top of page

Die Settelaars-probleem

Kolonialiste, of dan setlaars, dwarsoor Afrika, het gevlug toe die lande waarin hulle hulself bevind het, onafhanklikheid van die koloniale moondheid verkry het.  Dit was meestal omdat omstandighede na onafhanklikheid vir hulle feitlik onmoontlik gemaak was om in daardie lande aan te bly. Grootskaalse onteiening van eiendom, maar dan spesifiek grond, was oor die algemeen aan die orde van die dag. In sommige gevalle, soos in Kenia, het die revolusies wat gelei het tot onafhanklikheid (in die geval van Kenia, die sogenaamde Mau Mau opstande, aanleiding gegee tot die moord op hierdie setlaars).

Die vernaamste uitsonderings was daardie lande waar dit gevestigde setlaar-gemeenskappe onstaan het, met gevestigde kulturele, - maatskaplike, - politieke – en (veral) ekonomiese belange. Dit sluit in die voormalige Rhodesië (Zimbabwe), Suidwes Afrika (Namibië) en Suid-Afrika. Dit het toe geblyk dat die aanvanklike toegeeflike benadering van die Zimbabwiese regering, na die 1980 onafhanklikheidswording, ook maar net gegeld het solank Wit Zimbabwiërs hulle “gedra” het, en nie die regering teengegaan het nie. Teen 1990 was Robert Mugabe uitgekuier met hulle, en is die geweld van die staat se misdaadbendes teen hulle losgelaat. Dit was die einde van die setlaars in Zimbabwe.

Dieselfde proses is nou besig om in Suid-Afrika te ontvou. Die revolusionêre beweging, die ANC, het, ot nou toe, in passiewe verset, toegelaat dat Blanke Suid-Afrikaners, die “setlaars” sommige van hulle bates behou; alhoewel die vereiste wat dat genoeg daarvan oorgedra moes word om die na-1994 politieke elite stinkryk te maak. Die eienaarskap van sommige bates, soos die myne, is statuter weggeneem en aan die staat oorgedra, waar totale wanbestuur en die kader-toekenning daarvan gelei het tot ʼn dramatiese ineenstorting van die eens hooggeagte mynbouland se produksie.

Maar die grypsug het so geïntensiveer, en die woede oor wat (verkeerdelik) gesien word as Blanke teenkanting teen wetgewing en beleid om hierdie grypsug te bevredig sodanig uitgekring, dat Suid-Afrika die Zimbabwe-scenario begin betree het. Die ANC is onder geweldige druk om sy beheer oor die staat en die hefbome van mag te behou. Daarsonder sal die hele verotte stelsel van kaderbeheer – en bevoorregting soos ʼn kaarthuisie in mekaar tuimel. Bates moet verkry word om dit moontlik te maak. Die grootste van hierdie bates is grond.

Maar die grond is tans nog, in meerderheid, in die hande van Blanke grondeienaars.

Grondeienaarskap, en die breër debat rondom “eienaarskap” in Suid-Afrika is veel meer ingewikkeld en geïoniseerd as wat die regering en linkse groepe ooit sal erken.

Toe my voorvaders meer as driehonderd-en-vyftig jaar gelede voet aan wal gesit het in die Kaap, het hulle in aanraking gekom met die voorvaders van die San en Khoi; en ja, daar was gewelddadige konfrontasie, wat gelei het tot koloniale besetting van land. Maar groot dele van die Suid-Afrikaanse binneland was op daardie stadium onbewoon.

Die Afrikaner Voortrekkers het in aanraking, en uiteindelik ook in konfrontasie, met inheemse stamme wat op daardie stadium suidwaarts gemigreer het, op dieselfde tydperk wat die Voortrekkers noordwaarts getrek het). Verder is kolonialisme, as ʼn tegniese term wat beteken om ʼn bepaalde geografiese gebied in te val, te verower en te beset, so oud soos die mensdom self. Dit was nie “begin” deur Europese besetters van Afrika nie. Dit was selfs ʼn proses wat binne Afrika, tussen inheemse stamme, plaasgevind het.

My geskiedenis in hierdie land strek so ver terug, dat jy my nie meer kan klassifiseer as “Europeër” op enige legitieme gronde, anders as ras nie. As jy derhalwe sê ek moet “teruggaan” Europa toe, kom dit daarop neer dat jy my wil “terugstuur” na ʼn plek toe war ek geen verbintenis mee het nie, wat ek nie ken nie, waarvan ek nie burgerskap het nie, en wat my nie sal erken as “behoort aan” nie.

Ek is ʼn Afrikaner. In Suid-Afrika het daar ʼn demografiese bevolkingsgroep onstaan met ʼn eie kultuur, gewoontes, dogmas en identiteit, bekend as “Afrikaners”. As jy ons wil “terugstuur” Europa toe, moet jy dieselfde doen met Europese Amerikaners (beide vastelande), Australiërs, Nieu Seelanders, en jy moet derduisende jare teruggaan in die geskiedenis om al die groepe wat deur Genghis Khan, Sun Tzu, Alexander die Grote, en vele meer, ontwortel, verower en vervang was met hulle eie ondersteuners in bepaalde geografiese gebiede.

Maar die werklikheid is wat dit is. Die woede het oorgekook, ek sal nie die retoriek verander kry nie, en die stryd is aan. Hoe meer die wêreld, en dan spesifiek die Westerse wêreld, die diskriminerende beleid van die Suid-Afrikaanse regering gaan verwerp en straf, hoe meer aan hulle daarop aandring, en met hoe meer aggressie gaan dit afforseer word.

Die vraag is net: Hoe lank gaan dit nog werk om deur voortdurende hofsake te poog om leefbare omstandighede in hierdie land vir Afrikaners te beding? Ek dink nie dit is meer die antwoord nie. Die Suid-Afrikaanse regstelsel is, op sy beste, wankelrig en geneig om die dominerende faksies in regering ter wille te wees. Die Grondwetlike Hof is gelaai met ideoloë wat ʼn ideologiese vasberadenheid het om hulle geloof in Kritieke Rasse-ideologie en ʼn eensydige interpretasie van die land se geskiedenis, in hulle uitsprake te reflekteer.

Hier’s die ding: Die huidige regime in die land veg nie om ʼn morele meerderwaardige ideaal te bereik, soos om die lewens van miljoene Suid-Afrikaners te verbeter nie; dit is slegs maar ideologiese retoriek. Daar word geveg om ʼn netwerk wat die deelnemers daaraan geweldig ryk en magtig gemaak het.

Maar iewers moet daar ʼn oplossing wees om vir Afrikaners, met hulle unieke geskiedenis, lewensuitkyk, en politieke-ekonomiese belange ʼn toekoms sonder diskriminasie en erodering van hulle identiteit moontlik te maak. Dit is beslis nie in Orania of Kleinfontein nie. Dit is ook nie in apatiese aanvaarding van ʼn regime wat al meer onderdrukkend despotisme teen die Afrikaner en Afrikaner-belange impliseer nie.

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2025-2026. All right reserved.

Use this website in terms of the legal notes regulating is (Terms of Use). If you do not agree with these terms, please leave and do not use the site.

South African legislation requires that specific privacy requirements must be guaranteed in the use of this website. Thee website's Privacy Policy can be access by clicking on the link below.

bottom of page