top of page

Dit is tyd vir 'n gesprek oor die werklikheid (nie die droom nie)

 Daar is geen uitweg uit die strik nie.


Wit Suid-Afrikaners stem oorweldigend vir die Demokratiese Alliansie. Trouens, ek is seker dat meer as 90% van hierdie demografiese groep dit doen.

Laat ek 'n punt stel voordat ek verder gaan met hierdie oënskynlik onsinnige gebrabbel. My punt is dit: Ons woon in 'n land waar daar iets soos 140 wette is wat spesifiek as "raswette" bestempel kan word; dit wil sê wette wat uitdruklik voorsiening maak vir diskriminasie teen Blanke Suid-Afrikaners.

Ons leef in 'n land waar onderwysinstellings gedwing word om erg skewe en diskriminasie-keuringskriteria toe te pas wanneer aansoeke vir keuring oorweeg word, waar baie hoër prestasie van Wit as Swart verwag word ten einde toegang te kry tot dieselfde kursusse en vlak van geleerdheid.

Ons leef in 'n land waar skole en onderwys, vir alle praktiese doeleindes, uit die beheer van ouers geneem is, en na die staat oorgeplaas is. Dit is gedoen as gevolg van die ideologiese kruistog van ene Panyaza Lesufi, wat niks meer of niks minder as 'n venynige anti-Blanke, en spesifiek anti-Afrikaner, rassis is nie. Die Bela-wet het baie min te doen met die verbetering van onderwys, of selfs toegang tot onderwys; dit het alles te doen met die skep van die regsinstrument om van Afrikaanse skole ontslae te raak.

Ons woon in 'n land waar die sogenaamde Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel alle herinneringe van 'n kwaliteit gesondheidstelsel en toegang tot goeie gehalte gesondheidsdienste deur enige burger van hierdie land sal vernietig.

Ons leef in 'n land waar maatskappye openlik, skaamteloos, in die openbaar kan aankondig dat hulle nie Wit mense sal aanstel nie – en daarvoor geprys word. Soos Dischem. Of soos Spur en wat duidelike rasse vooroordele pleeg in geskille tussen kliente – en openlik besluit om teen die Wit kliënte kant te kies.

Ons woon in 'n land waar die eiendom van Blanke Suid-Afrikaners, veral, maar nie beperk nie tot, grondeienaars, wettiglik ontneem kan word, sonder behoorlike vergoeding. Meer nog, ons leef in 'n land waar 'n wetsontwerp in wording is wat die regering sal toelaat om hierdie proses van onteiening skaamteloos rasgegrond te maak.

Ons leef in 'n land waar BBSEB en Diensbillikheidsteikens so rassisties en belaglik en onderdrukkend geword het dat dit feitlik onmoontlik geword het vir Wit mense om ordentlike werk te kry, of om hul eie besighede te begin en te bedryf.

Ons leef in 'n land waar Blanke werkers, uitstekende, hoogs bekwame mense, uit Eskom, Denel, Telkom, al die ander van die land se 700 semistaatsinstellings, skole, universiteite, kolleges, openbare (maar ook private) hospitale, die polisiediens, die weermag, die staatsdiens, munisipaliteite, weggejaag is as gevolg van hulle ras.

Ons leef in 'n land waar basiese dienste, wat die ouere garde onder ons as 'n gegewe meer baie dekades beskou het, amper totaal in duie gestort het en feitlik alles nou op 'n "beurtkrag"-basis bedryf word. Water, elektrisiteit, vullisverwydering – ons kinders verstaan nie eers die konsep van krane wat altyd loop as jy dit oopdraai, dat daar vanselfsprekend lig sal wees as jy ʼn skakelaar druk nie.

Stadsale is afgebreek en vervalle, in 'n gevaarlik swak toestand. Munisipale geboue is afgebrand, of in 'n toestand van ineenstorting. Staatsvoertuie en -bates is 80% afgebreek, en 20% net half funksioneel.

Meriete? Wat is meriete? Die meeste Blanke Suid-Afrikaanse jeugdiges het so gedesensitiseer vir die toestande wat hulle van geboorte af ken, dat hulle 'n skewe begrip het van wat meriete eintlik beteken. Dis soos die padda in stadig kookwater spreekwoord. Vir hulle het dit die norm geword, nie net om na bedrywe te kyk waar jy waarskynlik werk sal kry nie, maar in bedrywe waar jy moontlik werk sal kry, nadat die voorkeurgroepe van vorige benadeelde individue bedien is. Ironies genoeg het byna geen sulke bedrywe (en geleenthede) oorgebly nie. Alles is binnegedring deur die teikens van BBBEE en EE.

Deur die jare het die Suid-Afrikaanse regering openlik en sonder skaamte transformasie en ras bo bevoegdheid en verdienste verkies. Ons leef in 'n land waar mense ongelooflik ryk geword het van staatstenders en kontrakte, van plundering en steel, sonder om hoegenaamd enige sanksies in die gesig te staar. En dit gaan steeds voort. En dit sal in die toekoms voortduur.

Nou, hier is die ding, en my argument: Niks hiervan sal verander nie; wel, nie in my leeftyl, of die van die generasie ná my nie. Die diefstal sal voortgaan. Die korrupsie sal verskerp. Die NGV-fonds en alle ander fondse wat vir doeleindes van “transformasie” gestig word, sal vrot gesteel word.

Die ekonomie sal nie herstel nie; die kapasiteit daarvoor is vernietig. Maar selfs al gebeur dit met deur ʼn wonderwerk, sal ek en mense soos ek nie in die rykdom deel nie, want ons sal uitgesluit word op grond van ons ras en kultuur.

So, nou is my vraag dit: Wat sal dit help om vir die DA te stem? Hoe sal dit die probleem oplos, die situasie waarin ek, en heel waarskynlik toekomstige geslagte, onsself bevind?

OK, kom ons neem aan, deur een of ander wonderwerk (wat nie sal gebeur nie) dat die DA dit regkry om aan bewind te kom. En, kom ons neem aan dat, as gevolg daarvan, die land se ekonomie eintlik taamlik vinnig groei. Wat sal die voordele vir my en mense soos ek sal wees? John Steenhuizen is duidelik besig om sy ideologiese standpunt oor transformasie na links te verskuif (dit wil sê om rasgebaseerde voorkeure in beleidsontwerp te ondersteun). Alle ministers in die GNU volg 'n soortgelyke tendens. So, wat sal ek van 'n DA-regering kry? Dieselfde diskriminasie, maar toegedien deur 'n party genaamd die DA en nie die ANC nie? Hoekom de hel sal ek omgee?

Maar, kom ons neem aan dat so 'n DA-regering deur een of ander wonderwerk (wat nie sal gebeur nie) die rassediskriminasie in die land effens verslap. Sal ek dan toegelaat word om my taal terug te bring na die hoofstroom van gemeenskapslewe in Suid-Afrika, terug in universiteite? Sal ek toegelaat word om op gelyke gronde met ander Suid-Afrikaners mee te ding wanneer dit oorweeg word vir aanstelling, vir bevordering, om staatstenders te wen? Sal ek toegelaat word om my besigheid te begin en te bestuur sonder om die helfte daarvan weg te gee om dit te kan behou? Sal ons kinders op gelyke basis met alle ander jong Suid-Afrikaners beoordeel word wanneer hulle besluit wat en waar om te studeer of werk? Of sal alles nog beoordeel word volgens die standaard van "demografiese verteenwoordiging?"

Ons probleem in hierdie land is sentraal gesetel in die 1994 Oorgangskikking. Dit was ʼn ooreenkoms tussen politici wat nooit in hulle lewens verantwoording moes doen aan enigiemand nie; te laat gebore vir die onmatiging van die Groot Depressie, en te vroeg vir minagting van ʼn getransformeerde wêreldorde. Die room van die Afrikanervolk, gewoond om in alles hulle sin te kry, en die held te wees, Smagtend na internasionale erkenning en aanvaarding deur ʼn minagtende wêreld. Hulle het nooit omgegee vir enigiemand anders as hulself nie; hoekom sou hulle nou?  Toe gooi hulle die mense namens wie hulle moes onderhandel vir die wolwe.

Feit van die saak is dat, selfs as sou u my tirade hierbo as emosionele onvolwassenheid afmaak, en alles daarvan verwerp, dit steeds soos ʼn paal bo water bly staan dat daar beter waarborge onderhandel moes word gedurende die oorgangsproses in die 1990s. Wat ons gekry het, was ʼn ooreenkoms, onderhandel in donker agterkamers, tussen die verteenwoordigers van ʼn illegitieme regime, miljardêrs wat hul bates en rykdom probeer beskerm het teen aggressiewe internasionale sanksies, en afgevaardigdes van ʼn bevrydingsbeweging wat gesmag het daarna om toegang te verkry tot die vleispotte van Egipte; staatsmag in die magtigste en rykste land in Afrika.

Links en regs kla dat hulle verraai was met die Kodesa skikking. Albei is waarskynlik reg. Die 1994 skikking was internasionaal geloof as ʼn “reënboog- wonderwerk”. Eintlik moes die skikking, realisties gesien, doodeenvoudig nie moontlik gewees het nie; dit was forseer deur groepe wat saamgekom het om hulself te bevoordeel en te verryk Nie een het werklik omgegee vir die lot van “hulle mense” nie.

Die ANC het nie die oorhand gehad nie. Die land se eertydse veiligheiddienste was, militêre gesproke, te sterk vir hulle, en ʼn oorname van staatsmag deur ʼn militêre rewolusie hoogs onwaarskynlik. Die NP het nie die oorhand gehad nie; jare van internasionale isolasie, en spesifiek die feitlik volkome afsny van die land van die internasionale finansiële stelsel, het die land se ekonomie onder geweldige stres geplaas – en die land se Wit minderheid het die hoon en argwaan van feitlik die hele wêreld ervaar. Die “deal-breakers” was die miljoenêrs en miljardners wat hulle belange in die Suid-Afrikaanse ekonomie wou beskerm.

'n Skikking met die ANC was beding sonder enige betekenisvolle, afdwingbare waarborge. Die hoofwaarborg was Hoofstukke 1 en 2 van die Grondwet. Dit is egter bewys, oor 30 jaar se geregtelike ervaring, dat veral die hoogste hof in die land, naamlik die Konstitusionele Hof, nooit die bepalings van die Handves van Fundamentele Regte sal interpreteer op 'n wyse wat die groep-, kulturele of institusionele regte van Wit Suid-Afrikaners, en veral Afrikaners, beskerm nie.

Die DA was nooit ’n party vir Afrikaners nie. Hulle leierskap hou nie baie van Afrikaners nie. Hulle gee nie om oor die vernietiging van die Afrikaner se kulturele en taalteenwoordigheid in Suid-Afrika, of oor sy historiese nalatenskap (goed en sleg) nie. Hoekom stroom Afrikaners soos vlieë na 'n mishoop na die DA? Hulle gebruik Afrikaners as “die syfers opmakers”; en, eerlik, verag hulle omdat "hulle geen ander keuse het as om vir ons te stem nie, ongeag wat ons aan hulle doen."

Die probleem in Suid-Afrika is dat Afrikaners die 1994 onderhandelde skikking gesien het as die afhandeling van die oorlog. Die ANC het dit gesien as ʼn fase in ʼn voortgesette rewolusie. Nie aanvanklik nie; in die jare net na 1994 was daar optrede binne die riglyne van die skikking, maar na 2008 het die ANC teruggekeer na sy ideologiese wortels.

Ek dink die tyd het aangebreek om die waarheid reguit in die oë te kyk: Niks gaan in hierdie land verander nie; trouens, alles gaan erger word. Die Bela-wet sal geïmplementeer word, en Afrikaanse skole sal geleidelik verdwyn. En, soos die padda in kookwater, sal die DA-Afrikaners hulself troos met die gesegde: “Dit is beter dat ons kinders in Engels onderrig word, want Afrikaans sal niks vir hulle in hul loopbane beteken nie.”

Die Nasionale Gesonheidsversekering sal uiteindelik geïmplementeer word, en alle goeie gehalte mediese sorg wat in die land oorgebly het vernietig. Op ʼn stadium; of dit nou oor ʼn jaar, drie of tien is, sal Blanke eiendom, en dan spesifiek grond, op groot skaal onteien word, sonder betekenisvolle vergoeding.

Uiteindelik sal al Blankes wat in die land sal agterbly, die wees wat te oud of te arm was om te emigreer; en hulle sal krepeer van die ellende.

ʼn Sogenaamde “nasionale dialoog” sal vir die Afrikaner in hierdie land net mooi niks beteken nie. Noem net die woordjies “historiese skuld” en almal, ingesluit die sogenaamde “Afrikaner leiers” verskrompel soos ʼn velsak in die rook. (Bygesê, is dit nie verregaande dat die name van hierdie “leiers” steeds dieselfde as die wat ons in 1994 in die gemors gekry het nie?). Ek kan met presiese sekerheid die uitkomste van so ʼn dialoog voorspel: Voortgesette diskriminasie teen Afrikaners is noodsaaklik totdat historiese skuld genoegsaam afgelos is.

Die probleem is dat Afrikaners blootgestel word aan soveel hoon en minagting, soveel gewettigde diskriminasie, in die land, soveel verwyt, dat bitter min selfvertroue onder hulle oorgebly het.

Ek onthou nog goed dat, so nege-of-tien jaar gelede, het daar ʼn intense debat losgebrand in die land oor Blankes wat te veel te sê gehad het oor die foute, die gebreke in die land sedert 1994. Daar was reguit aangevoer dat Wit mense hulle, uit respek en erkenning vir die onregte van die verlede, uit die nasionale debat moes ontrek. En hulle het; of liewer dan, is dit presies wat gebeur het – grootliks ook omdat hoofstroom media in die land Blanke stemme oor sensitiewe politieke aangeleenthede begin stilmaak het.

Toe het ʼn verskynsel sy kop begin uitsteek wat jy ook onder apartheid, en in die eerste dekade of wat van die Nuwe Suid-Afrika gesien het: Die antagonis het namens die protagonis begin praat. Blanke Suid-Afrikaners was gedurende hierdie tydperk baie, en dikwels met intense woede, en met baie waarheid daarin vervat, beskuldig dat hulle namens Swart Suid-Afrikaners praat; dit terwyl hulle nie die leefwêreld van hierdie groep deel of verstaan nie.

Dieselfde, presies dieselfde, gebeur vandag in Suid-Afrika, net in omgekeerde konteks. Daar is geen klagtes meer oor Blankes wat namens ander groepe probeer praat nie – doodgewoon omdat dit nie meer gebeur nie. Maar skielik het Swart Suid-Afrikaners, en dan spesifiek die sogenaamde “kommentators” hulle stemme gevind, om in detail te verduidelik hoe Afrikaners dink, hulle inhernete rassisme uit te wys, te verduidelik wat hulle motiveer om op te tree soos hulle optree, en oor hoe hulle in hulle luukse, rook-gevulde, koloniale kamers saamspan om teen ander Suid-Afrikaners te diskrimineer. Dit terwyl Swart Suid-Afrikaners, oor die algemeen, eintlik hoegenaamd geen idee het van hoe Wit Suid-Afrikaners vandag in die land leef, werk of dink – of wat hulle ervaar nie.

Afrikaners, maar dan spesifiek Afrikanermans, was, oor ʼn tydperk van dertig jaar herhaaldelik verwyt, gehoon, geminag, stilgemaak en gereduseer tot die laagste manifestasie van moraliteit, dat hulle hulself uit die nasionale diskoers begin ontrek het. By die werk was hulle ontsê van bevorderingsgeleenthede, en subtiel gedreig met ontslag – nie op grond van werkprestasies nie, maar op grond van hulle ras. Hulle het hulle werk verloor, en moes op pensioengeld klaarkom. Hulle kan nie werk kry nie omdat hulle te Wit is. In die gemeenskap het hulle aansien gedaal, omdat hulle nie die rol van voorsiener en patriargale eerbiedwaardigheid kon vertolk terwyl almal geweet het hulle is werkloos of sonder veel aansien nie. Hulle eerbiedwaardigheid was institusioneel en kultureel opsetlik ondermyn.

Dit is tyd om waardigheid terug te wen; al is dit slegs binne eie groep.

Wat ook al jou klagtes oor Afrikaners is, maar die feit van die saak is dat hulle, met foute en al, ʼn geskiedenis van byna vierhonderd jaar in hierdie land het; langer as vele van die ander volkere in die land, uitgesluit die Eerste Mense. En niemand, geen enkele volk in hierdie land, kan regtens verklaar dat hulle hande totaal skoon is, en dat hulle hulle nooit skuldig gemaak het aan vergrype nie.

Die tyd het aangebreek vir minstens ʼn gesprek oor die toekoms van Afrikaners in Suid-Afrika, deur Afrikaners; binne die riglyne van die werklikheid soos dit is, en nie soos ons dit, teoreties en ideologies, graag sou wou sien nie. Nie 'n sogenaamde "Nasionale Dialoog nie" - dit sal net mooi niks goeds vir Afrikaners voortbring nie. En, persoonlik, glo ek nie so ʼn gesprek moet te veel aandag skenk daaraan om oplossings te probeer vind binne bestaande politieke en Grondwetlike strukture in die land, wat reeds hulle vyandigheid teenoor Afrikaners by herhaling bewys het, nie.

Prentjiebron: 123RF

Comments


Frans Minnaar © Copyright. 2026. All rights reserved.

Accept the Terms of Use of this website before continue using it. If you don't agree to these terms, please leave without further use.

Read the Privacy Policy for this website, setting out how your private information will be protected when using the site.

bottom of page