weggesteek” was nie, maar omdat dit nie gebeur het nie, nie op die skaal waarop dit deesdae die norm geword het nie.

Ek is jammer, maar hierdie hele saak met Dion George en John Steenhuisen stink; en so ook die DA se reaksie daarop. Om dit eenvoudig te stel: Ek dink nie Dion George is die soort persoon wat swak ingelig sal wees oor die finansiële sake van die DA nie, veral omdat hy verantwoordelik was daarvoor, aangesien hy die party se hoof finansiële beampte was. Ek glo ook nie dat hy beskuldigings oor Steenhuisen se bestedingsgewoontes sal fabriseer nie (en veral nie bloot uit die lug gryp nie). Soos ons in Afrikaans sê: “Waar daar 'n nuweling trek, is daar 'n vuurtjie .”

Ek weet Dion George is, soos beskuldig, waarskynlik 'n arrogante persoon. Maar Steenhuisen is ook. En arrogansie maak jou nie onbevoeg nie; trouens, dit is dikwels bevoegdheid wat tot arrogansie lei; of dan, in elk geval, gewaande bevoegdheid. In George se geval blyk dit uit alle beskikbare getuienis dat dit werklike, bewese bevoegdheid is Arrogansie maak jou 'n onaangename persoon, maar nie onbevoeg nie.

George is al meer as 30 jaar 'n lid van die Demokratiese Party. Hy het 'n MBA en 'n doktorsgraad in Bedryfsadministrasie. Hy is deeglik gekwalifiseerd en ervare in finansiële administrasie. Hy het 'n leeftyd, en 'n loopbaan, in die party belê, en het baie om te verloor. Steenhuisen het 'n selferkende probleem met die bestuur van sy persoonlike finansies (verwysend na sy kredietkaartskuld van R150 000).

Die een kritieke ding wat ek oor George sal sê, is dat dit duidelik is dat hy tans sy beskuldigings maak en Steenhuisen aanval weens 'n diepgewortelde woede oor sy verwydering as Minister van Omgewingsake; dit wil sê, hy tree op uit persoonlike wraak. As dit nie daarvoor was nie, sou ons geen idee gehad het van die beweerde onreëlmatighede nie. Maar, dit is algemeen bekend dat 80% van versteekte bates aan die SAID gerapporteer word deur verbitterde eggenote wanneer romantiese verhoudings versuur. Dit beteken nie dat die belastingontduiking nie werklik is nie. Dieselfde ding.

Die media beklemtoon George se prestasie as Minister van Omgewingsake, of gebrek daaraan, baie. Vir my is dit 'n bysaak tot die vraag of George se beskuldigings teen Steenhuisen waar of vals is.

Ek dink, ek is oortuig, dat George geskok was deur die bevindinge van die DA se federale regskommissies oor sy kredietkaartbewerings. Hy het werklik geglo dat Steenhuisen sy DA-kredietkaart vir persoonlike aankope gebruik het.


Bron geraadpleeg:

Mediaverklaring oor die uitkomste van die DA se Federale Uitvoerende Komitee-vergadering

Uitgereik deur Helen Zille – Voorsitter van die DA se Federale Uitvoerende Komitee, 12 Januarie 2026 in Nuus.

[SABC Exclusive] I do have future plans: John Steenhuisen - Youtube, 11 February 2026.

Tshwane-burgemeester Randall Williams tree af en vermy sodoende nog 'n mosie van wantroue.

Daily Maverick, 13 Februarie 2023: Tshwane-burgemeester Randall Williams tree af en vermy sodoende nog 'n mosie van wantroue.

Binne Dion George se vertrek uit die DA - YouTube - eNCA

Stof tot nadenke. https://www.foodformzansi.co.za/steenhuisen-slams-false-claims-on-agricultural-transformation/ . Steenhuisen kritiseer 'valse' bewerings oor landboutransformasie. 18 Februarie 2025.

Minister van Landbou maak SEB verpligtend. https://www.sakeliga.org.za/insight/minister-of-agriculture-making-bee-compulsory . Sakeliga webwerf. 13 Februarie 2025.


Beeldbron: 123RF




Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2026. All rights reserved.

The Terms of Use for this website can be accessed by clicking on the link below. If you don't agree to these terms, please leave the site without further use thereof.

The website's policies to protect personal information and privacy can be read by clicking on the link below.

bottom of page