Kolonis van 'n spesiale soort
- Frans Minnaar

- 1 day ago
- 5 min read
Ek is gebore in Suid-Afrika. Ek was nog nooit buite die grense van Afrika nie. Die Afrika lande wat ek besoek het, was vir ʼn week op ʼn slag, as deel van my werk as ʼn bestuurskonsultant. Meer as 99,9% van my lewe was spandeer binne die grense van Suid-Afrika.
So, as iemand vir my sê dat ek moet teruggaan waar ek “vandaan kom”, wel, die implikasie is dat ek moet teruggaan na Bloemfontein toe. Ek het grootgeword in Fauresmith, was vir ongeveer ʼn jaar in Odendaalsrus, en toe was my ouers vir ʼn paar jaar in Smithfield. Wat sê jy dan vir my? Moet ek teruggaan Fauresmith of Smithfield toe? My enigste “ander” herkoms, die afgelope byna veertig jaar van my lewe, was Bloemfontein.
Maar, natuurlik, wat “hulle” eintlik bedoel, is dat ʼn Blank is, en my voorouers, lank terug, van Europa na die Kaap gekom het, en dat ek moet teruggaan Europa toe. Mbkei verwys daarna as “kolonialisme van ʼn spesiale soort.”
Ironies genoeg word selfs hierdie beginsel toegepas op ʼn wyse, binne ʼn ideologiese raamwerk, wat die woordvoerder pas. Afrika is ʼn groot vasteland, en nie alle Afrikane is, in terme van ras, noodwensdig Swart nie, en spesifiek nie die tradisionele “Swart stamme” nie. In Noord-Afrika is meeste van die bevolking, miljoene mense, in terme van ras, van Arabiese afkoms. Die mense wat my voorsate aan die Kaap aangetref het, toe hulle hier voet-aan-wal gesit het, die “eerste mense”, was die Khoi en die San. My voorouers het min of meer op dieselfde tydperk noordwaarts verhuis, toe die voorwaardes van diegene wat my wil terugstuur Europa toe, suidwaarts gemigreer het.
Wat is die argument? Sou dit dan beteken dat immigrante uit Somalië wat na Europa geïmmigreer het, nou Britte van ʼn spesiale soort, of Franse van ʼn spesiale soort” is? Sou dit dan beteken dat hierdie immigrante moet teruggaan waar hulle vandaan kom, naamlik Somalië, of ander Afrika lande?
Die argument impliseer meer as dit. Dit beteken dat ʼn persoon van Afrika-afkoms wat die vierde, vyfde of sesde generasie Europeër is, nou moet oppak en teruggaan na sy-of haar land van herkoms. Rishi Sunak sou nie Britse Eerste Minister kon word nie, maar sou moes teruggaan Indië toe. Kemi Badenoch sou moes oppak en teruggaan Nigerië toe.
Die probleem is die Wokeness kultuur in die Westerse wêreld; die “Critical Race Theory”. Afrika is vir Afrikane; die Westerse wêreld moet spesiale voorsiening maak vir persone van Afrika-afkoms ten einde op te maak vir kolonialisme. Die verset in die Westerse wêreld teen hierdie ideologie het oor baie jare opgebou. Totdat Trump gekom, en dit stopgesit het. Maar die weerstand is enorme; Westerse lande met liberale, linksgesonde regerings, soos Australië, Kanada en Brittanje, hou vol van die wokeness kultuur en programme. In Europa is die reggesinde groeperinge besig om vinnig veld te wen, wat beteken dat daar binnekort ʼn einde gemaak sal word aan hierdie vernietigende ideologie.
Maar dan, aan die anderkant, is al hierdie lande demokrasieë, en siklusse kom-en-gaan. Die Demokrate sal weer aan bewind kom in Amerika. Die vraag is of hierdie kulturele verandering standhoudende is, of sal verander soos regerings in die onderskeie Westerse lande verander?
Punt is dit: In Suid-Afrika gaan dit nie verander nie. Om die waarheid te sê, hoe meer die Westerse wêreld se verset teen wokeness gaan toeneem, hoe meer gaan die vasberadenheid in Suid-Afrika om transformasie deur te forseer, verinnig en versterk.
Ek weet, ek is bewys daarvan, dat onlangse men8ingsopanems aantoon dat die meerheid Suid-Afrikaners gekant is teen regstellende aksie in die werksplek. Dit is, ongetwyfeld, omdat die effektiwiteit van sowel openbare – as privaat ondernemings tot so ʼn mate afgeneem het, as gevolg van sogenaamde “regstelling”, dat mense swaarkry (“suffer”) as gevolg daarvan.
Maar transformasie is geïnstitusionaliseer in die Suid-Afrikaanse stelsel van regering – en administrasie; in die land se totale staat – en regeringsregime. Die “kultuur van doen” in die land is een van voorkeur gee aan bevoordeelde groepe, soos geïdentifiseer deur wetgewing soos die Swart Ekonomiese Ontwikkelingswet en die Wet op Gelyke Indiensneming.
Die ding is dat die DA geen verskil hieraan gaan maak nie. Sedert hulle toetrede tot die Regering van Nasionale Eenheid, het ons die ware DA leer ken. Dit gaan oor posisies en mag. Die DA se alternatief vir Swart Ekonomiese Bemagtiging sal, indien dit geïmplementeer word, op die einde van die dag ook maar toegepas word op ʼn rasse-grondslag, met die verskoning dat die meerderheid mense wat kwalifiseer, uit die Swart gemeenskappe kom.
Maar nie eens dit sal gebeur nie. Die ANC, en alle politieke alliansies wat hulle moontlik kan vervang, insluitend die MKP en EFF, is ten gunste van Swart Ekonomiese Bemagtiging soos dit tans toegepas word. Dit het niks te doen moet kommer oor “die mense” nie, maar oor die sistemies geleenthede wat dit bied vir selfverryking en nepotisme.
Dit is belaglik om vas te klou aan die geloof dat dit ʼn klein groepie “andersdenkende” fundamentaliste is wat glo dat Suid-Afrika behoort aan Afrikane. Julius Malema en sy ondersteuners is nie “andersdenkend” as hy dit reguit sê nie; hy is bloot ʼn spreekbuis van iemand wat uit die geledere van die ANC gewerp is, en nou vrymoedigheid het om uiting te gee aan wat die meerderheid ANC lede in elk geval glo. Dieselfde met Jacob Zuma en sy ondersteuners.
Die punt is dit: Suid-Afrika is die enigste tuiste wat ek ken. Behalwe dat ek nie wil gaan nie, wil geen Europese land my in elk geval hê nie (ek is te konserwatief vir die heersende narratiewe van sosialisme, humanisme en sekulêrialsme wat die hoofstroom kultuur in hierdie lande verteenwoordig). Maar in Suid-Afrika aan die diskriminasie, kulturele en ekonomiese marginalisering nie beëindig word nie (nie in my leeftyd, of die van die volgende twee geslagte nie), dit gaan net vererger.
Watter persoon in Suid-Afrika, ongeag ras, is nie op een of ander wyse ʼn “kolonialis” nie, in terme van militêre veldslagte in die geskiedenis wat daartoe gelei het dat een dominante groep ʼn ander uitgedryf en grond in beslag geneem het nie? Ek kan nie as 'n "kolonis" hanteer word in die engiste land wat moontlik my tuiste kan wees nie, maar as 'n gelyke landsburger.
Op een of ander wyse moet ek en my mense in staat gestel word om ʼn lewe te maak in Afrika op ʼn mensewaardige wyse, sonder diskriminasie en die status van “kolonis van ʼn spesiale soort”.
Ons is te min om deur “gewone” politieke kanale hierdie omstandighede van onderrukking te beëindig. Dit sal deur nie-politieke wyses nagestreef en bereik moet word; insluitend om die hulp in te roep van wêreldmoondheid wat verstaan en simpatie betoon.
Image source: 123RF









Comments