top of page

Ouma

Ek het net een Ouma gehad; my vader se ouers is beide oorlede toe hy vyf jaar oud was, en Oupa aan ma se kant toe ek dieselfde ouderdom was.

Ek was baie lief vir Ouma; ʼn waardige ou dame wie se belangstellings en lewensuitkyk myne soos ʼn handskoen gepas het.

​Een van hierdie belangstellings was die politiek; Ouma was uiters geïnteresseerd in politiek, en ook deeglik ingelig daaroor.

​Niemand se oordeel word totaal buite konteks geformuleer nie, veral nie oor ʼn ideologie-gelaaide onderwerp soos politiek nie. So was moderne Europa se politieke identiteit, wat tans sterk gegiet is in die humanistiese liberalisme, gevorm deur die verkriklike vernietiging van die Twee Wêreldoorlog.

​Ouma se politieke identiteit was gevorm deur die nadraai van die Boereoorlog en die strewe na Afrikaner selfbeskikking.

​Eintlik, as ek brutaal eerlik moet wees met myself, en gegewe die voordeel van ‘hindsight’ (jammer vir die Engelse word), moet Ouma sekerlik geklassifiseer word as boos, in die lig van die getransformeerde Suid-Afrikaanse hoofstroom narratief vandag.

​As u verwag dat ek dit gaan probeer ontken of ‘wegpraat’ in hierdie artikel, gaan u teleurgesteld wees. As ek nou voortgaan om op te merk dat daar ʼn sielkundige weerstand in my gemoed is om hierdie oordeel oor Ouma te vel, beteken dit nie dat ek dit nie gaan doen nie – en ook nie dat ek vir haar verskoning gaan probeer vind nie.

​Ook hier is daar konteks (sonder om dit as ʼn verskoning te probeer voorhou), maar nietemin.

​Ouma se geslag het grootgeword met die aaklighede van die Boereoorlog nog vars in die geheue, en die wrokkigheid was in hulle gemoedere gegiet. My ouma se pa, vir wie sy baie lief was, was ʼn boer, ʼn Kaapse rebel gedurende die oorlog wie se naam tot die dag van sy dood by die plaaslike landroskantoor opgeplak was, met die instruksie dat hy in hegtenis geneem moet word vir hoogverraad. Tog het dit nooit gebeur nie.

​​My Ouma-hulle was Ossewa-Brandwag mense. ​Die tekens van die verskroeide aarde beleid was nog sigbaar in die voormalige Vrystaatse en Transvaalse landskap in die jare van my ouma se jeug; meer nog, die smart van verlies en onreg was lewendig in die gemoed van hulle ouers, familie en vriende. ʼn Vyfde van die Afrikanerbevolking van die land was dood, meeste van hulle vrouens en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het as gevolg van wanvoeding, mishandeling en die uitbreek van verskeie plae. In die Afrikanergemeenskap waarbinne ek grootgeword het, was nie daar maklik gepraat oor seks nie, en die onderwerp het selde, indien ooit, ter sprake gekom, maar vanselfsprekend (en soos dit later uitgekom het) was die vrouens in hierdie kampe op groot skaal verkrag.

​​Die Engelse het nooit geboet vir wat hulle aan die Afrikaners gedoen het nie, blatant en sonder skaamte in die naam van kolonialisme – die uitbreiding van hulle ryk, en agter die mynbou-rykdomme van die Boere-republieke aan. Die Engelse het nooit geboet vir enige van die afskuwelike gruweldade wat hulle gedurende die eeue van kolonialisme gepleeg het nie; om die waarheid te sê, geen Europese land het werklik nie.

​​Dit was binne hierdie konteks wat Ouma as tienerdogter weggestuur was na ʼn Engelse skool in Grahamstad. Dit was die tyd van die Verenigde Party en die Sappe; die tyd toe Generaal Smuts ʼn verenigde Blanke volk wou skep, en in die proses Afrikaans op die altaar van hierdie oogmerk gelê het. O-ja, die wyse waarop die Engelse hom opgehewe het (hy was onder andere ʼn lid van Churchill se Oorlogskabinet gedurende die Tweede Wêreldoorlog) het ongetwyfeld ook ʼn rol gespeel, maar ek dink nie dit was werklik sy grootste motivering nie. Jan Smuts het vrede gemaak met die Britse Ryk die dag toe selfregering aan die Unie van Suid-Afrika toegestaan was.

​​Dit was ander tye daardie, die wêreld was anders as nou. Ouma het na matriek (een van die min Afrikanerdogters wat matriek behaal het) getrou (eintlik maar die enigste opsie wat aan hulle beskikbaar was) en haar gesin versorg. Ouma was nietemin ʼn sterk vrou wat nie nonsens gevat het van kaboutertjies nie. Sy was ook baie bewus van die politiek. Die Nasionale Party was vir haar die lewe self; nooit sou sy emosioneel in staat gewees het om nie die Nasionale Party te ondersteun nie. Wat ook-al die NP gedoen het, was reg in haar oë – omdat dit hulle was wat dit gedoen het. Tot die dag van haar dood het ek my ouma nooit die NP, of die leier van die party, hoor kritiseer nie – en onthou, teen die tyd van haar afsterwe was die Marthinus van Schalkwyk (die laagtepunt van Afrikaner leierskap!) die leier van die NP!

​Afrikaners soos Ouma was bewonderaars van Adolf Hitler en die Nazi’s; nie omdat hulle die ideologie van Nasionaal-Sosialisme gedeel het nie, maar omdat hulle passievol teen die Engelse, en Engeland, gekant was. Hulle het Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog aktief teengestaan; weereens, nie soseer omdat hulle die Nazi’s ondersteun het nie, maar omdat hulle nie kon vrede maak met die idee dat Suid-Afrika aan ‘Engeland se Oorlog’ sou deelneem nie.

Emosionele lojaliteit is ʼn geweldige kragtige mag; ʼn verskynsel wat ook vandag nog te sien is in die ANC se benadering tot state soos Kuba en Rusland, sowel as persone soos Fidel Castro en Robert Mugabe. Alles wat Westers is word verwerp omdat dit Westers uit; ʼn emosionele reaksie gebore uit persepsies van die Weste se lojaliteite gedurende die bevrydingstryd.

Baie Afrikaners van die veertiger en vyftiger-jare van die vorige eeu het dieselfde emosionele afkeur getoon aan enigiets wat Engels was; nie soseer omdat die ideologieë van die strydende partye ondersteun was nie, maar omdat hulle dit emosioneel onmoontlik gevind het om met die Engelse te vereenselwig.

Alhoewel daar onmiskenbare parallelle was tussen die ideologieë van Nasionaal-Sosialisme en Apartheid, veral in terme van die onderliggende aannames aangaande rasse-meerderwaardigheid, was hoofstroom-Afrikaners nie ondersteuners van die Nazi-filosofie nie. Daar was belangrike nuanse-verskille. Nazisme was in wese ʼn ateïstiese ideologie; Afrikaners, aan die ander kant, diep gelowige mense wat in ʼn groot mate deur hulle geloof gedefinieer was. (Let wel, ek argumenteer geensins dat hierdie geloofsoortuigings hulle in ‘goeie’ mense, beter as Nazi’s, onskep het, of in hulle verhoudings met ander landsburgers uitgeleef was nie, maar wel dat dit, binne ʼn bepaalde begrips-konteks van die tyd, dit ʼn eiesoortige ideologiese betekenis aan die Afrikaner van daardie tyd se filosofiese lewensuitkyk verleen het).

​​Ouma en haar geslag was sobere mense, met ʼn konserwatiewe lewensuitkyk. Christelike beginsels en lewenswandel het werklik sentraal tot hulle ingesteldheid teenoor die lewe en menswees gestaan. Die kar-en-perde was nie Sondae gespan nie, omdat dit ‘werk’ was, en Sondagwerk taboe. Politiek, alle maatskaplike kwessies, en selfs die ekonomie was vanuit ʼn Christelike perspektief benader. Verwping van die Christelike grondslag van alles het ook geimplieer verwerping binne die geledere van die Afrikanervolk.

Ouma se geslag was arm; dit was die geslag wat in die 1948-verkiesing die NP ingestem het, en dit was eintlik slegs maar hulle kinders wat werklik die voordele van die NP se massiewe investering in Afrikaners geniet het. Ouma het arm gesterf – afhanklik van ʼn staatspensioen. Maar sy was altyd waardig. Ek sal altyd onthou hoe Ouma haar Kerk-klere aangetrek het wanneer sy dorp-toe gegaan het – al was dit net ʼn vlugtige besoek aan die winkel. Sy het arm gesterf, ja, maar waardig – soos sy geleef het.

En tog, hoe waardig was my ouma se optrede? Sy het ʼn beleid ondersteun wat deur die Verenigde Nasies verdoem was as ʼn misdaad teen die mensdom. Beyers Naudé en Bram Fischer, mede-Afrikaners en tydgenote van Ouma, kon verby die ideologiese blokkasie kyk; hoekom nie Ouma nie? (Om die waarheid te sê, was hierdie twee volkgenote byna wreedaardig deur andere soos Ouma verwerp, omdat hulle die pad van ware liefde vir die naaste gekies het). Die werklikheid is egter tragies in die eenvoud daarvan: Selfs al sou Ouma die vereiste onafhanklike denke gehad het om haar los te maak van die emosionele verknogtheid met die Nasionale Party, sou die diepliggende rassistiese oortuiginge wat van geboorte af deel geword het van haar wese, haar menswees, haar waarskynlik maar net weer teruggedring het na die NP.

Het Ouma haar ooit bekeer van hierdie oortuiginge? Ek weet nie; toe die politieke hervorming begin het, het sy dit ondersteun omdat die Nasionale Party haar voorgesê het. Dit is feitlik onmoontlik om te sê of my ouma ooit haar diepe oortuiginge oor rasse-meerderwaardigheid afgesê het. Ek twyfel; dit was doodeenvoudig net te diep in haar wese, in haar bewustheid van die hiërargie binne die mensdom, ingraveer. (Net ter verdediging van Ouma, moet dit darem gemeld word dat hierdie oortuiginge gevorm was in ʼn tyd van die wêreld se geskiedenis waar rasse meerderwaardigheid – en minderwaardigheid as aanvaarbare ideologiese oortuiginge aanvaar was).

​​Het Ouma ooit gedink en gewroeg oor die teenstelling tussen haar diepe geloof in ʼn God Wie se grootste gebod liefde teenoor God en haar naaste is en die wreedhede wat teenoor medelandsburgers gepleeg was? Ek twyfel, want sy het nie nodig gehad om daaroor te worstel nie; sy het haar identiteit ontwikkel in ʼn tyd toe die ideologie van rasse-meerderwaardigheid ʼn aanvaarde globale waardestelsel verteenwoordig het. Belangrik nog: Haar kerk het haar oortuig dat Hendrik Verwoerd se beleid van apartheid (en daarmee saam rasse-meerderwaardigheid) Bybels-gefundeer en ʼn aanvaarbare Christelike beginsel was.

​​As mens, verwyder van die politieke konteks (haar begrip van die verhouding tussen Wit en Swart), was Ouma nie ʼn bose mens nie. Sy het werklik diep-gewortelde Christelike beginsels gehandhaaf en uitgeleef. Teen die tyd dat die ideologie van rasse-meerderwaardigheid deur die internasionale gemeenskap verwerp was (na die Tweede Wêreldoorlog) was sy vasgevang tussen twee onversoenbare realiteite: Aan die een kant die behoud van swaar-verdiende Afrikaner- vryheid, verkry deur die bloed, sweet en trane van derduisende Afrikaners. Aan die ander kant was daar die werklikheid van die demografie van Suid-Afrika. Die twee was wedersyds uitsluitend (nie 'n verskoning nie, maar 'n stelling van konteks).

​​Tog, aan die einde van die dag het Ouma die smaad van die wêreld, en dan spesifiek haar nie-Blanke landsgenote, verdien vir haar aandeel in apartheid. Hulle het verkeerd gekies toe hulle die keuse gemaak het vir ʼn stelsel wat hulle naaste van hulle menswaardigheid gestroop en hulle brutaal onderdruk het. Nie net was dit die verkeerde keuse binne die realiteit van die getransformeerde globale orde en waardestelsel na die wreedhede van die Tweede Wêreldoorlog nie, maar belangriker nog was dit die verkeerde keuse omdat dit direk strydig was met die Christelike gebod van naasteliefde – ʼn gebod wat Ouma beweer het sentraal gestaan het in haar menswees.

​​O-ja, nog iets: Ouma het deur haar besluite en optrede in reaksie op die haat wat uit die Boereoorlog gespruit het, die toekoms van haar nasate (en die van haar geliefde Afrikanervolk) in haar geliefde Suid-Afrika beduiwel.

​Maar nou-ja, die werklikheid is wat dit is, en ek is steeds lief vir Ouma (of dan, in elk geval, vir haar nagedagtenis). Ek gaan my nie probeer disassosieer van haar nie; ons, ek en Ouma kollektief, as verteenwoordigend van Afrikaners in hierdie land oor generasies heen, het in die gees van (hulle) tyd opgetree, en ons boet nou daarvoor. Punt.


Prentjiebron: 123RF

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2025-2026. All right reserved.

Use this website in terms of the legal notes regulating is (Terms of Use). If you do not agree with these terms, please leave and do not use the site.

South African legislation requires that specific privacy requirements must be guaranteed in the use of this website. Thee website's Privacy Policy can be access by clicking on the link below.

bottom of page