Die "Rooi Gevaar"
- Frans Minnaar

- 11 hours ago
- 6 min read
Indien u jonger as vyf-en-veertig jaar is, sal u waarskynlik nie werklik die verwysingsraamwerk hê om te begryp waaroor ek in hierdie plasing praat nie. Die egter wat my ouderdom is, en ouer, sal wel verstaan.
Vir die wat nie oud genoeg is nie, gaan ek vlugtig verduidelik.
Na die Tweede Wêreldoorlog het daar twee groot moondhede in die wêreld na vore getree, naamlik die Verenigde State van Amerika, en die Sowjetunie (amptelik genoem die Unie van Sosialistiese Sowjet Republieke). Die kern van laasgenoemde was wat ons vandag ken as “Rusland.”
Feitlik die hele wêreld het breedweg georganiseer rondom hierdie twee supermoondhede; in die geval van die VSA was dit meestal die Westerse lande; en in die geval van die Sowjetunie meestal die Ooste. Alhoewel, daar was die sogenaamde “onverbonde lande”. Sommige van hierdie lande was werklik onverbonde, maar sommige was dit bloot in naam. Belangrike werklik onverbonde lande was Indië, Finland, Swede en Noorweë.
Die Westerse wêreld het breedweg gestaan onder die leierskap van die Verenigde State, en die vernaamste verdedigingshefboom daarvan was die Noord-Atlantiese Verdragorganisasie (NAVO) (of dan, in Engels, die veel meer bekende NATO). Die Ooste het onder die juk gestaan van die Sowjetunie, en het as teenvoeter vir die Weste se Navo gehad die Warskou Verdragorganisasie.
Die lande wat ingeskakel het by die Westerse verbond was kapitalisties, en meestal demokraties, en die wat deel was van die Warskou Verdrag Kommunisties en meestal nie veel meer as pionne van Moskou (die Sowjetunie) nie. (Bietjie van die punt af: Sjina was destyds ook ʼn Kommunistiese staat, maar het geskille gehad met die Sowjetunie, en nie werklik, ten volle, deel van die se invloedsfeer nie. Die land was egter ook nie naastenby so ryk of magtig soos vandag nie).
Dit was die wêreld waarin ek gebore was. Suid-Afrika was regeer deur die Nasionale Party, wat die beleid van Apartheid toegepas het, gebaseer op die skeiding van rasse-groepe in die land. Maar, is ek seker, daarvan weet die jonger geslag waarskynlik selfs meer as die ouere, want hulle word deurlopend gebombardeer met inligting oor die boosheid daarvan (en van die Blankes wat dit toegepas het).
In elk geval, wat u ook al op skool, of in kerk, mag gehoor het, die waarheid was dat die Nasionale Party, die regering van destyds, ʼn rassebeleid toegepas het wat gruwelik teen nie-Blanke Suid-Afrikaners gediskrimineer het, en, as sulks, nie verdedigbaar is nie (dit het inderdaad neergekom op ʼn misdaad teen die menswaardigheid van Swart Suid-Afrikaners). Maar, anders as wat u waarskynlik gereinspoel was, was hierdie regering ook tegnies en administratief uiters effektief en doeltreffend, en die dienste wat gelewer was van die hoogste gehalte (behalwe, natuurlik dat baie van hierdie “van die hoogste gehalte” dienste en voordele beperk was tot Blanke Suid-Afrikaners).
Een van die vele dienste wat uitmuntend was, was die destydse Weermag. Die Suid-Afrikaanse Weermag van die tyd was redelik klein, maar uitmuntend opgelei en goed bewapen, ondersteun deur ʼn wapenvervaardiger wat van die wêreld se beste wapens voorsien het. Die Weermag was genoem in dieselfde asem as die Israeliese Weermag; klein, maar uiters effektief.
Die destydse Suid-Afrikaanse regering was ʼn bondgenoot van die Weste (nie amptelik nie, maar in stilte). Die vryheidsbewegings, insluitend die ANC, was nou verbonde aan Oosbloklande, en dan veral Oos-Duitsland en die Sowjetunie. Suid-Afrika was belangrik vir die Weste; omdat die roete om die Kaap in die geval van oorlog belangrik sou word as die Suezkanaal ontoeganklik gemaak sou word, en (veral) omdat die land se effektiewe weermag verhoed het dat Kommunisme Suidelike Afrika sou domineer.
Dit was ʼn werklike gevaar. Die Vryheidsbewegings, insluitend die ANC, PAC en die Kommunistiese Party, was almal geaffilieer met die Kommunistiese Blok (die Sowjetunie en die ideologie van Kommunisme). Dit het ook ingesluit die Angolese Weermag en die Kubane wat deur Castro gestuur was om ʼn militêre deurbraak op die Grens te bewerkstellig. (“Die Grens” was min of meer getrek op die grens van Angola en die destydse Suidwes-Afrika).
Suid-Afrika was omring deur Russiese, - Kubaanse – en Noord Koreaanse geaffilieerde bure; Angola, sedert 1980 Zimbabwe en Mosambiek. In die land self het daar ʼn intense stryd, ʼn oorlog in die kleine gewoed, met die veiligheidsmagte van die regering aan die een kant, en die van die bevrydingsbewegings aan die ander. Weereens, die bevrydingsbeweging was geassosieer met die Kommunistiese blok, en het ongetwyfeld die ideologie (van Kommunisme) ondersteun.
Die begrip “Rooi-gevaar” het voortgespruit uit die feit dat die Kommunisme hulself gedefinieer het met die woord “rooi” (byvoorbeeld, die destydse Weermag van die Sowjetunie het bekend gestaan as die “Red Army”).
Daar is absoluut geen twyfel dat daar destyds ʼn “rooi gevaar” in Suid-Afrika was nie; bedoelende dat daar ʼn gevaar was dat bewegings en groepe wat die Kommunisme ondersteun het, in Suid-Afrika beheer oor die staat kon verkry, en die land vierkantig in die invloedsfeer van die Kommunistiese Blok sou geplaas het. Dit sou die strategiese posisionering en geopolitieke werklikhede van die tyd ingrypend beïnvloed het, want dit sou die Sowjetunie beheer gegee het oor die Kaapse handelsroete, en oor die strategiese minerale van die land. (Destyds was die Suid-Afrikaanse mynbousektor uitstekende bestuur, voordat BBBEE, korrupsie en kader- ontplooiing dit toenemend ondermyn het).
Nie net was die Rooi Gevaar ʼn werklikheid nie, maar dit later jare bewys dat dit altyd ʼn gevaar was; een wat uiteindelik gerealiseer het.
Indien u daaroor twyfel, vra uself die vraag af: Wie is die lande waarmee Suid-Afrika hulself vandag identifiseer? Die antwoord: Rusland, Kuba en Iran; met ander woorde, almal integrale dele van die Kommunistiese Blok gedurende die tyd van die Koue Oorlog. Wie is hulle duidelike vyande? Die VSA, Israel en Wes Europese lande; almal wat deel was van die Kapitalistiese Alliansie gedurende die tyd van die Koue Oorlog.
In 1989 het die Berlynse Muur geval. Dit was die muur wat Oos-en Wes Berlyn (in Duitsland) geskei het (ʼn letterlike muur). Deur die jare het dit die simbool geword van die skeiding tussen (Oos – en Wes Duitsland; die een in die invloedsfeer van die Kommunisme, en die ander in die van die Kapitalisme). Wes-Duitsland was veel ryker en suksesvol as Oos-Duitsland; wat die werklikhede van die onderskeid tussen die twee vernaamste ideologieë van die tyd geïllustreer het. Die “val van die Berlynse muur” beteken letterlik dat die inwoners van Oos-Duitsland in opstand gekom het teen die Kommunistiese diktatuur wat hulle jare lank onderdruk het, en begin het om die muur letterlik af te breek.
Dit het saamgeval met die inploffing van die Sowjetunie. State wat vir jare met geweld daarin gedwing was, soos die Oekraïne, Estland en Georgie, het weggebreek en hulle onafhanklikheid verkry. Vir ʼn dekade of twee was Kommunisme letterlik dood, behalwe in China en Kuba, wat, ten spyte van alles wat in die res van die wêreld gebeur het, daaraan vasgeklou het.
Die Weste het Suid-Afrika nie meer nodig gehad om hulle belange te beskerm nie. Die wêreld het feitlik oornag totaal verander. Die gevolg was onmiddellik: Die klem in Westerse hoofstede het verskuif van die stryd teen Kommunisme, na Suid-Afrika se interne rasse-beleid, en die rasse-diskriminasie wat daarmee geassosieer was. Bondgenote van die land, soos Republikeinse Presidente in die VSA en Margaret Thatcher in Brittanje, het druk begin uitoefen op die land se Blanke regering om tot ʼn ooreenkoms te kom met die bevrydingsbewegings.
Dit was in hierdie konteks wat Suid-Afrika in 1994 oorgegaan het van ʼn Blanke minderheidsregering na ʼn Swart meerderheidsregering; of, anders gestel, in terme van die verdelingslyne van die Koue Oorlog, die voormalige vryheidsbewegings, wat deel was van die Kommunistiese Blog gedurende die Koue Oorlog, het die regering in die land oorgeneem.
Onthou egter dat dit alles gebeur het in die konteks van ʼn internasionale werklikheid waar Kommunisme vir alle praktiese doeleindes in duie gestort het. Die ANC, ʼn self-verklaarde Sosialistiese beweging, wen stewig in die kamp van die Sowjetunie gedurende die Koue Oorlog, was feitlik verplig om meer kapitalistiese beleidsrigtings na te volg. Dit was gedurende die regering van Mandela en Mbeki.
Intussen het die pendulum in die wêreld egter stadig maar seker weer begin swaai; die swaar-geleerde lesse van Kommunistiese vernietiging en mislukking het vervaag in die geheue van die wêreld, en die aaklige ideologie het weer sy verskyning begin maak.
In die geledere van die nuwe regering alliansies in Suid-Afrika het die ideologie nooit gaan lê nie, dit was slegs maar tydelik in die agtergrond geskuif, gegewe die internasionale werklikhede. Sedert die middel 2000s het die filosofie egter aggressief begin terugkeer, saam met die opgang van Jacob Zuma in die ANC. Die land het begin ervaar wat die “rooi gevaar” beteken: Sosialisme, kader- ontplooiing, ʼn terugkeer na rasse-diskriminasie en die ineenstorting van instellings.
Nou is die ANC besig om in “full circle” terug te keer na sy Kommunistiese kern, aangevul met ras- geïdentifiseerde beleid ontplooiing (die tentakels daarvan, soos die EFF en MKP, is reeds daar). Die ANC maak geen geheim daarvan dat die uiteindelike visie die “Nasionale Demokratiese Rewolusie” is nie. In praktiese terme beteken dit ras-gebaseerde Kommunisme. Die party maak geen geheim daarvan nie; dit word openlik verkondig, en met trots. Dit, die verval en agteruitgang, was (en is) die “Rooi Gevaar.”
Daar was destyds twee terme gebruik.
Die een was die “Swart Gevaar”. Dit was omgevraag, deel van die rassistiese kultuur van apartheid, en onverdedigbaar. Dit het daarop neergekom om die meerderheid Suid-Afrikaners te verhoed om toegang te kry tot die hulpbronne en geleenthede van die land, wat neergekom het op blatante diskriminasie en ontkenning van hulle menswaardigheid. Dit moes nooit gewees, of bestaan het, nie.
Die ander was die “Rooi Gevaar”. Hierdie bedreiging was werklik, en is tans besig om te realiseer in die land. Dit sou in die tyd van die Koue Oorlog vernietigend gewees het. Dit is tans vernietigend.
Prentjiebron: 123RF


Comments