Die Markte is die Vyand
- Frans Minnaar

- 10 hours ago
- 3 min read
Ek luister met verstomming na die argumente van magte aan die linkerkant van die Suid-Afrikaanse politiek oor die potensiële impak van ʼn regering van nasionale eenheid op “markte.”
Van die argumente wat ek gehoor het, is dat dit afhang van wat met “markte” bedoel word; dat daar baie tipes markte is, soos die geldmarkte, die eiendomsmark en vele meer, en dat die implikasies van ʼn “linksgesinde” regering nie dieselfde impak op alle tipes markte sal hê nie. ʼn Ander argument, verwant aan bogenoemde, is dat Suid-Afrika geweldig ryk is aan natuurlike hulpbronne, soos goud, steenkool en ystererts, en dat die buitelandse “markte” hierdie produkte nodig het vir hulle eie doeleindes (en daarom nie kan “bekostig” om Suid-Afrikaanse kommoditeitsmarkte te “straf” oor die samestelling van die regering nie).
Dan is daar die argumente van die kommuniste, naamlik dat die “markte” niks anders is nie as ʼn klomp veragtelike kapitaliste wat die arm mense van Suid-Afrika opsetlik onderdruk en armoedig wil hou nie. Die geïmpliseerde argument is dan dat ʼn kommunistiese bestel Utopia sal bring; vry van armoede en (veral) ongelykhede.
Nog ʼn argument is dat Suid-Afrika nie afhanklik is van Westerse beleggers nie, want, in die snel- transformerende globale werklikheid, is die Ooste (en dan spesifiek Sjina) vinnig besig om die dominasie van die Weste ooswaarts te verplaas.
Ek moet sê, sommige van hierdie “analiste” kan werklik mooiklinkende groot woorde gebruik in hulle argumente. Dit is werklik indrukwekkend as jy daarna luister. Daar is ʼn vaste, onwrikbare geloof in die geledere van linkse politieke groeperinge dat Suid-Afrika eintlik ʼn ryk land is, en dat daar inderwaarheid baie geld in die land is, maar dat die geld deur kapitaliste gemonopoliseer word, en nie gedeel word om armoede te verminder nie.
Wel, ek gaan my nie probeer slim hou nie. Ek is nie ʼn kenner van finansiële markte nie. Maar ek weet wel, sonder enige twyfel, dat:
Suid-Afrika nie ʼn ryk land is nie, en dat daar nie opgepotte vragte van geld is wat iewers weggesteek word, en net wag om op die armes spandeer te word nie. Die land spandeer as reeds veel meer as wat dit eintlik, in der waarheid, beskikbaar het aan maatskaplike bemagtigingsprojekte.
Tweedes weet ek verseker dat beleggers, binneland en buiteland, nie geld in Suid-Afrika sal belê as die politieke en ekonomiese stelsel in die land hulle eiendomsreg, hulle bates, hulle geld of hulle geleentheid om maksimale opbrengs op beleggings te kry, bedreig word nie.
Derdens weet ek sonder twyfel dat beleggers nie in kommunistiese lande belê nie. Om die waarheid te sê, hulle vlug van sulke lande – met hulle beleggings en bates.
Vierdens is dit inderdaad waar dat die ekonomiese swaartekrag van die wêreld besig is om ooswaarts te verskuif. Maar vir hierdie proses om so ver te vorder dat die Ooste Westerse beleggers se belang in die globale ekonomiese stelsel te vervang, sal minstens nog vyftig jaar neem. Al Suid-Afrika se vernaamste swaargewig beleggers is van die Weste. Verder, wys vir my enige voorbeeld in die wêreld waar Sjinese (of enige Oosterse beleggers) ʼn ekonomie “gered” het waar Westerse beleggers ontrek het. Ek kan nie aan een dink nie. En dan ook: Sjina mag polities 'n kommunistiese land wees, maar ekonomies is dit 'n sosiaal kapitalistiese bestel. Nie eens Sjinese beleggers sal belê in 'n land waar hulle hulle beleggings kan verloor nie.
Kom ons kyk oop-oë na die werklikheid: Ek kan vele voorbeelde opnoem van ekonomieë wat in dui gestort het toe Westerse beleggers ontrek het. My onlangse voorbeelde is Venezuela, Kuba, Zimbabwe, Argentinië en dan, natuurlik, julle gunsteling imperialitiese regime: Rusland. Sal enigeen uit die linkse filosofie asseblief “julle” voorbeelde vir my opnoem?
Ag, kyk man, gebruik maar al die mooi woorde wat jy wil; as die EFF of die MKP ooit betekenisvolle seggenskap in die ekonomie van hierdie land sou verkry, sal dit hele spulletjie soos ʼn kaarthuisie in duie stort. Nie dat die ANC veel beter nie, maar minstens sukkel-sukkel die land darem nog aan.
Prentjiebron: 123RF



Comments