top of page

Waarheen is ons op pad? Kan iemand aan my die visie verduidelik?

Ek is deel van die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika. Wanneer ek kommentaar lewer op die politiek, is my vertrekpunt altyd dat my kriterium vir (veral subjektiewe) beoordeling is dat die rasse- diskriminasie in my geboorteland teen my moet einde kry.

Daar is hoofsaaklik drie prominente instellings wat poog om my belange polities, ekonomies en kultureel te beskerm en te bevorder (of dit is waarop hulle aanspreek maak), naamlik AfriForum, die Vryheidfront Plus en (meer indirek, maar tog) die DA.

Wat ek nie verstaan nie, is dit: Wat hoop AfriForum om te bereik? Wat hoop die Vryheidsfront om te bereik? Wat gaan dit help om vir die Demokratiese Alliansie te stem?

Die punt is dit: Wat wil die groter en meer prominente rolspelers in die geledere van Afrikaners in Suid-Afrika bereik?

Daar was ʼn stryd tussen die voormalige setlaars en die plaaslike gemeenskappe van die land, wat uitgeloop het op die politieke skikking van 1994. Oënskynlik het dit gelei tot ʼn land waar almal gelyke regte gehad het, en waar ras nie raakgesien sou word nie; of dan, die voormalige setlaars en plaaslike gemeenskappe sou gelyke Suid-Afrikaners gewees het. In sulke omstandighede sou daar dan ʼn gemeenskaplikheid in die land ontwikkel het, wat dit in ʼn dinamiese demokratiese stelsel sou omskep waar ras – en kulturele identiteit nie noemenswaardige of bepalende faktore sou wees om mense en hulle belange te skei nie.

Laat ek ʼn belangrike verduideliking verskaf. Histories is dit doodeenvoudige ʼn waarheid, ʼn realiteit, dat my voorouers vanuit Europa gekom en aan hulle aan die Kaap gevestig het. In 'n latere stadium het hulle noordwaarts getrek, en hulle toe in die Vrystaat en Transvaal gevestig (natuurlik, per definisie, ook in die voormalige Natal). Dit maak hulle “setlaars”. In my skrywes verwys ek derhalwe na die begrip (van “setlaar”) bloot as ʼn “tegniese” begrip gebaseer op historiese werklikhede van 'n persoon wat hom-en haar hier kom vestig het, en nie in ʼn politieke konteks nie.

Dit beteken dat my teenwoordigheid in Suid-Afrika op dieselfde wyse plaasgevind het as die van mense van verskeie rasse en kulture in die VSA, Australië, Nieu-Seeland, Argentinië, Brasilië, en baie meer lande. Dit was meer as driehonderd- vyftig jaar gelede. As dit my boos maak, maak dit al daardie setlaars ewe boos. Verder, in Suid-Afrika word die situasie nog verder gekompliseer deur die feit dat meeste van die Swart stamme wat Suid-Afrika vandag domineer (die voorouers van diegene wat vandag met soveel woede aandring dat ek nie hier hoort nie) min of meer op dieselfde tydperk suidwaarts migreer het, op dieselfde tyd wat my voorouers noordwaarts migreer het. Die uitsondering is die Eerste Mense van die land (wat in dieselfde posisie is as die inheemse bevolkings van ander gekolonialiseerde lande wêreldwyd).

Nietemin, dit is maar ʼn kantaantekening, sodat die leser my uitgangspunt verstaan.


Wat wil AfriForum bereik?

AfriForum se missie is as volg:

AfriForum se primêre missie is om die voortbestaan ​​en welstand van Afrikaners te verseker, met die fokus op veiligheid, selfstandigheid, kulturele identiteit, geregtigheid en organisatoriese bou. Hulle doel is om 'n beter toekoms vir Afrikaners en hul nageslag te skep deur deelname aan openbare debat en aksies aan te moedig, terwyl hulle ook onafhanklike strukture vir selfbeskikking bevorder.

Indien Suid-Afrika 'n staat was waar alle burgers op gelyke vlak dieselfde regte geniet het, en vry was om hulle eiesoortige kulturele identiteit, sowel as politieke, - ekonomiese - en maatskaplike regte na goeddunke, en in vryheid, uit te leef, sou hierdie missie met sukses nagestreef kon word.

Ten einde die doelstellings van veiligheid, selfstandigheid, bevordering van kulturele identiteit, geregtigheid en organisasiebou te verwesenlik, moet jy of toegang hê tot staatsgesag, of beskerm word deur gewaarborgde regte om sodanige doelwitte na te streef te midde van ander groepe wat in dieselfde jurisdiksie funksioneer, en geregtig is op dieselfde regte. Selfs al sou hierdie vereiste omstandighede bestaan, sou jy ook dan toegang moet hê tot kapasiteitskeppende hulpbronne; of verskaf deur die staat, of uit eie geledere.

In state waar ideologiese, ekonomiese of kulturele gemeenskappe hulle regte effektief beskerm en bevorder, is een, maar meestal beide, van die vereistes altyd teenwoordig. In gebalanseerde demokrasieë is daar ʼn voortdurende wisselwerking in dominasie van staatsgesag (die een ideologie wen ʼn verkiesing, vir ʼn tydperk, waarna dit opgevolg word deur ʼn ander). In die proses word magsbalans geskep, en breë deelname aan die uitoefening van staatgesag. En/of daar is ʼn legitieme Grondwetlike bedeling wat die regte van bepaalde grepe erken, en (baie belangrik) daadwerklik eerbiedig word (wat eerbiediging deur hulpbron-toedeling insluit).

Maar dit is nie die werklikhede van Suid-Afrika nie. Die oomblik toe die ANC in 1994 die mag in die land oorgeneem het, was die staatstelsel omgekeer van die ideologie van Wit Oorheersing na Transformasie, gebaseer op die Nasionale Demokratiese Rewolusie, waarvan Swart Oorheersing ʼn primêre element is. Daar is nie gelykheid in die land nie; nie eens Grondwetlike gelykheid nie, want die Grondwet maak in soveel woorde voorsiening vir diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners. Hierdie regime het in die dertig jaar sedert 1994 aanleiding gegee tot ʼn staat – en gemeenskapsbestel wat bevolkings (rasse-) klassifisering geïnstitusionaliseer het, en blatante wetgewende maatreëls ingestel het wat diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners verplig.

Daar is nie inter-groep gelykheid in die land nie. Transformasie is koning, die finale reg en arbitrêr – ook in die uitsprake van howe, maar dan spesifiek die Grondwetlike Hof, en kwasi -judisiële instellings soos die Menseregtekommissie en ander Hoofstuk 9 instellings.

Daar is ʼn plaag van misdaad, waarvan spesifiek misdaad teen Blanke blootgestelde groepe (soos boere) opsetlik onderspeel word, en die sistemiese dimensies daarvan blatant misken en ontken word – en waarvoor bitter min empatie vanuit owerheidsinstellings bestaan. AfriForum se beurtwagte doen goeie werk, maar nie eens naastenby alle Afrikaners in die land word daardeur beveilig nie, wat nog te sê van die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap. En daar is toenemende verset van regeringskant teen privaat organisasies wat staatsfunksies oorneem; tot so ʼn mate dat dit toenemend begin oorgaan in wetgewing wat sodanige gemeenskapsorganisasies sal verlam – insluitend regulasies wat privaat veiligheidinstellings sal verbied om vuurwapens te gebruik.

Die Afrikaner se geskiedenis en kultuur was onder aanslag in Suid-Afrika sedert 1994, maar het deur die jare in intensiteit toegeneem. Naamsveranderings was nie slegs om onregte reg te stel, en die identiteit van Suid-Afrika te transformeer nie, maar primêr om die Nasionale Demokratiese Rewolusie te voltrek, en Afrikaners, by name, te benadeel en te vervreem. Museums en standbeelde is verwyder, of opsetlik geteiken deur die regering (meestal deur dit oor te neem “ten einde alle kulturele te weerspieël”, of bloot verval te veroorsaak deur die ontrekking van befondsing (terwyl revolusionêre simbole soos die Apartheidsmuseum uitstekend befonds word, en miljoene beskikbaar gestel word vir ʼn Winnie Mandela huis – waarvan elke sent gesteel was nog voordat die werk gedoen kn word).

Die Afrikaanse taal word verwyder uit die Suid-Afrikaanse openbare lewe. ʼn Taal wat dit self gevestig het as ʼn standvastige een wat met groot sukses in die regering, professionele wêreld en die akademie volhoubaar gebruik was, was opsetlik vernietig in die naam van Transformasie (lees: opsetlike diskriminasie teen Afrikaners en die Afrikaanse taal).

Ten spyte van AfriForum se beste pogings om “dit self te doen”, verval infrastruktuur en dienste in stede en dorpe by die dag net verder-en-verder; dit terwyl die owerhede met toenemende aggressie hierdie “selfdoen”-projekte van AfriForum (en ander gemeenskapsgebaseerde organisasies) begin verbied.

Hier’s die ding: AfriForum kan nie sy mandaat uitvoer om die voortbestaan ​​en welstand van Afrikaners te verseker, met die fokus op veiligheid, selfstandigheid, kulturele identiteit, geregtigheid en organisatoriese bou nie. Hulle kan nie. Daar is twee redes voor.

Eerstens is die “struktuur” van die Suid-Afrikaanse samelewing nie geskik daarvoor nie (dit word gedefinieer deur die “ingesluit” en “uitgeluit”, wat weer op rasse – en kulturele gronde bepaal word). Die gebrek aan gelykheid maak die nastrewing van doelstellings wat gelykheid vereis onrealisties en gedoem tot mislukking (met spesifieke verwysing na die vereiste Grondwetlike raamwerk om voordele gebaseer op die reg op nastrewing van eiebelang).

Tweedens, binne die konteks van hierdie ongelyke magsverhouding, het AfriForum doodeenvoudig net nie vermoeë, of die hulpbronne, om hulle idealistiese doelwitte te bereik nie. Die antagonis met staatsgesag en die hulpbronne van die staat kan ondergeskikte rolspelers soos AfriForum manipuleer, verplig of verbied.

Die implikasie is doodeenvoudig dat AfriForum se missie, in die Suid-Afrikaanse konteks, hoogstens kort-termyn aksie kan waarborg; die vermoëns tot taktiese posisionering of strategiese waarborge ontbreek. Lang-termyn visie is onmooontlik. AfriForum kan nie ʼn toekoms vir Afrikaners waarborg, behoud van hulle kulturele of ekonomiese regte nie, en ook nie om hulle situasie in Suid-Afrika te verbeter nie. Hulle het nie die gesag of kapasiteit daarvoor nie.


Wat wil die Vryheidsfront Plus bereik?

Ek haal aan uit (of vanaf) die webwerf van die Vryheidsfront Plus:

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) is onherroeplik verbind tot die verwesenliking van gemeenskappe, in die besonder die Afrikaner, se internasionaal erkende reg op selfbeskikking, territoriaal en andersins, die handhawing, beskerming en uitbouing van hulle regte en belange asook die bevordering van die reg op selfbeskikking vir enige gemeenskappe in Suid-Afrika gebind deur ʼn gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis.

Die Vryheidsfront Plus is reg: Die Verenigde Nasies se Stigtingsmanifes erken die reg van volkere om hulself te regeer, deur interne – of eksterne meganismes (dit wil sê, deur vestiging van ʼn geografiese staat, of deur self-besluitneming binne die grense van ʼn bestaande staat - en die teenwoordigheid van ander kulturele groepe).

Daarom is die bepalings van Artikel 235 van die Grondwet vir my besonder interessant:

235. Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.

Punt is, wat doen die Vryheidsfront daaraan, wat ʼn aanduiding kan gee van waarheen hulle op pad is met Afrikaners?

Daar is Orania, die dorpie in die middel van Suid-Afrika, met geen ander bure as Suid-Afrika nie, nie aan die see (of enige ander land) grens nie, wat aan die Suid-Afrikaanse regering belasting betaal, en waarvan verset daarteen in die jongste verlede geweldig toegeneem het. Orania word nasionaal en internasionaal gesien as deel van die grondgebied, en jurisdiksie, van Suid-Afrika. Dit het geen vooruitsigte om in ʼn selfstandige onafhanklike staat met ʼn volhoubare ekonomie en staatsbestel te ontwikkel nie. Dit het geen historiese aanspraak om as die grondgebied van die Afrikanervolk beskou of erken te word nie. En selfs as sou die status as ʼn Afrikanerstaat erken word, hoeveel Afrikaners sal bereid wees (of ekonomies in ʼn posisie) om na ʼn klein dorpie in die middel van ʼn semi-woestyn gebied te verhuis? Nie ek nie; wat sal ek daar gaan doen?


Die ander ideaal van die Vryheidsfront Plus is ...

... die handhawing, beskerming en uitbouing van hulle regte en belange asook die bevordering van die reg op selfbeskikking vir enige gemeenskappe in Suid-Afrika gebind deur ʼn gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis.

Sedert 1994 het die Vryheidsfront Plus nog niks bereik in die nastrewing van hierdie doelstellings nie.

Ek haal weereens aan uit die party se webwerf:

Die belangrikste gebeurtenis in die eerste politieke termyn was die skryf van Suid-Afrika se nuwe grondwet. Hieraan het die Vryheidsfront aktief deelgeneem en veral gefokus op die insluiting van selfbeskikking en groepsregte in die grondwet. Dit het meegebring dat die Vryheidsfront ʼn sleutelrol gespeel het in die insluiting van die volgende artikels in die nuwe Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996):
Artikel 30 en 31 wat kollektiewe regte vir taal-, en kultuurgemeenskappe erken;
Artikel 185 wat voorsiening maak vir ʼn Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe;
Artikel 235 wat verwys na die konsep van die reg op territoriale selfbeskikking.

Met ander woorde, die Vryheidsfront Plus se "claim to fame" is dat hulle groepsregte in die Grondwet ingeskryf gekry het. Daar is meriete in die argument, maar dan slegs op 'n tegniese punt (en nie op 'n substantiëele vlak nie). Die tegniese punt is dat die gemelde artikels inderdaad verwysings na groepsregte maak.


Artikel 30 van die Grondwet bepaal as volg:

Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, maar niemand wat hierdie regte uitoefen mag dit doen op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.

Tegnies is die reg op die beskerming van taal in die Grondwet opgeneem. Prakties, substansieel, het die Grondwetlike Hof reeds deur verskeie uitsprake die regsreël neergelê dat regeringsdepartemente en akademiese instellings die reg het om van Afrikaans ontslae te raak. Die regering erken nie Afrikaans as ʼn Afrika-taal nie, wat beteken dat dit nie die bevorderingsgeleenthede geniet wat met sodanige status gepaard gaan nie. Die taal word opsetlik gemarginaliseer – en met die goedkeuring van die howe, wat veronderstel is om die Grondwetlike status daarvan te handhaaf en te beskerm.

Die ANC se onderhandelingspan het die Vryheidsfront ore aangesit in 1994 deur die toevoeging van die laaste gedeelte daarvan, naamlik...

... iemand wat hierdie regte uitoefen mag dit (nie) doen op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie..."

Dit was hierdie gedeelte van die wet wat as verskoning gebruik was om Afrikaans se status te ondermyn.

Tipies van die ideologiese en ongebalanseerde aard van hofuitsprake in die verband, was die uitspraak in die saak AfriForum and Another v University of the Free State 2018. Die meerderheidsuitspraak kan opgesom word in hierdie aanhaling daaruit:

It was the use of Afrikaans as a second major medium of instruction that frustrated racial integration and generated racial tension. When the majority of white Afrikaner learners use English like all other students and only a few use Afrikaans, the prospects of we being “united in our diversity” and building “a united and democratic South Africa”, alluded to by Professor Gerwel, would be enhanced.

Die waarheid is: Alles wat na taal en kultuur verwys, word deurgetrek na apartheid, en sodra dit gebeur, verloor die Afrikaner alle regte, en dan spesifieke kulturele - en taalregte.

(Daar was wel die uitspraak in die saak van Chairperson of the Council of UNISA v AfriForum NPC, wat UNISA verplig het om sy afskaffing van Afrikaans as medium van onderrig aan die instelling te hersien. Maar intussen het Afrikaans in elk geval verdwyn, saam met die ineenstorting van administrasie by die instelling).


Artikel 31 van die Grondwet:

31. (1) Persone wat aan ʼn kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap
(a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en
(b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.
(2) Die regte in subartikel (1) mag nie uitgeoefen word op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.

Wat is die eerste ding wat u opval wanneer u bogenoemde bepalings lees? Die antwoord moet wees: Onderafdeling 2:

Die regte in subartikel (1) mag nie uitgeoefen word op ʼn wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.

Daarom word die kulturele regte van Afrikaners doodeenvoudig gelyk gestel met apartheid, en teenstrydig verklaar met and Handves van Menseregte - en geminag (definatief nie beskerm nie).

Kyk, as daar nou regtig een kommissie is wat nie alleen totaal nutteloos is nie, maar veel meer van 'n gevaar as 'n beskermheer vir Afrikaners en Afrikaans is, is dit nou die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe. Ek gaan nie eers verder daarop uitbrei nie - daar is niks om op "uit te brei" nie.


U mag dit nietemin interresant bevind om my ontleding oor die aangeleentheid oor die uitsprake van die Grondwetlike Hof oor sake met 'n kulturele strekking te lees (ek het dit geidentifiseer as een van die "verwante artikels" wat u aan die einde van hierdie plasing sal vind.


Hier is vir my die kern van die probleem met die Vryheidsfront Plus: Die leierskap bestaan uit ʼn groep mans wat totaal domineer, en sedert 1994 deel was van die infrastruktuur van die party. Almal is al sedert 1994, of kort daarna, lede van wetgewers, of die Parlement. Hulle leef afgesonderde, bevoorregte lewens, omring met (en daarom geweldig direk beïnvloed deur) die Parlementêre en wetgewende regime wat sedert 1994 in plek was. Hulle praat “gewone” politiek, soos jy dit sal doen in ʼn land wat as ʼn gesonde, gebalanseerde demokrasie funksioneer, terwyl die mense wat hulle ondersteun in ʼn totaal ander werklikheid leef, waar dit gruwelooslik teen hulle gediskrimineer word, waar hulle verarm, waar hulle totaal onmatig is.

Punt is, die Vryheidsfront Plus het hoegenaamd geen werklike mag of invloed, of die vermoë om iets prakties vir Afrikaners te doen nie. Maar hulle leierskap en besluitnemers is so vasgevang in hulle leefwêreld van politieke voorregte en Parlementêre prosedure – en strukture, dat hulle nie in staat is om buite daardie verwysingsraamwerk te kyk nie.

Die leierskap van die party sal maande lank filosofeer oor “Veldtog-slagspreuke” en “benaderings”, voor – en na verkiesings, terwyl dit inderwaarheid totaal irrelevant is. Die inherente steun vir die party is omgeveer 1% van die Suid-Afrikaanse kieserskorps. Ongeag benaderings tot verkiesingsveldtogte, sal die party min of meer daardie uitslag kry; behalwe wanneer die onontginde poel van potensiële ondersteuners, naamlik die konserwatiewe kiesers in die DA wat moeg is vir die rassediskriminasie in die land, oortuig kan word om hulle ondersteuning na die VV+ te herlei.

Dit was wat in 2009 gebeur het, toe Mmusi Maimane, die eertydse leier van die DA, in ʼn reeks rasse-voorvalle, blind en eensydig kant gekies het. Maar om hierdie potensiaal te onsluit, is totaal buite die vermoëns van die huidige leierskap van die party, omdat hulle bewustheid, hulle paradigma, binne die bestaande orde lê.

Punt is, die Vryheidsfront Plus sal nooit deur die kontemporêre politieke stelsels en prosesse van Suid-Afrika, waarbinne dit vasgevang is, hulle oogmerke kan bereik nie. Om die waarheid te sê, as daar ondersteuningsplafonne ingestel gaan word, soos 5% steun voordat jy verteenwoordiging kan kry in 'n wetgewer, gaan die party verdwyn.


Wat wil die DA bereik?

Dit is duidelik dat die DA demokratiese regering en kapitalisme voorstaan. Wat nie duidelik is nie, is waar die party staan ten opsigte van transformasie en rassebeleid. Ek dink nie hulle weet self nie.

Die DA is, om hulle geliefde Engels te gebruik, “a differnet kettle of fish”, van die Vryheidsfront Plus en AfriForum. Vir een ding: Hulle kulturele oriëntasie is verskillend. Die Vryheidsfront Plus en AfriForum is Afrikaner-organisasie; die DA ʼn Engelse een.

Die DA het een persoon van (moontlike) Afrikaner-afkoms in die geledere van hulle top-leierskap, naamlik Dr Annelie Lotriet (maar ek weet nie genoeg van haar om te verklaar dat sy sodanig sal wil klassifiseer nie). Die DA weet nie hoe Afrikaners dink of voel nie. Die DA gee geen erkenning aan die argument dat Afrikaners sedert 1994 die primêre teiken van diskriminasie en benadeling in Suid-Afrika was nie. In sekere kringe binne die DA was daar behoud van die stille minagting vir Afrikaners wat dikwels in die jare van die Natte en Sappe geldig was in die geledere van Engelssprekende Blanke Suid-Afrikaners. In sekere kringe in die DA word daar geen traan gestort oor die marginalisering van Afrikaans en die verabsolutering van Engels nie.

Kyk, die punt, vir my, is dat ek nie kan sien dat die DA vir my vryheid van rasse- diskriminasie sal kan bring nie, of die marginalisering van my taal en kultuur kan beëindig nie.

Dit is vir my duidelik dat, hoe meer invloed die DA in die Suid-Afrikaanse owerheidsbestel kry, hoe meer beweeg die leierskap van die party in die rigting van beleid wat teen my diskrimineer.

Maar die DA het Afrikaner-kieserssteun nodig. Getalle, kanonvoer, totdat die party daardie ondersteuning gaan vervang met alternatiewe wat hulle meer gaan baat.

'n Mite in die Suid-Afrikaanse politiek wat my irriteer, is dat die DA so dramaties en ongelooflik gegroei het in die laat 1990s, danksy die briljantheid van die leierskap van die tyd. Dit is absolute snert. Die DA het bloot die tradisionele ondersteuners van die NP oorgeneem, toe dit duidelik begin word het dat feitlik die totale kabaal van die party se leierskap, op daardie stadium, op die punt was om na die ANC oor te loop, en dat die totale ineenstorting van die magtige NP onafwendbaar en op hande was. Die DA se leierskap of briljantheid het niks daarmee te doen gehad nie. Konserwatiewe Blanke kiesers het desperaat na ʼn alternatief gesoek om hulle te probeer beskut teen ʼn vyandiggesinde nuwe regering, wat toenemend teen hulle gediskrimineer het. Die DA was die enigste lewensvatbare alternatief. Hulle het in massas gemigreer na die DP, wat later die DA geword het; en dit geld nie net vir Blanke kiesers nie, maar ook vir Kleurling – en Indiër kiesers.


Prentjiebron: 123RF

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2025-2026. All right reserved.

Use this website in terms of the legal notes regulating is (Terms of Use). If you do not agree with these terms, please leave and do not use the site.

South African legislation requires that specific privacy requirements must be guaranteed in the use of this website. Thee website's Privacy Policy can be access by clicking on the link below.

bottom of page