Ideologie het werklikheid oorgeneem
- Frans Minnaar

- 2 days ago
- 3 min read
Hier is ʼn groot probleem. Ideologie het werklikheid oorgeneem.
Daar is ʼn vaste geloof onder nie-Blanke Suid-Afrikaners dat die gebrek aan ontwikkeling, die armoede waaraan hulle blootgestel is, ten minste ten dele terugvoer kan word na die gebrek aan transformasie sedert 1994; dat dit teruggevoer kan word na Wit Suid-Afrikaners se onwilligheid om hulle rykdom te deel.
Blanke Suid-Afrikaners, onderwerp aan Swart Ekonomiese Bemagtiging, Gelyke Indiensneming en die verval in dienslewering in hulle leefwêreld, voel weer dat transformasie hopeloos te ver gegaan het. Wit Suid-Afrikaners soos ek glo dat ons onderwerp word aan blatante diskriminasie, wat ʼn direkte en werklike vernietigende invloed op ons lewens het.
Deel van die probleem is dat Blanke Suid-Afrikaners slegs 8% van die land se bevolking uitmaak, en sedert 1994 nooit meer as 13% nie. Om die geleenthede van sê maar ʼn gemiddelde 10% van die bevolking te ontsê ten einde 90% te bemagtig, sal nooit, onder geen omstandighede, ooit genoeg kan wees om die omstandighede van die 90% veel te verander nie. Al wat jy kan regkry, is om die 10% te verarm. Dit is presies wat in Suid-Afrika gebeur het. Jy kan bloot maar net na die BNP per kapita van Suid-Afrika kyk om hierdie werklikheid te besef.
Maar dit word nie in die openbare narratief oor armoede en ras in die land verreken nie. Swart leiersfigure en invloedryke meningvormers, insluitend Thuli Madonsela en Toyko Sexwale, verkondig openlik, en met toenemende “aggressie” dat transformasie in die land versnel behoort te word. Ondersteuning van grondhervorming sonder vergoeding – en die aandrang daarop – neem feitlik daagliks toe.
In die afgelope dekade of wat het die narratief van die debat in Suid-Afrika begin verskuif, weg van die ooreenkomste wat in Codesa bereik was, na ʼn veel meer militante interpretasie van “transformasie”. Na die pas afgelope algemene verkiesing het hierdie tendens drastiese verskerping ondergaan.
Die groot gevaar van hierdie debat in sy huidige formaat, is dat “transformasie” feitlik geheel en al impliseer die oordrag van geleenthede en bates van slegs een rasse-groepe, naamlik Blankes, wat maar slegs 8% van die land se bevolking uitmaak, na Swart Suid-Afrikaners. Dit gaan niks oplos nie, want daar is nie genoeg bates in die hande van Blanke Suid-Afrikaners oor om die armoede onder ander bevolkingsgroepe betekenisvol te verminder nie. Ek het ʼn paar jaar terug ʼn ekonoom hoor sê dat, selfs al sou alle bates en rykdom tans in Blanke besit onmiddellik aan die res van die Suid-Afrikaanse bevolking oorgedra word, sal daar maar R20 per persoon beskikbaar wees.
Daar is egter ʼn ander dimensie verbonde aan hierdie vraagstuk, en dit is dat die rykdom wat aan Blanke Suid-Afrikaners toegeskryf word, oorweldigend in die hande van ʼn klein groepie super-rykes se besit is, en nie in die geledere van gewone, middelklas Wit Suid-Afrikaners nie. Dit is juis hierdie gewone mense wat die spit moet afbyt van transformasie; nie die super-ryk nie.
Ongeveer 55% van Suid-Afrika se rykdom is in die hande van slegs 1% van die bevolking. Maar hierdie syfer sluit alle rassegroepe in – nie slegs Blankes nie. Die top 0,1% van die bevolking (35,000 mense) het eienaarskap oor byna een derde van alle rykdom in die land. Maar hierdie 0,1% sluit in die Cyril Ramphosa’s, die Tokyo Sexwale’s en die Patrice Motsepe’s.
Nou hier is die ding: Die superrykes sal nooit nodig hê om van hulle bates afstand te doen nie. Sodra dinge vir hulle te warm word, sal hulle bloot soveel as moontlik van hulle bates vat en die pad vat. Hulle is ryk genoeg om dit te doen. Dit sal weereens die gewone Wit Suid-Afrikaners wees wat die spit sal moet afbyt.
En ʼn ander werklikheid: Die rede waarom die oordrag van geleenthede en bates sedert 1994 van Wit na Swart nie veel indruk op die lot van arm Swart Suid-Afrikaners gemaak het nie, was omdat ʼn klein groepie Swart elite hierdie bates gemonopoliseer het, en nie met die massas gedeel het nie.
Daar is nie veel om hieraan te doen nie. Ongeag waar of vals, hierdie feite sal nooit in die hoofstroom narratief erken word nie. Maar die werklikheid daarvan impliseer ongelooflike risiko’s vir diegene wat as “die bevoorregtes” gebrandmerk word, wat hulle “bates en voorregte” met hulle landgenote moet deel nie.
Prentjiebron: 123RF



Comments