Die Israeli chargé d’affaires
- Frans Minnaar

- Jan 21
- 10 min read
Die Kamerade irriteer my verskriklik, veral met tye. Nou het hulle weer gegaan en die chargé d’affaires van die Israeli ambassade in Suid-Afrika (Ariel Seidman) tot persona non-grata verklaar en hom 72 uur gegee om die land te verlaat.
Dit is weereens ʼn suiwer Ideologiese besluit.
Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn maniese obsessie oor sogenaamde “soewereiniteit” sedert President Trump hard op die ANC neergekom het oor die land se interne diskriminasie, en hulle minagting vir die geweld teen boere en plaaswerkers. Die ding is net dit: Trump het dit “Genocide of Afrikaners” genoem, maar dit het altyd eintlik maar gegaan oor een ding, en dit is die hofsaak wat Suid-Afrika teen Israel in die Internasionale Geregshof aanhangig gemaak het.
Die ANC het sedert die heel eerste dag wat hulle die regering in Suid-Afrika oorgeneem het, geen geheim gemaak van hulle hewige, en ideologies-gedrewe, vyandigheid teenoor die Verenigde State nie. Daar word deurlopend verwys na die VSA as die “Imperiale Moondheid.” As daar een ding is wat die Kamerade die koue sweet gegee het, van dag 1 of, dan was dit dat hulle gedwing sou word om die gesag van die VSA te erken; dat hulle op ʼn wyse genoodsaak sou word om erkenning te gee aan Suid-Afrika se ondergeskiktheid aan die wil en wense van Amerika.
Die ANC het veral ʼn obsessie met, en ʼn haat vir, Ronald Reagan. Daar is verskeie redes voor, waaronder tel die feit dat Reagan as ʼn “ondersteuner” van die voormalige Nasionale Party gesien was. Hy het in 1985 aanvanklik die omvattende anti-Apartheidswet wat deur die VSA se Kongres aanvaar was, geveto (totdat meer as twee-derde van beide die Huise van die Kongres gestem het om die veto om te keer). Verder het die Reagan Administrasie, as deel van die omvattende stryd teen Kommunisme, so ver dit moontlik was, die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag ondersteun die oorlog teen die Angolese regering en later die Kubane aan Suidwes se noordelike grens.
En, baie belangrik: Reagan het die VSA, en die Westerse wêreld, gelei tot ʼn finale oorwinning in die Koue Oorlog, toe die Sowjet-Unie weens ekonomiese ineenstorting begin ontbind het, en die Berlynse Muur afgebreek was. Vir die ANC was dit ʼn rampspoedige gebeurtenis, want dit het gelei tot die verlies van die legitimiteit van hulle oorkoepelende rewolusionêre ideologiese grondslag, naamlik Kommunisme. Dit het ook geweldige simboliese betekenis, en bewustheid van nederlaag, gelaat by bewegings en lande wat tradisioneel swaar gesteun het op die voormalige Sowjet-Unie se status as ʼn dominante supermoondheid, wat ingesluit het die ANC, en diegene met wie hulle vandag nog diep emosionele bande het, soos Kuba en Rusland.
Tog, ironies genoeg, het die val van Kommunisme en die Sowjet-Unie juis bygedra tot die val van Apartheid in Suid-Afrika; waarskynlik meer as net “bygedra”, dit was die vernaamste oorsaak daarvan. Skielik het die Westerse wêreld en hulle ideologiese bondgenote, soos Japan en Suid-Korea, Suid-Afrika nie meer nodig gehad om die bedreiging van Kommunistiese dominasie in Suid-Afrika te verhoed nie. Die morele argument oor die onaanvaarbaarheid van Apartheid, en die voortbestaan van ʼn ras-gebaseerde minderheidsregering, wat onderdrukkend teenoor die meerderheid Swart Suid-Afrikaners opgetree het, het oorweldigend begin word, namate die praktiese oorwegings van die stryd tussen Kommunisme en Kapitalisme, Diktatoriale regimes teenoor Vryheid, verdwyn het. Die “Vrye Wêreld” het teen die Suid-Afrikaanse minderheidsregering gedraai, en dit totaal begin isoleer en afgesny van globale ekonomiese, politieke, maatskaplike, handel en sport netwerke.
Aanvanklik, na 1994, het die VSA hom “gedra”. Dit het baie te make gehad met die invloed en internasionale aansien van Nelson Madela, sowel as met die feit dat daar aanvanklik, gedurende die oorgangsproses in Suid-Afrika, ʼn Demokraat aan die bewind was (in die persoon van Bill Clinton). Later, onder die George Bush administrasie, het die Mandela-effek voortgesluimer, en Thabo Mbeki het op ʼn persoonlike vlak ʼn goeie verhouding gehad met Bush. Verder, Suid-Afrika het, ten spyte van ANC retoriek, ʼn merendeels kapitalistiese ekonomiese stelsel nagevolg, wat min of meer in lyn was met die VSA se begrip van ideologiese aanvaarbaarheid.
Daarna het die Barak Obama era gevolg, en vir die ANC, en die Suid-Afrikaanse regering, was die blote feit dat Obama Swart was, genoeg rede om nie moeilikheid te maak met die VSA nie; net soos die simboliese betekenis en rasse-geskiedenis van Suid-Afrika waarskynlik vir Obama genoeg was om hulle negatiewe retoriek van die land sonder teenreaksie te verduur. Obama het geen geheim gemaak van sy byna slaafse bewondering van Nelson Mandela nie. Verder het Obama werklik ideologiese begrip gehad vir die rasse-politiek, of dan “regstelling” wat op daardie stadium deur die Suid-Afrikaanse regering begin was.
Maar die ANC, as politieke party, het nooit sy uiters vyandige retoriek teenoor die VSA laat staan nie. Gedurende die Obama Administrasie, en dan veral sy eerste termyn in die Withuis, het dit verminder, maar nooit weggeaan nie. Die ANC, in sy wese, sien die VSA as Vyand Nommer 1. Die VSA het simbolies betekenis, wat teruggevoer kan word tot die wesenlike aard van die ANC, en feitlik alle betekenisvolle identifisering gedurende die jare van die Vryheidstryd, naamlik die stryd tussen die VSA en die Sowjet-Unie, met die gepaardgaande begrip van ideologie en lojaliteite. Daar is waarskynlik net een ander identifiseerbare entiteit teenoor wie daar soortgelyke gevoelens van aggressie en antagonisme in die geledere van die ANC bestaan, en dit is Afrikaners.
Solank die VSA wêreldpolitiek – en mag domineer, sal die simboliek van die Finale Oorwinning nooit verwesenlik word nie. Die posisie van Kuba in wêreldpolitiek, spesifiek met verwysing na die land se rol en militêre ondersteuning aan SWAPO en uMkhonto weSizwe gedurende die bosoorlog, en die impak van die VSA se sanksies teen die land, is veral ʼn diep sweer in die begrip van die ANC oor geopolitiek. Vir die ANC is Kuba ʼn soort van ʼn verlengstuk van die eertydse Sowjet-Unie, en die een bastion wat deur die totale verval van Kommunisme rondom hulle, “uitgehou” het, en die VSA weerstaan het.
Die ander konflik wat tot in die wese van die ANC se begrip van geopolitiek strek, is die stryd tussen Israel en Palestina. Die ding is dit: Die destydse Israeli regering het noue bande met die voormalige Apartheidsregering van Suid-Afrika gehad. So is dit geen geheim nie dat die twee lande saamgewerk het om kernwapens te ontwikkel. Verder ook, deur baie jare heen, het die stryd tussen die Jode en die Palestyne, in die gebied “tussen die Rivier en die See” simbolies betekenis vir die ANC begin kry; ʼn refleksie van hulle eie stryd teen Apartheid Suid-Afrika.
Dit is soos ʼn “perfekte storm”: Die VSA en Israel is baie nou verbonde. Dit kan baie te doen het met die “Israeli-lobby” se invloed in Amerikaanse politiek en besigheid, maar dit het ook te doen met die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog, en die identiteit wat VSA as ʼn gevolg daarvan aangeneem het. Dit is onmiskenbaar besig om te verander, veral aan die linkerkant van die Amerikaanse politiek, maar tans is dit steeds die geval.
Die VSA en Israel gesamentlik is vir die ANC die kulminasie van die Duiwel, die finale vyand. (Miskien sal jy tegnies die Wes-Europese state kan bytel as deel van “die vyand”, maar daardie state het polities-ideologies toenemend verwyderd geraak van die VSA en Israel). Die ANC voel geminag; asof die tradisionele vyand hulle soewereiniteit oor die land wat hulle deur die vryheidstryd, en emosionele vereenselwig met die Sowjet-Unie en Kuba verkry het, ondermyn.
In die VSA was daar, oor baie jare, ongetwyfeld altyd maar ʼn tipe van “emosionele assosiasie” met Afrikaners in Suid-Afrika. Die geskiedenis, en selfs die afkoms, van die twee groepe, Afrikaners en Amerikaanse setlaars, is feitlik identies. Konserwatiewe Amerikaners deel ongetwyfeld ʼn wêreld – en lewensbeskouing baie na aan die waaraan Afrikaners hulself ook tradisioneel gebonde gevoel het. Moet egter nie vir een oomblik ʼn fout maak nie; die eintlike strydpunt, waarom alles draai, is eerstens Israel, en tweedens die Suid-Afrikaanse regering se assosiasie met wêreldmagte wat deur die VSA gesien word as bedreigings vir hulle voortgesette globale dominasie, naamlik Sjina en Rusland.
Die ANC het die rykste land in Afrika, en die 24ste grootste ekonomie in die wêreld, oorgeneem in 1994. Dit was ʼn geweldige groot prys; om die waarheid te sê, dit het die leiers van die ANC nie net nasionale aansien gegee nie, maar hulle was ook onmiskenbaar die heersers van die “supermoondheid van Afrika.” ʼn Land met die magtigste weermag in Afrika. Dit was die “jewel in the crown” van die Afrika bevrydingsoorloë.
Dit het saamgeval met die tydperk van Nelson Mandela se invloed in die wêreld. Suid-Afrika het totaal bo sy werklike gewig (wat al klaar aansienlik was) in geopolitiek opgetree. Die Verenigde Nasie het selfs ʼn internasionale dag vir Nelson Mandela verklaar. Dit was ook gedurende die tydperk wat Suid-Afrika uitgenooi was om ʼn lid te word van die G20, en selfs om in te sit in die vergaderings van die G7.
Dit was gedurende die tydperk wat enorme egos gevorm het. Die kamerade was internasionaal verwelkom. Geen werklike, betekenisvolle kritiek teen die ANC en die optrede van sy leiers was geduld nie. Selfs die President van die VSA het sy verklarings, en woorde, versigtig gemeet en geformuleer wanneer hy met Mandela, en later met Suid-Afrikaanse Presidente, te doen gehad het.
Hierdie skielike sensitiwiteit oor die Israeli se chargé d’affaires wat glo die Suid-Afrikaanse President herhaaldelik nie met die nodige respek hanteer het nie, kom van hierdie perspektief, waar ANC kaders verwag om met uiterste respek, en self onderdanige ondergeskiktheid, behandel te word. Vertsataan een ding van die huidige korps van leiers in die ANC: Hulle het vir meer as dertig jaar niks anders geken as mag en prestige, verheerliking, en selfs ʼn mate van verafgoding nie. Dit is nie net dat hulle nie glo dat hulle dalk verkeerd kan wees, of swak regeer het nie; dit is dat hulle dit hoegenaamd nie kan konseptualiseer nie. Dit bestaan doodeenvoudig nie in hulle verwysingsraamwerk nie. Hulle sê dit nie net nie, hulle glo werklik dat hulle buitelandse beleid gebaseer is op die bevordering van menseregte en internasionale reg.
Wel, hier’s nou die ding: Die Kamerade het die rykste land in Afrika (in 1994) se ekonomie vernietig tot waar dit vandag, in terme van BNP (uitgedruk as koopkragpariteit) ondergeskik is aan beide die van Egipte, sowel as Nigerië. Nie slegs dit nie, maar miskien nog meer insiggewend, die land se nominale BNP het verswak van die 24ste goorste in die wêreld, tot die 38, of 39ste (afhangende van die bron wat jy raadpleeg). Die land waaroor hulle regeer het doodeenvoudig net nie meer die ekonomiese, militêre of morele kapasiteit wat dit in 1994 gehad het nie. Dit het nie meer dieselfde aansien nie. Die leiers daarvan word nie meer met dieselfde respek gesien of geag nie.
Die aanhoudende aanvalle op die VSA het tot reaksie gelei, tot op ʼn punt waar die VSA tans, onder President Trump, vyandig teenoor Suid-Afrika begin optree het.
Maar die ANC, en Ramaphosa, glo dat die land steeds ʼn “sagte supermoondheid” is wat internasionale geskille kan oplos, en wie se leiers in terme van globale aansien en wysheid, gelyk gestel word met die mag en invloed van die President die VSA. Dit is nie die geval nie. Daar was slegs een President van Suid-Afrika wat in hierdie kategorie geval het, en dit was Nelson Mandela. Cyril Ramaphosa is wat sy land se status hom toelaat om in die wêreld te wees: Die 39ste grootste ekonomie, en een van die militêr mees vervalle lande in die wêreld. Punt.
Die ding is dat die G20 fiasko ʼn geweldige diepliggende wond veroorsaak het. Die wêreld se Imperialis, die Duiwel (dit is, die VSA), het daarin geslaag om die een ding te doen wat die ANC die meeste gevrees het, en dit was om in direkte konflik met die ANC te staan te kom, en hulle ʼn nederlaag toe te dien. Dit Ramaphosa, as verteenwoordigend van die geslag van die “vryheidstryders” en “Mandela se kinders”, se internasionale aansien skade aangedoen, en die sin van die land as ʼn “wêreldmoondheid deur sagte mag” vernietig. Vir 2026 is Suid-Afrika uitgeskop uit die G20. Ek is ook glad nie so seker dat die land weer ingetrek gaan word; of dan, “hertoegelaat” gaan word nie.
Suid-Afrika se skynheiligheid, in terme van die land se buitelandse beleid, het ook tot vervreemding en verswakking van sy internasionale beeld, en invloed bygedra. Suid-Afrika word globaal gesien vir wat dit is, en wat dit doen, en nie vir wat dit sê, of voorgee om te doen nie. Die land gee voor sy internasionale beleid word bepaal deur menseregte en die internasionale reg. Sy aksies, sy optrede, bevestig dat beleid gedryf word deur ʼn fanatiese lojaliteit aan eertydse simpatiseerders wat die ANC, in die tyd van die Koue Oorlog, teen die Apartheidsregering en die Weste ondersteun het. Feit van die saak is dit: Kuba se regering is ʼn brutaal despotiese en ondrukkende regime wat die land se bevolking in desperate armoede gedompel het, en wreedaardig teenoor diegene optree wat dit waag om die Kommunistiese heersers te kritiseer (laat staan nog openlik, tee te gaan). Rusland het sy soewereine buurland militêr binnegeval, en Suid-Afrika het hom op elke moontlike internasionale liggaam, en elke moontlike wyse, daarin ondersteun. Is dit die optrede van ʼn land wie se internasionale beleid gebaseer is op “die internasionale reg”?
Suid-Afrika het Israel by die Internasionale Strafhof gaan verkla oor die militêre optrede in Gaza, wat voortgespruit het uit terroriste aanval van 7 Oktober 2023 deur Hamas op Israeli burgerlikes. Maar die land seg geen enkele woord van kritiek teen die regering van Iran wat sy eie mense in duisende afgemaai het oor optogte voortspruitend uit dekades se brutale onderdrukking nie.
Die geskil rondom Koning Buyelekhaya Zwelibanzi Dalindyebo KaSabata, die koning van die abaThembu-mense, se besoek aan Israel, en die gevolglike besoek van Israeli hooggeplaastes in hospitale in die Ooskaap, wat gelei het tot aansienlike skenkings aan die hospitale, is kontensieus. Volgens die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse regering is die nodige aanmelding van hierdie besoek by die Departement van Internasionale Betrekkinge nooit gedoen nie (soos vereis in terme van toepaslike protokol). Ek weet nie genoeg van internasionale protokol om hierop kommentaar te lewer nie, maar een ding weet ek wel: Dit was suiwer ʼn verskoning om die groeiende woede in die ANC oor die “minagting” wat hulle van die VSA en Israel ontvang, om te sit en dade.
Hier’s die ding: Solank Trump President is van die VSA, gaan die ANC toenemend aggressief begin optree, en hulle begin skaar by die muishonde van die wêreld: Rusland, Kuba en Venezuela. Israel is eintlik maar ʼn simboliese sekondêre strydpunt; dit gaan primêr oor die VSA. Sanksies gaan volg, en Suid-Afrika gaan toenemend internasionaal gemarginaliseer word, en assosieer met lande wat nie die vermoëns het om enigiets tasbaar en materiaal noemenswaardig vir die lande te beteken nie. Sjina is die uitsondering, maar Sjina het baie duidelik geen voorneme in die miljarde dollars in skenings, of die miljarde dollars in waarde-toevoegende handel met Suid-Afrika wat verlore gaan as gevolg van die VSA se aggressie, te vervang nie. In die proses gaan Suid-Afrika in die ekonomiese afgrond ingetrek word.
Soos die Engelsman sal sê, “let’s face it”: Ons leef in ʼn Ideologiese staat.
Prentjiebron: 123RF









Comments