Nasionalisme vs Patriotisme
- Frans Minnaar

- Mar 20
- 3 min read
President Macron se befaamde uitspraak dat patriotisme ʼn goeie ding is wat aangemoedig moet word, maar nasionalisme veredelend en verwerplik, is wel-bekend.
Die vraag is: Wat is die verskil?
Patriotisme gaan gepaard met toewyding aan ʼn land, nasionalisme aan ʼn demografiese entiteit of groep, soos ʼn bepaalde ras - of kulturele verband.
Macron het natuurlik spesifiek verwys na Frankryk, met ʼn toewyding aan "etniese" Franse (Wit, inheems tot Frankryk), maar ter uitsluiting van immigrante, spesifiek uit Pakistan en Afrika, wat waarskynlik verwys na "nasionalisme". Daarteenoor verwys "patriotisme" waarskynlik na ʼn toewyding aan Frankryk, ingesluit almal wat daar woon en burgers is.
Macron se sentimente is ongetwyfeld dat die anti -immigrante gevoel en optrede van die Regterkant van Europese politiek verwerp moet word.
Dit, hierdie mening, kan toegepas word op die posisie van Afrikaners in Suid-Afrikaners, waar die aggressie teen wat gesien word ʼn herlewing van Afrikaner nasionalisme. Met ander woorde, gegewe Macron se siening, kan Afrikaner Nasionalisme gesien word as ʼn verknogtheid aan Afrikaners, as ʼn kultuur, - geskiedkundige - en ras entiteit. Die rede vir die aggressie? Afrikaners behoort prioristies te wees, verbonde aan - en tot Suid-Afrika, en die totale bevolking daarvan, eerder as net die identifiseerbare mikro groep bekend as Afrikaners.
Sentimente wat gebore is uit, en gegiet is in, die moderne globale Westerse narratief van die Liberalisme, gelykheid en vryheid, humanisme. Die ding is net dit: Patriotisme kan net werk indien die liberale ideologie waaruit dit voortspruit behoorlik funksioneer.
Maar in Suid-Afrika doen dit nie. Die aggressiewe rasse wetgewing in die land bevoordeel bepaalde demografiese groepe, en benadeel ander, juis oor die demografiese kenmerke van ʼn groep. Met ander woorde, nasionalisme is wetlik verplig, maar patriotisme institusioneel verwag as ʼn instrument om verset te smoor. Die wat diskrimineer verwag om van teen wie gediskrimineer word om bly te wees daaroor; of dan minstens, om dit onbevraag te aanvaar, en steeds lojaal te wees teenoor die kollektiewe.
Afrikaner Nasionalisme het ʼn slegte reputasie as gevolg van die historiese rasse diskriminasie wat daarmee gepaard gegaan het. Dit was as verskoning gebruik om alles geassosieer met Afrikaners te verwerp en stuksgewys uit die weg te ruim. Dit is soortgelyk aan nasionalisme wêreldwyd.
Maar nasionalisme is weer aan die toeneem. MAGA in Amerika is ʼn manifestasie daarvan; Russiese imperialisme is ʼn manifestasie daarvan; die manifestasie van mag deur etniese groepe in Suid-Afrika is ʼn manifestasie daarvan.
Sogenaamde transformasie en regstelling in Suid-Afrika word gedryf deur nasionalisme, Swart nasionalisme, wat Blanke burgers uitsluit uit vele geleenthede en die reg op gelykheid in die land. Wat ek aan die begin van hierdie artikel aangevoer het, was dat Macron se begrip van nasionalisme is dat sommige rassegroepe opsetlik uitgesluit word, en nie as deel van die patriotistiese geheel gesien word nie. Dit is presies wat in Suid-Afrika gebeur. Blankes, en dan spesifiek Afrikaanssprekende Blankes, word opsetlik uitgesluit van die voordele van kollektiewe patriotisme; met ander woorde, verantwoordelikhede, maar nie voordele nie.
Die ding is net dat mense soos Macron weier om hierdie verband te trek, omdat sy ideologiese verwysingsraamwerk van koloniale skuld hom nie toelaat om erkenning te gee aan die konsep, die moontlikheid as ʼn begrip, van Blanke onderdrukking nie. Die aanvaarding van Kritieke Rasse Ideologie: Sistemies kan Swart mense nie rassisties wees nie, en Blankes is altyd en ongeag konteks.
Die hernude opkoms van Afrikaner Nasionalisme het te doen met die gevoel van kollektiewe benadeling onder Afrikaners, en dit is werklik. Afrikaners is werklik onder beleg, en word opsetlik geteiken. Die taal Afrikaans word opsetlik gemarginaliseer, Afrikaners word ekonomies en professioneel geteiken en benadeel. Gelyke toegang tot opleidingsgeleenthede word hulle opsetlik ontsê.
Ek so ʼn ondersteuner van Afrikaner Nasionalisme. Ek voel nie werklik ʼn sin van patriotisme teenoor ʼn land wat gruwelik teen my diskrimineer nie. Ek voel egter assosiasie met, en lojaliteit teenoor mense wat ʼn gevoel van "behoort aan" by my skep, saam met my benadeel en bedreig word, en my kulturele identiteit definieer.
Apartheid was ʼn klad op die geskiedenis van Afrikaners, maar daar is veel meer in die kultuur en geskiedenis van die groep om bewonder te word. Dit word egter gebruik deur diegene wat meer nasionalisties is as ek of my groep, om verset teen uitsluiting van die voordele van nasionalisme te smoor.
Grond of geografiese gebied definieer my nie, mense doen.
Prentjiebron: 123RF



Comments