Psigologiese disassosiasie. Graaff-Reinet. Robert Sobukwe Town.
- Frans Minnaar
- 9 minutes ago
- 4 min read
So, die Kamerade het nou weer op hulle gewone stemwerwingsveldtog gegaan en ʼn klomp dorpe, stede en strate se name gaan verander. Oos-London is verander na KuGompo City (asseblief, moet dit nie probeer vertaal nie; in Suid-Afrika 2025, sal geen Afrikaanse vertalings geduld word nie). Die voormalige krimineel (selferkende, nie my woorde nie) en deesdae Minister van Sports, Arts and Culture (weereens, geen Afrikaanse vertaling nie, asseblief), sal jou verhoed om die In-die-Bos fees by te woon op grond van ʼn gebrek aan Transformasie (en sommer die naam verander, terwyl hy besig is) as jy goed begin verafrikaans.
So ʼn paar jaar terug het ʼn ander een van die ANC se hoogsbekwame Ministers wat soveel bygedra het tot die verval (ekskuus, Kamerade, ek bedoel tot die transformasie en vernietiging) van Suid-Afrika, besluit dat die naam van die Anglo Boereoorlog verander moet word na die Suid-Afrikaanse oorlog, ten einde meer “insluitend” te wees. Jammer, Kaders, maar die Anglo Boereoorlog behoort aan Afrikaners, en ek sal altyd as sulks daarna verwys as ek daaroor skryf of praat. So, ek erken nie julle vernietiging van my kulturele regte nie; die oorlog se naam, vir my, sal altyd wees die Anglo Boereoorlog.
Ek het nuus vir die Kamerade; na 32 jaar, het ek geakklimatiseer. Wanneer die naamsveranderinge begin, lag ek minagtend, en beskerm my veragting vir ʼn regering wat alles wat werk in hierdie land vernietig, net verder. Ek voel naar wanneer ek dink aan ʼn regering wat miljarde rande steel, geen ekonomiese groei of welvaart kan skep nie, en dit wat wel bestaan vinnig vernietig. Dit is presies dieselfde as die een-na-die-ander standbeeld vernietig word, op ons strate, universiteite en in elke denkbare openbare ruimte.
Psigologiese disassosiasie. Ek gaan ʼn definisie verbatim aanhaal soos genereer deur Google AI: “Psigologiese dissosiasie is 'n proses waar 'n persoon se gedagtes, gevoelens, herinneringe, omgewing, gedrag en identiteit nie meer soos gewoonlik met mekaar verbind is nie. Dit is 'n verdedigingsmeganisme van die brein, dikwels 'n reaksie op oorweldigende stres of traumatiese gebeure, waar die gees "ontkoppel" van die werklikheid om die individu te beskerm.” Twee-en-dertig jaar is ʼn lank tyd in ʼn mens se lewe. Die Bybel sê ons sal sewentig jaar oud word; of, as ons baie sterk is, tagtig. Twee-en-dertig jaar is byna die helfte daarvan.
Ek is agt-en-vyftig jaar oud, gebore in 1968. Die veranderinge in Suid-Afrika het lank voor 1994 begin. Ek is gebore in Apartheid Suid-Afrika, wat voortgeduur het tot so in 1980, of miskien ’81. Ek was toe dertien jaar oud. Toe het die prosesse van deurlopende veranderinge begin. Harde apartheidswette was afgeskaf. Die politieke-staatkundige stelsel het verander. Die proses van voortdurende verandering het voortgeduur, en momentum begin kry tot FW de Klerk se toespraak in 1990 in die Parlement, toe Nelson Mandela se vrylating, die ontbanning van die vryheidsbewegings en die begin van die onderhandelingsproses aangekondig was. Elke keer was ek uitgeruk uit omstandighede, en staats-gesteunde waarborge van posisie, regte en voorregte, en moes ek aanpas by wat ek ervaar het as drastiese veranderinge, revolusies in die kleine. Ek en die geslagte net voor – en net na my.
Toe het die onderhandelinge van die vroeë 1990s begin, wat gelei het tot die politieke oordrag van mag in 1994. Lank, jare voor daardie oomblik, het die staatsdiens en besighede in Suid-Afrika alreeds begin transformeer, en die indiensneming van voorheen benadeelde individue begin prioritiseer. Ek was gebore binne ʼn bepaalde begrip van toeganklikheid en voorkeur in die Suid-Afrikaanse owerheidsbestel, maar deur die jare moes ek voortdurend aanpas by nuwe realiteite, verskuiwende paradigmas; van posisies van bevoorregting, tot posisies van benadeling.
Maar sien, dit is die ding: Dit is nou die jaar 2026. Die jaar 1981 lê 45 jaar in die verlede. Gedurende daardie 45 jaar was daar nie ʼn enkele jaar wat ek nie blootgestel was aan kulturele, politieke of ekonomiese magsafname, en, met tye, selfs grondverskuiwings paradigmatiese transformasies nie. Mens raak gewoond. Jy pas, Jy leer om jou bewustheid te skei van emosies wat jou menswees sou gedomineer het, sou slegs een-of-twee van hierdie skokke oor jou lewe gekom het. Ingrypende skokke, wat jou kultuur, en jou definisie van jouself en van diegene met wie jou primêr assosieer herdefinieer; wat jou toegang tot ekonomiese geleenthede fundamenteel verminder, en wat bevorderingsgeleenthede op meriete feitlik totaal uitskakel.
Sien? Psigologiese disassosiasie. Die Kamerade het nie toegang tot my innerlike menswees nie, want ek het my ervaringswêreld afgesny, geskei van my fisiese omstandighede.
Maar ek weet wel een ding: Die sogenaamde “Transformasie” wat in Suid-Afrika gedryf en afgedwing word, is niks anders nie as flagrante, blatante rassediskriminasie nie. Dit is opsetlik daarop gemik om my taal en kultuur, die Afrikaner volksverband waarmee ek assosieer te straf (wraak) te neem, te wys “wie’s nou die baas”, en ʼn verwronge narratief van sogenaamde “Imperialisme” te vernietig. Dit is nie in lyn met die gees van die politieke skikking ooreengekom in 1994 nie. (En al is dit ook, kan ek dit steeds nie gedwee aanvaar nie).
Graaff-Reinet het vir Afrikaners besondere geskiedkundige betekenis. Die verandering van die naam daarvan na Robert Sobukwe Town is suiwer ʼn daad van magsbewys, van opsetlike revolusionêre retoriek. As die kamerade dink hulle het ʼn stekie ingekry; o, wel, die werklikheid is dat dit al jare lank in die nuus was, en ek het geweet dit gaan kom. Ek lag daaroor. Onthou psigologiese disassosiasie.
Maar net vir die rekord: Ek sal verwys na Pretoria, nie Tshwane nie; na die Anglo-Boereoorlog, nie die Suid-Afrikaanse Oorlog nie; na Kerkstraat, nie Oliver Tamboweg nie; na Oos-London, nie KuGompo City nie en na Graaf-Reinette, nie Robert Sobukwe Town nie.
Julle sê mos al lankal, Kamerade, ons leef in twee wêrelde, een Wit en Ryk en een Swart en Arm (wat nie waar is nie, want Transformasie het ʼn superryk Swart klas geskep, en derduisende Blankes verarm). Maar, in elk geval, laat ons dan nou maar so leef: In ʼn wêreld van Graaff-Reinette, en ʼn ander van Sobukwe Town.
Prentjiebron: Prixabay. Ron Porter.