top of page

Zuma se "strategiese briljantheid"

Dit is nou-al jare lank wat ek in stilte luister na kommentators se aanmerkings oor die “briljantheid” van Jacob Zuma. Verdere uitbreidings op die tema sluit in “wiley old chessplayers”, “strategies briljant” en meer genuanseerde uitbreidings op hierdie sê-goed. Die ander dag het ek selfs vir Pieter Groenewald hoor aanmerkings maak oor Zuma se briljantheid as ʼn politikus.

Ek is jammer, maar ek kan dit nie sien nie. Wat ek sien, is 'n persoon wat bloot volgens persoonlikheid, en na die vereistes van persoonlike wrokke en belange optree.

Hierdie ding met Zuma se briljantheid het in 2007 en 2008 begin, toe Zuma vir Mbeki uitgedruk het as President van die ANC, en daarna van die land. Toe-al was gesê dat Zuma hierdie briljante politieke strateeg is.

Hier’s soos ek die ding sien: Mbeki het vir Zuma afgedank as Adjunk-President van die ANC. Dit het gebeur in 2005, na die uitsprake in die Shabir Schaik hofsaak, wat Zuma direk verbind het met growwe korrupsie. Later die jaar het die Nasionale Vervolgingsgesag Zuma aangekla van korrupsie.

Ek het nie buitegewone wysheid of insig nie, maar ek kon daardie tyd al vir jou gesê het dat dit nie goed gaan eindig vir Mbeki nie. Daar was geen “briljantheid” van Zuma in sy terugveg pogings, en uiteindelike oorwinning toe hy as President van die ANC verkies was gedurende die 2007 ANC Konferensie nie. Daar was slegs maar die tekens van die tye – en die wese van die monster wat die ANC is. Ek Zuma ken die ANC.

Wie het vir Zuma gesteun teen Mbeki? Dit was die meer radikale faksies van die ANC, met spesifieke verwysing na die Vakbonde (en daardie tyd was COSATU nog enorm groot, en gegiet in die strukture van die ANC). Dit was die jeugliga – daardie tyd onder beheer van Julius Malema. Dit was uMkhonto weSizwe veterane; die fundamentaliste kwasi- militêre aanhangsel tot die ANC.

Twee dinge is belangrik om te verstaan op hierdie punt: Een, die woede teen Mbeki het in hierdie geledere opgebou oor baie jare sedert 1994, oor sy pro-Kapitalistiese ekonomiese beleid, en sy pro-Westerse sentimente. Tweedens, Mbeki was in sy tweede termyn as President van die land (die eerste het begin in 1999 en geëindig in 2003). Hy sou in elk geval, in terme van die land se Grondwet, moes uittree teen 2008.

Maar Mbeki het aspirasie gehad van die mag agter die troon te bly, deur as President van die ANC herkies te word, maar uit te tree as President van die land. Die ANC is die ANC; almal in die Mafia-agtige gedrog het presies geweet wat wag: Mbeki sou nie meer vir lank posisies en voorregte kon uitdeel of beskerm nie. ʼn Nuwe mag was aan die opkom; die mag wat in die toekoms, oor die komende tien jaar, hierdie rol sou kon speel. Dit was tyd vir verskuiwing van lojaliteite; ter wille van oorlewing en behoud van buit.

Dit was die eerste keer wat ek hierdie proses beleef het, want dit was die eerste manifestasie daarvan na 1994. Daarna sou dit so elke agt jaar herhaal. Die oorgang van Mandela na Mbeki het nie hierdie kenmerke getoon nie; eerstens omdat Mbeki altyd maar die mag agter die troon was sedert 1994, en Mandela die ikoon. Tweedens omdat Mandela geen belangstelling getoon het om aan mag vas te klou nie. Derdens omdat almal, insluitend Mbeki, geweet het dat Mandela onaantasbaar was.

Die gematigde ANC onder Mbeki was intern verskeur. Die linkse groeperinge in die party was nooit ten gunste van  ekonomiese beleid wat aanvanklik onder Mandela, en later onder Mbeki toegepas was nie. Hulle was ook nie ten gunste van versoenende benadering gedurende hierdie tyd nie, maar ten gunste van veel meer radikale maatskaplike en ekonomiese “regstelling.”

Deur sy “aggressiewe” optrede teen Zuma, het Mbeki hulle kandidaat vir hierdie fundamentalistiese groepe in die ANC gedefinieer. Die saak teen Zuma het vir vele binne die ANC die verpersoonliking geword van hulle eie vrese oor moontlike vervolging in ʼn konteks waar korrupsie en tenderpreneur aktiwiteite die party toenemend begin binnesypel het. Verder was Zuma ook nou geassosieer met die gewapende stryd gedurende die vryheidstryd teen apartheid. Dit het hom konseptueel meer aanvaarbaar gemaak as Mbeki, wat met sy meer Westerse agtergrond en optrede teen die grein van die ideologiese basis van die ANC gepraat het. Soos dit daarna bewys was, het hierdie groep die meerderheid binne die ANC verteenwoordig.

Eintlik het “strategiese politieke briljantheid” aan die kant van Zuma net mooi niks met hierdie ontvouende gebeure te doen gehad nie. Dit was bloot ʼn rits konseptuele, simboliese, ideologiese en praktiese faktore wat saamgeloop het. Zuma het ondersteuning gevind in die geledere van groeperinge wat hom die strategiese voordeel in die ANC gegee het, ja, maar dit was groeperinge met wie hulle jarelange kontak gehad het. Hulle het hom goed geken, en met hom geassosieer. Belangriker as dit: Zuma was die ideale kandidaat, gegewe sy geskiedenis en profiel, om hulle belange te doen.

Baie min kamerade in die ANC het omgegee oor Zuma se korrupsie. Dit was sy tyd om te eet, soos die geval was met hulle. Dit was die vrugte op hulle opofferinge ter wille van, en gedurende, die bevrydingstryd. Hy moes beskerm word teen die aggressie van die Weste.

Teen die tyd dat Zuma se hofsake, en spesifiek die korrupsie – en verkragtingsake, voor die regbank gekom het, was die staatsmasjinerie reeds “aan sy kant”. Dit is steeds die geval; net soos die regbank vandag vir Ramaphosa beskerm.

Daar was absoluut niks gedurende Zuma se termyn in beheer van die land wat sy status as “strategiese briljante” politikus demonstreer nie. As jy my vandag vra, gegewe die blootstelling aan die ANC van meer as dertig jaar, sou ek sê dat dit bloot die bekende patroon gevolg het: Gedurende sy eerste termyn was hy onaantasbaar. Hy het gesteel en die staatsinstrumente wat hom in beheer moes hou, vernietig – en sy familie en vriende in staat gestel om te steel, sonder om te vrees vir die gevolge. Maar dit sou maar dieselfde wees onder Ramaphosa. En, in ʼn sekere sin, was dit dieselfde gedurende die Mbeki administrasie.

Die manipulasie van politieke lojaliteite in sodanige konteks is nie ʼn teken van “briljantheid” nie; slegs maar net ʼn gevolg van absolute beheer oor die hefbome van staatsmag; hy het besluit wie “eet” en wie uitgegooi sou word in die koue buite die ANC.

In sy tweede termyn het sy mag en beheer oor die ANC geleidelik begin afneem, want lojaliteite in die ANC het begin verskuif om voorsiening te maak vir ʼn nuwe regime wat die geldkraan en toegang tot voordele sou beheer. Soos Mbeki, het Zuma hom daarteen verset; om die waarheid te sê, ek is vas oortuig daarvan dat Zuma se planne was om Suid-Afrika te omskep in ʼn Afrika- koningryk waar die Presidensie oorgegee sou word binne die Zuma dinastie.

Die eerste fase in hierdie plan wa som sy voormalige vrou as President verkies te kry. Soos met Mbeki, was die doel baie duidelik: Behou beheer oor staatsmag agter die skerms, as die Grondwet jou nie toelaat om dit amptelik te doen nie. Ek hy het baie, baie, baie naby daaraan gekom om te slaag. As dit nie vir David Mabuza was, wat op nommer 99,99 van mening verander het nie, sou hy geslaag het.

In die latere jare van die Zuma Presidentskap het die land se instellings, soos die howe, en veral die Openbare Beskermer, teen sy misdadige administrasie begin opstaan – en so het die gemeenskappe. Maar, ek dink, dat dit ook baie te doen gehad het met die verwagting van regime-verandering. Baie amper het daardie verandering nie gerealiseer nie.

Toe het Ramaphiosa hom uitgedwing, uit die Presidensie van die land. Dit het beteken dat hy beheer oor die staatsgesag, en die hefbome tot rykdom en mag vir hom en sy vriende, verloor het. Daarna het hy vir Ramaphosa gehaat.

Weereens is daar niks “strategies briljant” wat ek kan vind in Zuma se optrede sedert hy uitgedwing was as staatshoof nie.

Verstaan ʼn paar dinge van Jacob Zuma: Eerstens is hy ʼn Zulu nasionalis. Gegewe sy geskiedenis, en assosiasie met die vryheidstryd, saamgelees met sy lojaliteit aan Zulu kultuur, het hy norme aanhang onder Zulusprekendes in KawZulu-Natal, Gauteng en ander provinsies. Tweedens, hy verstaan die binnewerkinge van die ANC; nie omdat hy strategies briljant is nie, maar omdat hy vir feitlik sy hele lewe lank daarbinne gefunksioneer het. Derdens is hy in wese ʼn radikalis, gegewe vraagstukke in die Suid-Afrikaanse politiek. Daar miljoene mense in Suid-Afrika wat, om ideologiese redes, of om hulself te verskans teen die gevolge van korrupsie, wat ʼn emosionele verbintenis het aan skuldverwysing na “White Monopoly Capital”. Zuma, die groot staatskaper en in staat-steller gedurende die tydperk waarbinne hulle geopereer het, word gesien as die leiersfiguur in hierdie “ideologie”. Vierdens is die woede teen, en verwydering van, die ANC diepgewortel onder baie inwoners van Suid-Afrika. Dit verskaf vrugbare grond vir simpatie met Zuma. Vyfdens, Zuma word steeds gesien as “een van die mense.” Vir vele kiesers is Ramaphosa en Mbeki doodgewoon te “Westers”, te vervreem van hulle kulturele wortels.

Gegewe my begrip van wie en wat Zuma is, kan ek in feitlik elke konflik-situasie wat ontstaan in die Suid-Afrikaanse politiek weet hoe Zuma sal reageer. Hy sal altyd populisties optree. Hy sal altyd assosieer met die “linkse” politieke sentiment in die land. Hy sal altyd in eie belang, en die belang van sy familie, optree, en nie huiwer om ander in die proses onder die bus te gooi nie. Hy trek mense in, gebruik hulle in sy eie belang, en spoeg hulle dan uit.

Kiesers in KwaZulu-Natal en Gauteng het in hulle honderdduisende vir Zuma gestem oor hulle woede teenoor die ANC, omdat hy as simbool gesien word van verste teen die bestaande orde, oor sy assosiasie met die gewapende stryd, en die emosionele assosiasie (of dan, die nostalgie) wat daaraan geheg word. Zuma doen niks “briljant” nie; Zuma is ʼn simbool. Al wat Zuma eintlik doen, is om uiting te gee aan sy woede, en op te tree ter bevordering van sy eie belang.

Daar was een ding wat Zuma gedoen het, wat my wel verbaas het, en dit was om die politieke party uMkhonto weSizwe te steel van die stigter daarvan, en dit voort te sit. Ek was nie seker dat Zuma sielkundig sou kon wegbreek van die ANC nie. Maar sy strewe om uMkhonto weSizwe te gebruik om die ANC “te suiwer” verklaar, tot ʼn mate, hierdie optrede. Ek mis die “strategiese briljantheid” totaal; ek sou met 90% sekerheid kon sê, oor die afgelope dekade, in elk geval, hoe Zuma in bepaalde situasies sou optree. Hy tree altyd binne paradigma en ideologiese verwysingsraamwerk op. Dit is nie “strategiese politieke briljantheid” nie.

Prentjiebron: 123RF

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2025-2026. All right reserved.

Use this website in terms of the legal notes regulating is (Terms of Use). If you do not agree with these terms, please leave and do not use the site.

South African legislation requires that specific privacy requirements must be guaranteed in the use of this website. Thee website's Privacy Policy can be access by clicking on the link below.

bottom of page