Vergeet van die Liberaliste; wees bekommerd oor die Linkses
- Frans Minnaar

- Jan 22
- 4 min read
Die vyand is nie die liberalisme nie. Mense verstaan die begrip “liberalisme” dikwels verkeerd. Die begrip word dikwels verstaan as die verval gemeenskapswaardes, en dan spesifiek religieuse geloof, sowel as Sosialisme as ʼn ekonomiese stelsel en grootskaalse inmenging van die staat in die sake van die burgery, besigheid en gemeenskappe.
Eintlik, tegnies gesproke, is dit nie liberalisme nie. Liberalisme is die ideologie wat vrye markte, gelykheid van mense, individuele regte, gelykheid voor die reg en demokrasie beklemtoon. Die liberalisme sluit in geloof in ʼn sekulêre staatbestel, maar in die ideologie word dit vertolk binne die begrip van geloofsvryheid; met ander woorde, die staat moet sekulêr optree, en nie een bepaalde geloof in staatsinstelling – of beleid beklemtoon nie. In hulle persoonlike en gemeenskapslewens egter, het individue die reg om vrylik te identifiseer met geloofswaarde van hulle keuse.
Die ding met liberalisme is dat, in die 1900s, en dan bepaald die eerste ses-of-sewe dekades daarvan, dit die dominante “progressiewe” ideologie in die Westerse wêreld was. Dit was binne hierdie konteks wat meeste Afrikaners en gelykdenkende konserwatiewes elders in die Westerse wêreld daarmee te doen gekry het. Op daardie stadium was die beginsels van die liberale ideologie lynreg in stryd met die geldende waardes van die tyd, soos die aanvaarding van rasse-meerderwaardigheid, rigiede begrip van religieuse riglyne en ʼn aanvaarding van die “sterk, beskermende staat,” wat, soos in Suid-Afrika, die uitbreiding van burgerregte na all rassegroepe ingesluit het. Byvoorbeeld, die geslag van konserwatiewe Afrikaners wat in 1948 die voormalige Nasionale Party as regering ingestem het, het die liberalisme aggressiewe verwerp. Tog, eintlik was die party wat hulle ondersteun het, se ekonomiese beleid grootliks sosialisties van aard, want daar was ʼn geloof dat die regering in die ekonomie moet inmeng om die Armoede vraagstuk op te los.
Eintlik het die “konserwatiewes” van vandag liberale waardes aangeneem. Die Westerse wêreld het “daarin gegroei”. Moderne liberalisme, of dan die sogenaamde “neoliberalisme”, beklemtoon private eiendomsbesit, deregulering en privatisering.
Die ding is dat, wat vandag op oorvereenvoudig wyse as “liberaal” geïdentifiseer word, eintlik nie “liberalisme” is nie. Waarna persone wat die term gebruik deesdae eintlik verwys, is ʼn veel ander ideologie; een wat gelykestelling (in teenstelling met “gelykheid”) vooropstel, wat glo dat die staat aktief in die gemeenskap en ekonomie moet inmenging om gelykstelling af te dwing, wat alle grense tussen mense wil ongedaan maak (insluitend ras, geslag en ekonomiese status) en wat ʼn kollektiewe begrip van die ekonomie, arbeid en sosiale interaksie voorstaan. Dit is waar die idee vandaan kom van "verteenwoordiging"; dat werknemers in elke onderneming die profiel van die kollektief moet weerspieël, en dat enige erkenning van individualistiese vermoëns wat moontlik onderskeid tussen individue impliseer, as veragtelike diskriminasie beskou word.
Liberalisme is ʼn goeie, behoudende ideologie; die linkse ideologie is uiters gevaarlik en vernietigend. Liberalisme glo in, en bevorder, vryheid van spraak, gelykheid sonder omgekeerde diskriminasie, die selfbeskikking van gemeenskappe, die individualiteit van besigheid, sonder staatsinmenging.
Die linkse ideologie glo nie in godsdiensvryheid nie, maar in Humanisme. Die verskil is dat godsdiensvryheid jou toelaat om te aanbid wie jy wil; Humanisme laat jou slegs toe om die Mens te aanbid. Jy mag teoreties jou geloof beoefen, maar sodra dit met die Humanisme bots, sal dit nie verder toegelaat word nie.
Die ideologie glo in gelykheid, maar dan beteken dit aggressiewe regstellende aksie en diskriminasie, veral teen “die vyand” (wat meestal en veral Wit mans is), en nie gelykheid in geleenthede nie. Hulle verwys na sogenaamde "gelykheid in uitkomste", en nie "gelykheid in geleenthede" nie. Dit beteken onmiddellik dat die diskriminasie inherent aan "regstelling" legitiem verklaar word; en nie net legitiem nie, maar die norm waartoe almal moet konformeer.
Jy sal toegelaat word om as individue te funksioneer, of selfs jou eiesoortige kulturele waardes uit te leef, maar dan met die duidelike begrip dat dit ondergeskik is aan die kollektiewe wil (en hierdie wil word bepaal deur die staat, wat kollektiewe waardes op jou mag, en sal, afdwing). Ons kan die vrugte, en gevolge, van die toepassing van hierdie ideologie baie duidelik sien in Suid-Afrikan se Afrikaner kultuurgroep.
Spraakvryheid beteken dat jy kan sê wat jy wil, solank dit Linkse waardes verteenwoordig. ("Afwykende" menings, soos verset teen die aanvaarding van selfdegeslag-verhoudinge (slegs meer een voorbeeld, en nie eens noodwendig my standpunt nie), word gaklassifiseer as "haatspraak", en gekriminaliseer. Linksgesindes het 'n kragtige wapen ontdek: Die enkele woordjie "Disinformation". Alles wat nie hulle agenda ondersteun nie, word tot "disinformation" verklaar, en "disinformation" is onwettig. Dit verskaf 'n wetsgebonde regverdiging vir sensorskap.
Besighede word toegelaat om in die ekonomie te funksioneer, maar dan met die duidelike begrip dat hulle sover moontlik besit moet word deur die kollektief en gewillig enorme belastingkoerse sal moet betaal ten einde vir die kollektief te sorg.
Hier's die ding: Ondersteuners van die Linkse ideologie is geweldig wrokkig teenoor die "bestaande orde". Hulle sien diegene wat geassosieer word met daardie orde as die vyande van die mensdom (en dit is hoofsaaklik Wit Westerse mans, en, daarmee saam, kapitalisme en godsdiens). Die hele ideologie is gebou rondom die vernietiging van daardie vyand. Vryheid, gelykheid, regte is bloot maar sistemiese retoriek; op die ou einde hang alles af van die vraag of wat gedoen word, wat geglo word, sal bydrae tot die vernietiging van die vyand.
Die Linkse ideologie glo nie in vryheid nie, dit glo in eenvormigheid. Dit glo in 'n revolusie in die bestaande orde en dominante waardestelsels.
Moenie bang wees vir, of vyandig teenoor, die liberaliste nie. Hulle mag elke nou-en-dan iets sê wat u mag irriteer, en self kwaad maak, maar hulle is eintlik aan u kant, en deel u basiese grondliggende waardes. Die probleem, die vyand, is die Linksgesindes.
Prentjiebron: 123RF

Comments