Regeringsbeleid en die implementering daarvan
- Frans Minnaar

- 11 hours ago
- 4 min read
Die gesegde van die ANC, en wyd verkondig deur die populêre media, dat die regering, en, by verstek Suid-Afrika, “goeie beleid het, maar dat die probleem by die implementering daarvan lê,” is die grootste onsin onder die son (en ʼn baie gevaarlike leun). Suid-Afrika se beleidsrigtings is vernietigend, want is deurlopend geskoei op onwerkbare, ideologiese aannames en teorieë wat nog nêrens in die wêreld geslaagd was nie, en meestal die werklikhede van die jare 1970s en 80s weerspieël, en nie die jaar 2026 nie.
En nee, dit was nie betekenisvol beter onder die Mbeki-bewind nie.
ʼn Beleid wat kundige mense met jarelange praktiese ondervinding, sowel as ʼn bewese geskiedenis van effektiwiteit en doeltreffendheid, op rasse-grondslae uit kritieke poste weg te jaag, soos wat die beleid van regstellende aksie op groot skaal gedurende die bewindsjare van Mbeki gedoen het, is nie “goeie beleid wat sleg geïmplementeer was nie”; dit is slegte beleid wat vernietigende gevolge sou gehad het, selfs al sou dit goed geïmplementeer gewees het.
Ekonomiese beleid geskoei op die uitsluiting van minderheidsgroepe met geweldig baie ervaring en baie goeie kwalifikasies, kan nooit goeie gevolge hê vir ʼn land wat alreeds gebuk gegaan het onder kernvaardighede nie.
Die sogenaamde neo-liberale ekonomiese beleid van GEAR was geïmplementeer binne die breër beleidsraamwerk van Swart Ekonomies Bemagtiging, Gelyke Indiensneming, die nasionalisering van mynregte en die afwatering van eiendomsregte teweeggebring deur wetgewing soos die Sekerheid op Verblyfreg en ander sosialistiese beleidsrigtings. Die verstening van arbeidswetgewing, uitgedruk in suiwer sosialistiese terme, het onuitspreeklik baie skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aangerig.
Onder die Zuma-bewind het die netwerke van staatskaping en entrepreneurskap, wat toe reeds ingeburger was, ʼn nuwe dimensie aangeneem, en die ekonomie verorber. Swart ekonomiese bemagtingswetgewing is verstewig, en horisontaal, - sowel as vertikaal uitgebrei.
Toe het Ramaphosa Presidensie gevolg het, was die strukturele skade alreeds so omvangryk, dat dit onomkeerbaar geword het. Slegs die grootste ideoloog en deurwinterde sosialis kan enige van die volgende wetgewing “goeie wetgewing” noem: Die Nasionale Gesondheidsversekering, die Onteieningswet (sonder vergoeding), wetgewing wat nou ten doel het om alle besighede te dwing om by munisipale owerhede ete registreer, en die oorweldigende wetgewing wat ten doel het om ekonomies belang uit die hande van Blanke Suid-Afrikaners te neem.
Feitlik alle wetgewing wat sedert 1994 in Suid-Afrikaanse gepromulgeer was, het twee oorheersende bepalings bevat, naamlik transformasie (met ander woorde, die opsetlike uitsluiting van Blanke Suid-Afrikaners), en, tweedens, versterking van ʼn omvangryke sosialistiese ideologie. Beide hierdie elemente, in enige wetgewing, is vernietigend.
So, Suid-Afrika het sedert 1994 vernietigende wetgewing aanvaar, wat baie swak geïmplementeer was. Die vermoë tot effektiewe implementering van wetgewing was vernietig deur ideologie, en dan spesifiek die wegkalwing van die kennis en vaardighede van die staatsdiens in die naam van “potensiaal” en regstellende aksie; ʼn proses wat mettertyd toenemend op die privaatsektor afgedwing was. Die staatsdiens het in duie gestort, daarom was regeringsbeleid swak geïmplementeer.
Die staatsdiens voor 1994 was uitstekend, onder die bestes in die wêreld. Dit neem nie die onregte veroorsaak deur die rassisitiese beleid van Aaprtheid weg nie, of verdedig dit nie. Tegnies was die staatsdiens, insluitend munisipale administrasie van daardie tyd onvergelykbaar meer effektief en doeltreffend as dit waarmee ons nou sit (wat vergelyk kan met swakste in die wêreld).
Die ineenstorting was veroorsaak deur die rassisties – en ideologies gedrewe wegjaag van honderde en duisende van die beste staatsamptenare en tegnici in die wêreld, en deur die gepaardgaande vernietiging van die institusionele geheue van staatsdepartemente, munisipaliteite en staatsbeheerde ondernemings.
O Broerder! Die katerontplooing en tenderpreneurs darem! Alle paaie tot ekonomiese welvaart loop deur die staat en dit wat die staat beheer. Die beste kwalifikasies wat jy moontlik kan hê om aangestel te word in ʼn senior pos in die staatsdiens of ʼn munisipaliteit, is ʼn aanklag van bedrog, of ʼn gerug van grootskaalse diefstal. Jou posisie in die ANC tel meer as die hiërargie van jou pos op die diensstaat van ʼn staatinstelling. As jy vir ʼn Kameraad aan die “regte kant” van die faksiegevegte ʼn pos moet skep, dan doen jy dit, ongeag of daar so ʼn pos op die diensstaat is of nie. En, o maggies, die kaders wat alles in duie laat stort is sulke briljante werkers, dan hulle ongelooflike hoësalarisse moet kry.
Om nie eens van die tenderpreneurs te praat nie! Hierdie briljante sakemanne met die vanne soos “Matshae”, “Ramaphosa”, “Magashule”, “Zuma”, “Malema” en “Mashatile” (Juniors), teen wie daar so vreeslik en verskriklik gediskrimineer was die afgelope 32 jaar, is so ongelooflik goed, dat hulle miljarde rande se tenders inryg (almal na verdienste, natuurlik). Snaaks darem dat die land se ekonomie agteruitgaan, met sulke uitnemendheid in ons midde, en nie lankal Singapoer en Suid-Korea sʼn verbygalop het nie!
Om ernstig te raak, hierdie tenderpreneurs vernietig waarde en vermoë in die ekonomie, want hulle lewer nie die dienste waarvoor hulle gekontrakteer word nie, en waar hulle dit wel lewer, lewer hulle sub-standaard kwaliteit werk.
As gevolg van die massafisering van onbekwaamheid in die staatsdiens en staatsbeheerde ondernemings, het die logistieke – en infrastruktuur kapasiteit vereis om beleid te implementeer totaal verval. Hawens kan nie meer verhoogte ekonomiese produksie vir in-en-uitvoer waardetoevoeging hanteer en ondersteun nie. Munisipaliteite kan nie meer die dienste lewer wat industrie en industriële store benodig om produktief en winsgewend te funksioneer nie.
Daar is ʼn oorkoepelende probleem in Suid-Afrika: Die land se Grondwet maak voorsiening vir diskriminasie teen sekere groepe in die land, wat geklassifiseer word as “die onregte van die verlede”. Die Grondwet stel geen perk op hierdie “regstelling” nie, en maak derhalwe voorsiening vir diskriminasie sonder einde.
Ter opsomming: Die probleem in Suid-Afrika is nie goeie beleid maar swak implementering nie; die probleem is beide vernietigende beleid, sowel as onbekwame en gebrekkige implementering.
Prentjiebron:



Comments