Die diskriminasie gaan nie verminder nie, dit gaan erger word
- Frans Minnaar

- Mar 19
- 9 min read
Ek is nie gekant teen 'n stelsel waar alle landsburgers gelyke regte geniet nie; ongeag hulle ras of demografiese kenmerke nie. Ek is gekant teen rassediskriminasie en uitsluiting gebrandmerk as "regstelling". Ek verstaan nie-Blanke Suid-Afrikaners se stryd teen rassediskriminasie wat hulle geteiken het. Ek is gekant teen diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners.
Op 17 Maart 1992 het meer as 68,7% van Suid-Afrika se Blanke bevolking gestem ten gunste van die Nasionale Party se voorstelle vir voortgesette onderhandelinge met die voormalige vryheidsbewegings en die voorgestelde onderhandelingsbeginsels.
Die vraag was “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat gemik is op 'n nuwe Grondwet deur middel van onderhandeling?”
Eintlik, tegnies, was niks werklik goedgekeur nie, behalwe die vae begrip van “ʼn nuwe Grondwet”, en “voortgesette onderhandelinge”, maar die uitslag was geïnterpreteer as ʼn bevel deur Blanke Suid-Afrikaners om alle regte te gaan weggee.
Diesulkes soos Roelf Meyer en Theuns Eloff het ʼn groot rol gespeel in die totstandkoming van die totale gemors waarin ons onself vandag bevind. Ek bedoel, werklikwaar, watter soort kreatuur wat veronderstel was om namens Blanke Suid-Afrikaners te beding, hardloop oor na die veilige boesem van die eenmalige vyand, waarteen hy veronderstel was om te onderhandel, skaars ʼn jaar nadat hy alle betekenisvolle regte van “sy eie mense” weg-geonderhandel het? Die skikking bereik in 1994 was oorhaastig en ʼn gruwelike fout. Dit het die Afrikaner se geboorte – en bestaansreg weggegee vir ʼn bord lensiesop, en spesifiek vir die internasionale reputasies en verering van die uwes FW de Klerk, Roelf Meyer, Theuns Eloff en diesulkes.
ʼn Ander oplossing, met werklike waarborge en lang-termyn versekering van die behoud van taal, kultuur, geskiedenis en ekonomiese regte, moes beding gewees het. In 1994 was die voormalige regering alles behalwe militêr verslaan, en, ten spyte van internasionale isolasie, was die land se ekonomie steeds, by verre, die grootste en sterkste in Afrika. Daar was die kapasiteit om te bedding en tot ʼn beter vergelyk te kom.
Ek blameer, en sal tot die dag van my dood, primêr vir Roelf Meyer, FW de Klerk en hulle meelopers blameer, veral die arrogante en meerderwaardige, alwyse wyse waarop hulle sedert 1994 opgetree het, totaal onbesorg oor die diskriminasie waaraan diegene blootgestel was namens wie hulle moes onderhandel.
Die, op-daardie-stadium, Engelssprekende-gedomineerde Groot Besigheidsektor, insluitend die Oppenheimer, maar oor die Ruberts, en andere, was meer as bereid om Blanke Suid-Afrikaners onder die bus te gooi om hulle rykdom te beskerm en te vergroot. En hulle het dit gedoen op ʼn stadium toe die NP onder die beheer gekom het van ʼn generasie wat in totale bevoorregting grootgeword het, en smagtend was na aansien en internasionale erkenning. ʼn Generasie sonder aanspreeklikheid of verantwoordelikheidsaanvaarding. Die toksiese kombinasie het ʼn Grondwet onderhandel wat van die begin af geen kans gestaan het om werklik Afrikaner (of Wit) belange op die langtermyn te beskerm nie.
Maar nou-ja, vir hulle het dit toe ook nie so goed uitgewerk nie; skaars was miljarde rande se bates oorgedra aan die Ramaphosas en Matthew Phosas van die bevrydingstryd, in ʼn desperate poging om beskutting van bates te koop, of minerale regte was genasionaliseer, en die industrieë waaruit hulle miljarde gemaak het, het die een-na-die-ander die land begin verlaat, onbevoeg om die monster wat hulle geskep het te bemeester.
Al wat nodig was om die sogenaamde “Grondwetlike Waarborge” verskans in Hoofstyk 2 van die Grondwet vir alle praktiese doeleindes ongedaan te maak, was vir die voormalige vyand, in daardie geval spesifiek die ANC, om die magte van die Hooggeregshof, as ʼn hof van hoogste regspraak, gelyk met die Grondwetlike Hof, om te keer, en die finale regsprekende gesag in die hande van laasgenoemde hof te plaas. Daarna was dit eenvoudig: Sorg dat die meerheid van regters in die Grondwetlike Hof ideologies belyn is met die ANC, en die “probleem” van grondwetlike beskerming van Afrikanerregte verdwyn soos mis voor die son.
Dit is presies wat gebeur het, en wat deur verskeie uitsprake van die Grondwetlike Hof herbevestig was, insluitend die uitspraak oor die veranderinge van straatname in Pretoria, waar van die regters reguit aangevoer het dat die Afrikaner se geskiedenis besmet is deur apartheid, en nie waardig op wetlike beskerming nie, sowel as, meer ongeag, die Grondwetlike Hof se weiering soos selfs net eens ʼn appel oor die status van die lied “Kill te Boer, Kill the Farmer” as nie haatspraak nie, aan te hoor.
Ek het vroeër gemeld dat ek die hoofonderhandelaars van die voormalige Nasionale Party blameer. Ek doen. Ek is egter ook nie blind vir die werklikhede nie.
In 1992 sou die meerderheid Blanke Suid-Afrikaners enigiets wat die NP aan hulle voorgelê het, goedgekeur het. Teen daardie tyd was dit reeds te laat vir terugdraai. FW de Klerk het reeds 23 van die beste Generaals wat hierdie land ooit opgelewer het, in een nag gedwing om te bedank, omdat die vyand dit van hom geëis het. Dit het ingesluit die bestuur van Militêre Intelligensie. Die verdomde De Klerk was die mees antagonistiese teen-veiligheidsmagte staatshoof wat hierdie land ooit gehad het. Later jare het selfs die howe van die Nuwe Suid-Afrika bevind dat hierdie afdankings onwettig en onregmatig was.
Teen 1992 was regeringsinstellings reeds in die proses van transformasie, van oorgang tot ʼn nuwe bedeling, ʼn nuwe regering. Bewysstukke wat teen politici en amptenare gebruik kon word, was reeds gesnipper. Dit het bewyse vernietig, maar ook, in die proses, rekords vir effektiewe weerstand. Die onderhandelinge met die ANC, en ander bevrydingsbewegings, was reeds te ver gevorder om terug te draai.
Suid-Afrika se beste vriende internasionaal, soos Margaret Thatcher en Ronald Reagan, was nie meer in possies van gesag nie, of het Suid-Afrika se Blanke leiers sterk aangemoedig om tot ʼn vergelyk te kom met die ANC. Nelson Mandela was nasionaal en internasionaal onaantasbaar, en het, op grond van sy statuur, dit onmoontlik gemaak om terug te draai. Die Berlynse muur het geval, en, daarmee saam, die Kommunistiese bedreiging, wat die voormalige Weermag en Veiligheidsmagte uiters effektief, “namens” die Weste in Suid-Afrika beveg het. Die ideologiese ondersteuning het verval in omgeskakel in morele afkeur van Suid-Afrika se diskriminerende rassebeleid.
Ek kan nie die ANC en ander vryheidsbewegings kwalik neem oor hulle verset teen Apartheid nie; feit van die saak is dat nie-Blanke Suid-Afrikaners veral sedert 1910 brutaal onderdruk en mishandel was. Hulle behandeling het neergekom op ʼn misdaad teen die Mensdom. Dit is eenvoudig die werklikheid, die realiteit. Hulle het die reg gehad om hulle teen die onmenswaardige behandeling wat hulle te beurt geval het te verset.
My probleem met die voormalige vryheidsbewegings is met wat hulle na 1994 gedoen het, en voor dit nie. Die punt is dat die voormalige NP geweet dat daar geweldige haat en venyn in die verhoudinge was, en moes ʼn ander oplossing en bedeling beding het, wat werklike waarborge teen die gevolge kon bied vir hulle ondersteuners, terwyl hulle die institusionele vermoëns daartoe gehad het.
Wat na 1994 in hierdie land gebeur het, voortgesette armoede, en die feit dat daar steeds rasse ongelykhede is, is op geen manier my skuld nie. Ek was te laat gebore om op enige betekenisvolle wyse aandeel te gehad het in die bedryf of instandhouding van apartheid, maar laat genoeg om die gevolge daarvan te ervaar; wat suiwer rasse-diskriminasie teen my was. Die ANC was in beheer, en moes die ongelykhede verminder en bestuur het, want hulle het die staatsmag gehad om dit te doen. In stede daarvan, het hulle voor die voet begin steel, gryp, inpalm en gemonopoliseer. En, baie belangrik vir my, is dat hulle op massiewe skaal begin diskrimineer het.
Kyk, daar is vandag ongeveer 4,6 miljoen Blanke Suid-Afrikaners, uit ʼn totale bevolking van ongeveer 65 miljoen; met ander woorde, ongeveer 7% van die bevolking. Die sogenaamde oorweldigende Wit rykdom is gesetel in die hande van ʼn klein groepie van minder as 2% van hulle getalle, wat die groot besighede en plase besit. Selfs al sou al die bates, geld en werksgeleenthede gesetel in die res van die Blanke bevolking vandag, op hierdie oomblik, net so, in totaliteit, oorgedra word na nie-Blanke Suid-Afrikaners, sal dit kwalik registreer op die skaal van werkloosheid en armoede onder Swart Suid-Afrikaners. En, kan ek sê sonder enige vrees van teenspraak, dit sal gemonopoliseer word in die hande van die regerende elite.
Die uitsprake van die ANC, EFF, MKP en andere sogenaamde rewolusioneer bewegings laat dit klink asof ons in die land te doen het met ʼn massiewe Blanke teenwoordigheid, met oorweldigende mag, wat ten alle koste beveg moet word ten einde voortgesette diskriminasie teen hulle te beëindig. Dit is doodeenvoudig nie in lyn met die werklikhede van die land nie. Blanke Suid-Afrikaners is ʼn totale minderheid van die land se bevolking, met geen noemenswaardige politieke of institusionele mag of gesag nie. En daar word drakonies banaal teen hulle gediskrimineer. Die probleem is nie dat Blanke Suid-Afrikaners bates en geleenthede in die land monopoliseer, en sodoende die Swart meerderheid toegang daartoe ontsê nie; die probleem is dat, as gevolg van die ANC se geklike beleidsrigtings en korrupsie, daar doodeenvoudig nie genoeg ekonomiese geleenthede of bates vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar is nie, deels omdat die ANC alles binne eie geledere vasklou.
Die enigste werklike rede vir die diskriminasie in Suid-Afrika is om mag te bevestig, ideologiese doelwitte te bereik (en dan spesifiek die sogenaamde Nasionale Demokratiese Rewolusie), en om die oordrag van bates na die politieke elite te verseker.
Die stelsels voor 1994 was hoofsaaklik gebaseer op meriete (die probleem was dit hierdie meriete slegs toegepas was in die geledere van Blanke Suid-Afrikaners, en nie toegang verleen het tot die voordele daarvan aan nie-Blanke Suid-Afrikaners nie). Selfs waar lede van die Afrikanergemeenskap, en dan spesifiek die Broederbond, “kader-verwante” voordele verkry het, was daar rigied van hulle verwag om die volle voordele van ʼn kontrak of werksgeleenthede van die hoogste gehalte en streng volgens vereistes en verwagtinge te lewer. Waar dit nie gebeur het nie, was daar baie gou teen hulle opgetree. En dit was die uitsondering, eerder as die reël.
Vandag speel meriete feitlik geen rol nie, dit gaan alles oor ras, politieke affiliasie en omkoopgeleenthede. Die Kamerade het die land omskep in ʼn oneffektiewe, vervalle kaderstaat.
Die punt is dit: Indien u dink dat, deur vir die Demokratiese Alliansie, of selfs die Vryheidsfront Plus te stem, enigiets gaan verander, of u omstandighede gaan verbeter, moet u weer dink. Die reaksie van die Kamerade op toenemende verset uit internasionale geledere, en vanuit die van Blanke Suid-Afrikaners, is meer aggressie en toenemende verset, nie minder nie. Verder is dit baie duidelik dat, soos hulle beperkte toegang tot die vleispotte van Egipte gebied word, beginselvaste DA kaders maar net sulke groot propagandiste vir (en beoefenaars van) “transformasie” uitdraai as hulle ANC eweknieë.
Die sogenaamde “progressiewe” groeperinge in hierdie land sien aggressie teenoor die Weste en interne verset (veral vanuit Blanke geledere) teen transformasie, as ʼn rewolusionêre verpligting, as ʼn bewys van soewereiniteit, en as ʼn voortsetting van die vryheidstryd. Die diskriminasie gaan nie beëindig word nie, dit gaan net vererger.
Daar is beide ideologiese, - sowel as praktiese redes vir die rassediskriminasie. Die ideologie word gedryf deur die Nasionale Demokratiese Rewolusie, en die praktyk deur die behoefte om toegang te verkry tot staatshulpbronne en ekonomiese geleenthede. Die twee funksioneer geïntegreerd.
Dit is verstommend moeilik om ʼn spesifiek definisie van die Nasionale Demokratiese Rewolusie vas te pen; waarskynlik juis omdat die element van rasse-diskriminasie so ʼn integrale deel daarvan uitmaak; ras en kollektivisme (Sosialisme).
Die eerste besonderheid om vas te stel, is dat die NDR spesifiek verwys na die sogenaamde “Kolonialisme van ʼn Spesiale Soort” (met ander woorde, verwysend na Blanke Suid-Afrikaners, wat eintlik maar “koloniale setlaars” is, maar van “van ʼn spesiale soort”. Met ander woorde, hulle moet “verdra” word, eerder as om as volle, gelyke landsburgers erken te word. Feit van die saak is dat dit presies is wat die Grondwet se deurlopende verwysings na “voorheen benadeelde persone” [gestel teenoor “voorheen bevoordeeldes’} bevestig).
Ek haal aan uit die ANC se Strategie en Taktiek dokument, voorberei vir die party se 52ste Kongres, 2007:
“Our definition of Colonialism of a Special Type identifies three interrelated antagonistic contradictions: class, race and patriarchal relations of power. These antagonisms found expression in national oppression based on race; class super-exploitation directed against Black workers on the basis of race; and triple oppression of the mass of women based on their race, their class and their gender.
““The main content of the NDR is the liberation of Africans in particular and Blacks in general from political and socio-economic bondage. It means uplifting the quality of life of all South Africans, especially the poor, the majority of whom are African and female. At the same time it has the effect of liberating the white community from the false ideology of racial superiority and the insecurity attached to oppressing others. The hierarchy of disadvantage suffered under apartheid will naturally inform the magnitude of impact of the programmes of change and the attention paid particularly to those who occupied the lowest rungs on the apartheid social ladder.”
Natuurlik is daar geen werklike “Nasionale Demokratiese Rewolusie” nie, en geen strewe daarna nie. Sosialisme beteken gelykheid en kollektiwisme, en impliseer altyd, waar dit ook al toegepas word (of was) gedeelte armoede. Wie van die kaders gaan hulle rykdom met die arm massas deel? Moenie belaglik wees nie. Die kamerade het nie aan die vryheidstryd deelgeneem om arm te wees nie. Dit is alles deel van die propagandistiese retoriek, gerig daarop om die ondersteuning van die massas te behou, terwyl die inpalming en selfverryking ongehinderd voortgaan. In die kern van hierdie ideologie is die praktiese toepassing van toenemende intensiewe meganisering van, en diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners.
U kan maar gerus na die resultate van meningsopnames kyk en uself oortuig dat die meerderheid Suid-Afrikaners teen rasse-diskriminasie, soos Swart Ekonomiese Memagtiging en Gelyke Indiensmening, gedraai het. Statisties is dit waarskynlik waar, want Swart Suid-Afrikaners leef ook in ʼn wêreld van verval en agteruitgang, net soos hulle Blanke eweknieë. Hulle het gesien wat 32 jaar van “transformasie” aan hulle lewens gedoen het. Hulle verkies waarskynlik die werklikheid van toegang tot goeie dienste en infrastruktuur, in plaas van ʼn oneetbare, en ontasbare ideologie.
Dit is nie die punt nie; die punt is daar waar die diskriminasie wel saak maak, naamlik onder diegene, klein in getalle, maar groot in toegang tot staatsmag, wat wel voordeel uit “transformasie” getrek het, steeds trek, en definitief in die toekoms wil trek. Dit is die heersende groep; dit is waar die besluite geneem word. Die diskriminasie gaan nie versag nie, en definitief nie verdwyn nie; dit gaan slegs vererger.
Prenjtiebron: 123RF



Comments