'n Ekonomiese wonderwerk is onwaarskynlik
- Frans Minnaar

- 1 day ago
- 5 min read
Groot opgewondenheid heers skynbaar in regeringskringe en onder ontleders oor tekens van herlewing in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die ekonomie groei met 1,2% en die land word van die gryslys van die Finansiële Aksie Taakspan verwyder. Ramaphosa is gaande oor die “groen gras”, die tekens van veel sterker ekonomiese groei in Suid-Afrika.
In November 2025 het S&P Global Ratings Suid-Afrika se soewereine kredietgradering opgegradeer na 'BB' (buitelands) en 'BB+' (plaaslik), wat die vooruitsigte na positief verskuif. Hierdie eerste opgradering in 16 jaar weerspieël verbeterde fiskale trajekte, strukturele hervormings in energie/logistiek en laer Eskom-verwante risiko's, hoewel die land steeds twee kerwe onder beleggingsgraad is (Google AI, vertaal).
Ek dink dit is tipiese ANC retoriek; tipiese "ons sê so, so dit sal so wees." Ek dink nie die land se ekonomie sal noemenswaardig groei oor die komende dekade nie; om die waarheid te sê, dink ek die armoede en verval gaan toeneem. Ek sukkel om te sien hoe 'n rassistiese, sosialistiese regering wat hulle onbekwame kaders orals ontplooi, daarin gaan slaag om ekonomiese groei te bewersktellig.
Die regering het egter ʼn vyand gemaak van die supermoondheid van die wêreld, die Verenigde State, en die kant gekies van die muishondlande van die wêreld, insluitend Iran, Kuba en Venezuela. Dit sal nie ongestraf verbygaan nie. Elke land sedert die Tweede Wêreldoorlog wat ʼn ekonomiese vyand van die VSA gemaak het, het oor die medium – to langtermyn ekonomies in duie gestort.
Die euforie oor ʼn veranderende wêreldorde is vroegtydig. Die magsbalans in die wêreld is besig om te verskuif, ja, maar ons is nog nie daar nie. Amerika is ook besig om intern te verander, en sal heel moontlik iewers in die toekoms regerings verkies wat Suid-Afrika en die idee van Kritieke Rasse Ideologie, sal ondersteun. Die tekens hiervan is reeds te sien in die verkiesing van ʼn persoon soos Zohran Mamdani as burgermeester van New York Stad. Weereens, dit is iets wat in die toekoms die politiek van die land gaan beïnvloed; tans egter is tussen 57 en 60% van die bevolking Wit, Engelssprekend en van Europese afkoms. ʼn Verdere twee-derde van sogenaamde Spaans- Amerikaners is Wit, waarvan die meerderheid geneig is om vir die Republikeinse Party te stem (alhoewel ek weet dat die meerheid “Hispanics” die Demokrate ondersteun). Feit van die saak is dat die Republikeine state met sterk Wit Latynse burgers, soos Florida en Texas, deur die Republikeinse Party oorheers word).
Ja, Sjina groei ekonomies vinniger as die VSA, maar daardie groei het in die onlangse verlede aansienlik verlangsaam, terwyl die van die VSA effens versnel het. Verder het Sjina meer as 1,4 miljard mense om na om te sien, teenoor die VSA se ongeveer 330 miljoen. Baie belangrik: Sjina het ʼn reuse agterstand om op te maak. Dit is ʼn nuutgeskepte ekonomiese reus (ʼn proses wat in ongeveer 1978 in alle erns begin het, met die aanvaarding van "Realm Economics/Mikro-Makro Paradigma": 'n Raamwerk wat fokus op die interaksie tussen 'n sosialistiese institusionele struktuur en 'n mededingende markomgewing). Die VSA, aan die ander kant, se ekonomiese ontwikkelings trajektorie is reeds meer as ʼn honderd jaar oud, en het veel meer geleentheid gehad om infrastruktuur en die institusionele vermoëns te vestig om langslewendheid moontlik te maak.
Ja, as die huidige tendense sou voortduur, sal Sjina op ʼn stadium oorneem van die VSA as die wêreld se dominante moondheid. Ons is egter nog nie daar nie.
Rusland is uit die spel geboender, hoofsaaklik deur die Oekraïne oorlog. Die land is soos ʼn keffertjie op die internasionale verhoog; baie lawaaierig, maar sonder die ekonomiese of militêre vermoëns om saam te speel met die bulldogs, die bulhonde, naamlik die VSA en Sjina.
Die ANC is ʼn ideologiese dierasie. Dit was suiwer ideologie, en nie gesonde verstand, of ʼn objektiewe ontleding van geopolitieke werklikhede nie, wat aanleiding gegee het tot hulle houding teenoor die VSA. Net soos wat Kuba ʼn ideologiese dierasie was; vandag is dit ʼn gebroke land met geen ekonomie oor om van te praat nie. Dieselfde kan gesê word van Iran en Venezuela. Suid-Afrika is op spoor om te volg.
Daar gaan nie ʼn ekonomiese wonderwerk in die land plaasvind nie, want die omstandighede geskep deur ʼn ideologiese mal regering maak dit onmoontlik.
Ramaphosa loop en spog met die uitkomste van sy soveelste Belggerskonferensie. Hierdie jaar was daar glo R889,8 miljard bewillig. Ek weet nou nie, maar vir my lyk dit asof meeste van hierdie sogenaamde “beleggingsbeloftes” eintlik maar projekte en inisiatiewe is wat die maatskappye in elke geval in die land beplan het. Dit is nie nuwe projekte wat stimulus aan die ekonomie sal verskaf nie. Verder is ek ook van mening dat sogenaamde “beleggings” deur entiteite wat in elk geval hulle geld van die belastingbetalers ontvang, soos die IDC en ontwikkelingsbanke, nie in die lys behoort opgeneem te word nie. Dit geld ook vir bilaterale ooreenkomste met ander lande se regerings. In elk geval, hoe dit ook al mag sy, een ding is baie duidelik, en dit is dat hierdie beleggings afkomstig van beleggingskonferensies niks bydrae tot groei in die BNP nie.
Daar is geen noemenswaardige verbetering in die tendens van direkte buitelandse beleggings in Suid-Afrika nie.
Bron: Trading Economics
Die mediaan vir direkte buitelandse beleggings in Suid-Afrika vir die tydpwerk 2019 tot eerste kwartaal van 2026, is R15,3K miljoen. Die huidige tends is substansieel onder hierdie merk.
Kapitaalskepping bly traag. Infrastruktuur verval meer-en-meer. Die land is gespaar van beurtkrag slegs omdat die vraag na elektrisiteit so laag is, omdat die eens geïndustrialiseerde land nou ʼn de- geïndustrialiseerde land geword het. En steeds bly die vlaag van industriële maatskappye wat die land verlaat aanhou beweeg.
Laai die statistiek hieronder af.
Bron: Trading Economics
Die ekonomie sal nie betekenisvol herstel nie, omdat die land se beleid van sosialisme, soos die nasionalisering van mineraalregte, en die voorgestelde Nasionale Gesondheidversekeringstelsel beleggers wegjaag, omdat daar hopeloos te veel korrupsie en diefstal in die openbare finansies geïntegreer is, omdat die regeringstelsel van bo tot onder deurspek is van onbekwaamheid en ontplooide kaders, omdat die beleid van transformasie groei ondermyn en diefstal aanmoedig en omdat persone besope met ideologiese idees en rewolusie nostalgie in beheer van die land is, maar bepaald van kern ekonomiese departemente, soos Mineraal en Energie, Handel en Nywerheid, Landbou en die Presidensie.
Wil ek hê die ekonomie moet sterk groei of nie? Ek is nie seker nie. My eerste prioriteit is vir die veragtelike rasse diskriminasie om beëindig en stopgesit te word. As sanksies teen die land nodig is om dit reg te kry, sal dit maar so moet wees. As die ekonomie agteruitgaan, en ons almal daaronder moet ly, maar dit gee aanleiding tot die einde van rasse diskriminasie teen minderhede, moet dit maar so wees.
Prenjtjiebron: 123RF



Comments